Wees ’n goeie landsburger. Gehoorsaam die owerhede wat oor jou aangestel is. Onthou: hulle ontvang hulle gesag van God af, van Hom wat oor al die mag beskik. As jy nie na die owerhede luister nie, verset jy jou eintlik teen God self. Dan wag daar groot probleme op jou. ’n Mens hoef natuurlik nie vir die owerhede bang te wees as jy hulle wette gehoorsaam nie. As jy egter ’n wetsoortreder is, het jy rede om benoud te wees. Terloops, dit is baie maklik om op goeie voet met die owerhede te wees: kom net al jou verpligtings getrou na. Dan sal hulle selfs sê dat jy ’n voorbeeldige landsburger is. Ek sê weer: die owerhede staan in God se diens. Hy verwag van hulle om te sorg dat wet en orde gehandhaaf word. As jy ’n wetsgehoorsame burger is, kan jy maar ontspan. Maar as jy die wet oortree, gaan hulle jou swaar straf. God vereis immers van die owerhede om alle wetsoortreders vas te vat. Jy moet egter nie net na die owerhede luister omdat jy bang is dat jy gestraf sal word as jy verkeerd doen nie. Nee, jy moet ook na hulle luister omdat jy weet dat God dit van jou vra. Julle betaal belasting sodat daar goeie orde in die samelewing kan wees. Dit is die owerhede as dienaars van God se plig om hierdie belasting reg aan te wend. Betaal dus wat jy verskuldig is: belasting aan dié wat belasting vra, tolgeld aan dié wat dit vra, ontsag aan dié wat dit toekom, respek vir dié wat gerespekteer moet word, en eer vir dié wat geëer moet word. Betaal jou skuld! Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom. Al die voorskrifte in die wet - jy mag nie ’n seksuele verhouding met iemand buite jou huwelik hê nie; jy mag nie iemand anders vermoor nie; jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie; jy mag nie dinge begeer wat nie joune is nie, en al die ander voorskrifte - kan in een enkele sin saamgevat word: jy moet vir jou medemens net soveel omgee soos vir jouself. Sulke soort liefde benadeel nooit ander mense nie. Daarom, wanneer jy ander mense van harte liefhet, gehoorsaam jy die ganse wet. Julle moenie so vasgevang raak in julle besige lewens dat julle nie agterkom hoe laat dit al is nie. Kyk, die einde, die groot dag van die Here, is voor die deur. Trouens, dit is sommer al baie nader aan ons as toe ons tot bekering gekom het. Daarom moet ons wakker word. Die nag is verby; dit is al amper dag. Ons moet dadelik ophou met al ons sondes wat tot die donker hoort en begin leef soos mense van die dag wat God se wapens van die lig aanhet. Ons moet net doen wat God sê. Skandelike dinge soos uitspattighede en dronkpartytjies, seksuele losbandigheid en goddeloosheid, ’n bakleiery en jaloesie is nou heeltemal ontoelaatbaar. Staan dadelik op en trek die krag van die Here Jesus Christus as julle nuwe klere aan. Moet nooit enige plek vir sonde in julle lewens gee nie. Moet nooit swig voor versoekings nie.
Lees Romeine 13
Deel
Vergelyk alle weergawes: Romeine 13:1-14
5 Days
This five-day reading plan focuses on the promises of Jesus and nature, and the character of God, regardless of who is president, prime minister, or monarch at any time.
21 Dae
Begin ’n transformerende 21 dae reis van vas en gebed om weer met God se hart en missie te belyn. Hierdie plan fokus op persoonlike vernuwing, familie-eenheid, kerkgroei en nasionale herlewing. Oordink jou rol as dissipel, versterk jou geloof en aanvaar God se roeping deur middel van daaglikse gebedspunte. Verenig om Sy wil te soek, vir ander in te tree en jou toe te wy aan Koninkrykswerk wat lewens verander.
25 Dae
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
16 Days
Considered one of the most theologically rich books of the New Testament, Romans is a treatise on the theology of salvation. Beginning with the hopelessness of our sin-filled state, Paul shows how God provides righteousness to His people through Jesus Christ. In Romans, we are reminded that justification does not come from status or moral achievement but from belief in the substitutionary death and glorious resurrection of Jesus Christ.
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's