Romeine 3:10-26

Romeine 3:10-26 AFR20

soos daar geskryf staan: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” “Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge bedrieg hulle; die gif van adders is op hulle lippe. ” “Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is op hulle paaie, en 'n pad van vrede ken hulle nie.” “In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.” Ons weet dat alles wat die wet sê, gerig is aan diegene wat onder die wet staan, sodat elke mond die swye opgelê kan word, en die hele wêreld hulle voor God moet verantwoord. Daarom sal geen mens op grond van die uitvoering van die wet voor Hom geregverdig word nie, want juis deur die wet ken ons die sonde. Maar nou word die geregtigheid van God, waarvan die Wet en die Profete getuig, sonder die wet bekend gemaak. Hierdie geregtigheid gee God deur die geloof in Jesus •Christus aan almal wat glo. Want daar is geen onderskeid nie: Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. God het Hom, deur sy bloed, daargestel as versoeningsoffer wat deur die geloof verkry word, as bewys van sy geregtigheid; want so het Hy in sy verdraagsaamheid die sondes wat voorheen gedoen is, oorgesien. Hy het sy geregtigheid in die huidige tyd bewys om so regverdig te wees en dié wat in Jesus glo, regverdig te verklaar.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid