ROMEINE 3:10-26

ROMEINE 3:10-26 Bybel vir almal (ABA)

In die Ou Testament is daar geskryf: Niemand doen reg nie, nie een nie. Niemand is verstandig nie, niemand vra wat God wil hê nie. Niemand doen wat God wil hê nie, almal doen verkeerde dinge, nie een mens doen goed nie, niemand nie. Hulle sê dinge wat baie sleg is, hulle praat en dan bedrieg hulle ander mense, hulle woorde is so sleg soos die gif van slange. Hulle hou daarvan om mense te vervloek en om slegte dinge te sê. Hulle hou daarvan om mense dood te maak. Hulle breek alles en hulle maak mense baie seer. Hulle hou nie van vrede nie. Hulle respekteer nie vir God nie. Ons weet dat almal wat God se wette ken, moet doen wat die wette sê. Daarom kan niemand sê hy is onskuldig nie. Ja, God moet al die mense in die wêreld straf, want Hy sal niemand vryspreek omdat hy doen wat die wette sê nie. Die wette wys vir ons wat sonde is, die wette wys niks meer nie. Maar nou het God vir ons kom wys dat Hy mense vryspreek, maar nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. Ons lees daarvan in die Wette van Moses en in die boeke van die profete. God spreek mense vry omdat hulle in Jesus Christus glo. Ja, God spreek almal vry wat glo, dit maak nie saak wie hulle is nie. Want al die mense het sonde gedoen en hulle lewe nie soos God, die Koning, wil hê hulle moet lewe nie, maar God spreek hulle vry omdat Hy baie goed is vir hulle, omdat Christus Jesus hulle vrygemaak het. God het vir Christus laat sterf. Dit is die offer waarmee God die sonde versoen van die mense wat in Christus glo. So het God gewys dat Hy altyd doen wat reg is. Die mense het sonde gedoen in die tyd voordat Christus gekom het, maar God het hulle nie gestraf nie. Hy het die mense nie gou gestraf nie, Hy het gewag tot nou toe om te wys dat Hy mense vryspreek. So wys Hy dat Hy altyd doen wat reg is, Hy wat elke mens vryspreek wat in Jesus glo.

ROMEINE 3:10-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is 'n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. MAAR nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God — om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.

ROMEINE 3:10-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. “Hulle keel is 'n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat 'n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie. ” Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is. Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

ROMEINE 3:10-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

soos daar geskryf staan: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” “Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge bedrieg hulle; die gif van adders is op hulle lippe. ” “Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is op hulle paaie, en 'n pad van vrede ken hulle nie.” “In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.” Ons weet dat alles wat die wet sê, gerig is aan diegene wat onder die wet staan, sodat elke mond die swye opgelê kan word, en die hele wêreld hulle voor God moet verantwoord. Daarom sal geen mens op grond van die uitvoering van die wet voor Hom geregverdig word nie, want juis deur die wet ken ons die sonde. Maar nou word die geregtigheid van God, waarvan die Wet en die Profete getuig, sonder die wet bekend gemaak. Hierdie geregtigheid gee God deur die geloof in Jesus •Christus aan almal wat glo. Want daar is geen onderskeid nie: Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. God het Hom, deur sy bloed, daargestel as versoeningsoffer wat deur die geloof verkry word, as bewys van sy geregtigheid; want so het Hy in sy verdraagsaamheid die sondes wat voorheen gedoen is, oorgesien. Hy het sy geregtigheid in die huidige tyd bewys om so regverdig te wees en dié wat in Jesus glo, regverdig te verklaar.

ROMEINE 3:10-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, ook nie een nie; Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat na God soek nie. Hulle het almal uit die pad gegaan, saam het hulle nutteloos geword; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie. Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge het hulle bedrog gebruik; die gif van adders is onder hulle lippe: Wie se mond vol vloek en bitterheid is: Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle weë: En die weg van vrede het hulle nie geken nie: Daar is geen vrees vir God voor hulle oë nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop kan word en die hele wêreld skuldig kan word voor God. Daarom sal uit die werke van die wet geen vlees voor sy oë geregverdig word nie, want uit die wet is die kennis van sonde. Maar nou word die geregtigheid van God sonder die wet geopenbaar, terwyl die wet en die profete daarvan getuig; Selfs die geregtigheid van God wat deur die geloof in Jesus Christus is vir almal en oor almal wat glo; want daar is geen verskil nie. Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God; om sonder verdienste geregverdig te word uit sy genade deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Wie God voorgehou het om 'n versoening te wees deur geloof in sy bloed, om sy geregtigheid te verkondig tot vergewing van sondes wat verby is, deur die verdraagsaamheid van God; Om in hierdie tyd sy geregtigheid te verkondig, sê ek, sodat hy regverdig kan wees en regverdiger kan wees van hom wat in Jesus glo.

ROMEINE 3:10-26 Die Boodskap (DB)

Die Bybel stel dit baie duidelik: “Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie, niemand probeer om volgens God se wil te leef nie. Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ’n enkele een nie. Hulle kele is ’n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs. Hulle kan nie voorbly om mekaar dood te maak nie. Agter hulle lê ’n spoor van vernietiging en ellende. Hulle weet nie wat dit beteken om in vrede met ander mense te leef nie. Hulle het geen eerbied vir God nie.” Ons weet dat alles wat Moses in die wet gesê het, spesifiek vir mense bedoel is wat onder die gesag van die wet staan. Daarom moet ons stilbly en ophou om so maklik die vinger na ander te wys. Ons almal staan skuldig voor God. Ons wat Jode is moenie dink dat God ons sal vryspreek as ons sy wet probeer gehoorsaam nie. Al wat die wet kan doen, is om vir ons te wys wat sonde is, maar dit help ons glad nie om op te hou verkeerde dinge doen nie. Ek het nou baie goeie nuus vir julle: dit waarvan die Bybel praat, naamlik dat God mense sal vryspreek van hulle sondes, selfs al doen hulle nie stiptelik alles wat die wet van God sê nie, het uiteindelik waar geword. Mense wat in Jesus Christus glo, word nou deur God van hulle sondes vrygespreek. Dit geld vir elkeen wat glo. Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie. Ten spyte daarvan het Hy besluit om ons vry te spreek. Daarom het Hy Jesus Christus gestuur om ons te kom verlos. God doen dit omdat Hy baie vir ons omgee, nie omdat ons so goed leef nie. God het Jesus soos ’n offerlam laat slag vir al ons sondes. As ons in Hom glo, tel ons verkeerde dade glad nie meer nie. God was ’n lang tyd geduldig met ons oor al ons sondes. Hy het ons nie links en regs daarvoor gestraf nie. Maar omdat God regverdig is en dit die een of ander tyd moet straf, het Hy besluit om ons sondes op Jesus Christus te laat neerkom. Daarom kan Hy nou elkeen vryspreek wat in Christus glo.

ROMEINE 3:10-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit is soos die Skrif sê: “Niemand is goed nie – selfs nie een nie. Daar is nie een wat verstandig is nie; niemand wat ernstig na God soek nie. Almal het hulle rug op God gekeer; almal het sleg geword. Daar is niemand wat die goeie doen nie – selfs nie een nie.” “Hulle keel is soos ’n geopende graf. Met hulle tonge pleeg hulle bedrog.” “Die gif van dodelike slange drup van hulle lippe.” “Hulle monde is vol vervloeking en bitterheid.” “Hulle is haastig om moord te pleeg. Oral waar hulle gaan, laat hulle verwoesting en ellende agter. Hulle weet nie waar ware vrede lê nie.” “Eerbied vir God speel by hulle geen rol nie.” Ons weet dat die wet van toepassing is op almal wat onder die wet is. Daarom kan niemand van ons ons verweer nie en is die hele wêreld skuldig voor God. Niemand sal dus op grond van wetsgehoorsaming voor God vrygespreek kan word nie. Hoe beter ons die wet van God leer ken, hoe duideliker blyk ons sonde. Maar nou het God vir ons ’n ander weg bekendgemaak waardeur ons sy vryspraak kan verkry – nie deur wetsgehoorsaming nie, maar langs die weg waarvan die Skrif al lankal getuig: God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo. Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom. Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. Want God het Hom gestuur as ’n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo. Op hierdie manier het Hy duidelik aangetoon wat sy vryspraak behels: Aan die een kant het Hy die sondes vergewe wat vroeër in die tyd van sy verdraagsaamheid begaan is; aan die ander kant het Hy ook duidelik aangetoon wat sy vryspraak nóú behels. Op hierdie manier blyk dit dat Hy nie net regverdig is nie, maar terselfdertyd ook elkeen regverdig verklaar wat in Jesus glo.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid