ROMEINE 13:1-14
ROMEINE 13:1-14 Bybel vir almal (ABA)
Elke mens moet gehoorsaam wees aan die regering wat oor hom regeer, want God het elke regering gekies en aangestel. Elke regering kom van God. Wanneer iemand ongehoorsaam is aan die regering, dan is hy ongehoorsaam aan die regering vir wie God gekies en aangestel het. En God sal almal straf wat ongehoorsaam is aan die regering. Wanneer iemand goeie dinge doen, dan kan hy weet hy moenie bang wees vir die regering nie, maar wanneer hy slegte dinge doen, dan moet hy bang wees. As jy nie bang wil wees vir die regering nie, dan moet jy goeie dinge doen. Dan sal die regering jou prys. Die regering werk vir God, en dit is goed vir jou. Wanneer jy slegte dinge doen, dan moet jy bang wees vir die regering, want dan moet die regering jou straf. Die regering werk vir God en die regering moet almal straf wat slegte dinge doen. Daarom moet jy gehoorsaam wees aan die regering. Jy moet gehoorsaam wees omdat jy bang is dat die regering jou sal straf, maar jy moet ook gehoorsaam wees omdat jy self weet dit is die regte ding om te doen. Julle betaal belasting, want die regering werk vir God en hulle moet belasting bymekaarmaak. Julle moet vir die regering alles doen wat julle vir hulle moet doen. Wanneer julle belasting moet betaal, dan moet julle dit betaal. Wanneer julle tol moet betaal, dan moet julle dit betaal. Julle moet bang wees vir almal vir wie julle bang moet wees, julle moet almal respekteer vir wie julle moet respekteer. Julle moenie vir mekaar iets skuld nie, maar julle moet lief wees vir mekaar, want wanneer julle lief is vir ander mense, dan doen julle alles wat God se wette vra. Al die wette, “ Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie iemand vermoor nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie” en ook al die ander wette, beteken “ Jy moet lief wees vir jou naaste, so lief soos jy vir jouself is.” As jy lief is vir jou naaste, dan sal jy nooit slegte dinge aan hom doen nie. Daarom, as jy lief is vir jou naaste, dan doen jy alles wat die wette vra. Julle weet die belangrike tyd is naby, die tyd wanneer Christus weer kom. Julle moet gereed wees, julle moenie wees soos mense wat slaap nie. Want die tyd wanneer Christus sal kom om ons te red, is nou nader as toe ons in Hom begin glo het. Mense weet dat dit lig word wanneer die nag verby is. So weet ons ook dat ons nie meer lank sal wag nie, dan sal Christus kom. Daarom moet ons nie mense van die nag wees nie, ons moenie slegte dinge doen nie. Ons moet mense van die lig wees, ons moet goeie dinge doen. Ons moet reg lewe soos mense van die lig, ons moenie te veel eet nie en ons moenie dronk word nie, ons moenie onsedelik lewe en net doen wat ons wil doen nie, ons moenie aanhou stry en jaloers wees nie. Julle behoort aan die Here Jesus Christus, daarom moet julle weet Hy is nou baie naby aan julle, so naby soos die klere wat julle aantrek. Julle moenie die slegte dinge doen wat mense graag wil doen nie, nooit nie.
ROMEINE 13:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is 'n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom. WEES aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul. Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet. En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.
ROMEINE 13:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry. 'n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, want die owerheid is 'n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf. Daarom moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit 'n gewetensaak is. Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is. Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.
ROMEINE 13:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal 'n oordeel oor hulleself bring. Die owerhede boesem immers nie vrees in as dit kom by goeie optrede nie, maar wel by slegte optrede. Wil jy sonder vrees vir die owerheid leef? Doen dan die goeie, en jy sal lof van die owerheid ontvang. Want die owerheid is 'n dienaar van God, tot jou beswil. Maar as jy die kwade doen, moet jy bang wees. Die owerheid dra nie verniet die swaard nie. Hy is immers 'n dienaar van God, aangestel om die kwaaddoener te straf. Dit is dus noodsaaklik om onderdanig te wees, nie net uit vrees vir die straf nie, maar ook ter wille van jou gewete. Daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat hulle juis hiermee bemoei. Betaal aan almal wat hulle toekom: belasting aan wie belasting, tolgeld aan wie tolgeld, ontsag aan wie ontsag, eer aan wie eer toekom. Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe die verpligting om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, het die wet vervul. Want dit, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod ook al, word saamgevat in hierdie uitspraak: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet. Boonop ken julle die bestemde tyd – dat die uur reeds daar is om uit die slaap wakker te word – ja, ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het. Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag. Kom ons doen dan afstand van die praktyke van die duisternis en trek die wapenrusting van die lig aan. Kom ons leef betaamlik, soos in die dag – nie met gefuif en dronkenskap nie, nie met ontug en losbandigheid nie, nie met rusie en afguns nie. Beklee julle egter met die Here Jesus •Christus; en maak nie voorsiening vir julle sondige aard om sy drange te bevredig nie.
ROMEINE 13:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat elke siel onderworpe wees aan die hoër magte. Want daar is geen krag behalwe van God nie: die kragte wat daar is, is deur God verordineer. Elkeen dan wat die krag weerstaan, weerstaan die verordening van God; Want regeerders is nie 'n skrik vir goeie werke nie, maar vir die bose. Sal jy dan nie bang wees vir die krag nie? doen wat goed is, en jy sal lof daarvan hê. Want hy is die dienaar van God vir jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, wees bevrees; want hy dra die swaard nie tevergeefs nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wraakgierige om toorn uit te oefen teen hom wat kwaad doen. Daarom moet julle onderdanig wees, nie net ter wille van die toorn nie, maar ook ter wille van die gewete. Want daarom betaal julle ook belasting, want hulle is dienaars van God wat gedurig hieraan aandag gee. Betaal dan aan al hulle skuld: belasting aan wie belasting verskuldig is; gewoonte aan wie gewoonte; vrees vir wie vrees; eer aan wie eer. Wees niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê, want wie 'n ander liefhet, het die wet vervul. Daarom: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie; en as daar enige ander gebod is, word dit kortliks in hierdie gesegde verstaan, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen sy naaste geen kwaad nie; daarom is liefde die vervulling van die wet. En dit, omdat ons die tyd ken, dat dit nou hoog tyd is om uit die slaap wakker te word, want nou is ons verlossing nader as toe ons geglo het. Die nag is verby, die dag is naby; laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapenrusting van die lig aantrek. Laat ons eerlik wandel soos in die dag; nie in oproer en dronkenskap, nie in kamer en losbandigheid nie, nie in twis en afguns nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsiening vir die vlees om sy begeerlikhede te vervul nie.
ROMEINE 13:1-14 Die Boodskap (DB)
Wees ’n goeie landsburger. Gehoorsaam die owerhede wat oor jou aangestel is. Onthou: hulle ontvang hulle gesag van God af, van Hom wat oor al die mag beskik. As jy nie na die owerhede luister nie, verset jy jou eintlik teen God self. Dan wag daar groot probleme op jou. ’n Mens hoef natuurlik nie vir die owerhede bang te wees as jy hulle wette gehoorsaam nie. As jy egter ’n wetsoortreder is, het jy rede om benoud te wees. Terloops, dit is baie maklik om op goeie voet met die owerhede te wees: kom net al jou verpligtings getrou na. Dan sal hulle selfs sê dat jy ’n voorbeeldige landsburger is. Ek sê weer: die owerhede staan in God se diens. Hy verwag van hulle om te sorg dat wet en orde gehandhaaf word. As jy ’n wetsgehoorsame burger is, kan jy maar ontspan. Maar as jy die wet oortree, gaan hulle jou swaar straf. God vereis immers van die owerhede om alle wetsoortreders vas te vat. Jy moet egter nie net na die owerhede luister omdat jy bang is dat jy gestraf sal word as jy verkeerd doen nie. Nee, jy moet ook na hulle luister omdat jy weet dat God dit van jou vra. Julle betaal belasting sodat daar goeie orde in die samelewing kan wees. Dit is die owerhede as dienaars van God se plig om hierdie belasting reg aan te wend. Betaal dus wat jy verskuldig is: belasting aan dié wat belasting vra, tolgeld aan dié wat dit vra, ontsag aan dié wat dit toekom, respek vir dié wat gerespekteer moet word, en eer vir dié wat geëer moet word. Betaal jou skuld! Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom. Al die voorskrifte in die wet - jy mag nie ’n seksuele verhouding met iemand buite jou huwelik hê nie; jy mag nie iemand anders vermoor nie; jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie; jy mag nie dinge begeer wat nie joune is nie, en al die ander voorskrifte - kan in een enkele sin saamgevat word: jy moet vir jou medemens net soveel omgee soos vir jouself. Sulke soort liefde benadeel nooit ander mense nie. Daarom, wanneer jy ander mense van harte liefhet, gehoorsaam jy die ganse wet. Julle moenie so vasgevang raak in julle besige lewens dat julle nie agterkom hoe laat dit al is nie. Kyk, die einde, die groot dag van die Here, is voor die deur. Trouens, dit is sommer al baie nader aan ons as toe ons tot bekering gekom het. Daarom moet ons wakker word. Die nag is verby; dit is al amper dag. Ons moet dadelik ophou met al ons sondes wat tot die donker hoort en begin leef soos mense van die dag wat God se wapens van die lig aanhet. Ons moet net doen wat God sê. Skandelike dinge soos uitspattighede en dronkpartytjies, seksuele losbandigheid en goddeloosheid, ’n bakleiery en jaloesie is nou heeltemal ontoelaatbaar. Staan dadelik op en trek die krag van die Here Jesus Christus as julle nuwe klere aan. Moet nooit enige plek vir sonde in julle lewens gee nie. Moet nooit swig voor versoekings nie.
ROMEINE 13:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle moet die owerheid gehoorsaam, want God het dit daar geplaas. Geen owerheid bestaan buite God se toedoen nie. Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset. Dié wat dít doen, bring ’n oordeel oor hulleself. Mense wat reg optree, hoef nie vir die owerhede bang te wees nie – die kwaaddoeners wel. As jy op goeie voet met die owerhede wil wees, handel dan volgens die wet en jy sal selfs van hulle lof ontvang! Die owerheid is immers ’n dienaar van God om jou beste belange te bevorder. Maar as jy jou met die verkeerde besig hou, sal jy vanselfsprekend benoud wees, want die owerheid besit nie verniet die mag om te straf nie. Die owerheid is immers ook hierin God se dienaar dat hy die straf aan die kwaaddoener moet voltrek. Om saam te vat: wees aan die regering gehoorsaam en wel om twee redes: nie net om straf te vermy nie, maar ook ter wille van ’n skoon gewete. Daarom moet julle ook julle belasting betaal. Hulle is immers dienaars van God wanneer hulle hulle taak getrou uitvoer. Kom dan julle verpligtings teenoor almal na: betaal belasting aan dié wat dit van julle vra, tolgeld en alle soortgelyke heffings aan dié wat dít van julle vereis; en respekteer en eer almal aan wie julle dit verskuldig is. Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet. Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes. Julle moet hierdie dinge doen omdat julle besef dat die tyd besig is om uit te loop. Dit is dringend tyd om wakker te word, want die tyd van ons finale verlossing is nou al weer ’n hele ent nader as toe ons gelowig geword het. Die nag is byna verby, die dag is so te sê hier. Kom ons trek daardie vuil sondeklere uit wat in die donker tuishoort, en ons trek die wapenrusting aan wat pas by ’n lewe in die lig. Ons moet ordentlik lewe sodat dit die toets van die daglig kan deurstaan. Ons moet nie betrokke wees by wilde en dronkwordpartytjies, by seksuele en losbandige uitspattigheid, of onenigheid of afgunstigheid nie. Nee, soos ’n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus “aantrek”, en nie ’n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie.