ROMEINE 12:1-8

ROMEINE 12:1-8 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, God is baie goed vir julle. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moet vir God dien soos Hy wil hê julle moet Hom dien. Julle moet self offers wees vir Hom. Dit beteken: Julle moet reg lewe, julle moenie sonde doen nie, want julle behoort aan God. Julle moet goeie dinge doen, dinge waarvan God hou. Julle moenie wees soos die mense van hierdie wêreld nie. Julle moet vir God vra om julle te verander sodat julle die regte dinge sal dink. Dan sal julle dinge doen wat God wil hê julle moet doen, goeie dinge, dinge waarvan Hy hou, dinge wat heeltemal reg is. God was baie goed vir my. Daarom sê ek vir elkeen van julle: Jy moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie. Jy moet verstandig dink oor jouself en oor alles. Julle moet onthou dit is God wat vir julle elkeen sê hoe julle Hom moet dien. Ons is soos 'n mens se liggaam. 'n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele, en elke deel doen iets anders. Dit is dieselfde met ons. Ons is baie mense, maar ons behoort aan Christus en daarom is ons soos een liggaam, ons behoort almal aan mekaar. God het genadegawes vir ons gegee, maar God het nie dieselfde genadegawes vir ons almal gegee nie. As party van ons die boodskappe van God vir die ander gelowiges kan bring, dan moet ons die regte boodskappe vir hulle bring. As party van ons die ander gelowiges kan dien, dan moet ons hulle dien. As party van ons vir die ander gelowiges kan leer, dan moet ons vir hulle leer. As party van ons vir die ander gelowiges kan help om reg te lewe, dan moet ons vir hulle help. As party van ons vir die ander gelowiges van ons eie goed en geld kan gee, dan moet ons baie gee. As party van ons leiers kan wees, dan moet ons hard werk om goeie leiers te wees. As party van ons goed kan wees vir mense wat swaarkry, dan moet dit vir ons lekker wees om dit te doen.

ROMEINE 12:1-8 Die Boodskap (DB)

Ek wil nou ’n baie ernstige versoek tot julle rig. Ek doen dit omdat julle begryp hoe baie God vir julle omgee. Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se hand wees. ’n Lewe wat voltyds afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan. Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee. Weet julle, God is baie goed vir my. Hy het my as sy apostel aangestel om sy wil bekend te maak. Daarom kan ek vir julle almal sê dat julle nie te veel van julleself moet dink nie. Nee, wees nederig. Onthou dat julle geloof ’n geskenk uit God se hand is. Wees dankbaar vir die geloof wat julle wel van Hom ontvang het. En hou op om julle met ander te vergelyk. Ek wil dit met die beeld van ’n liggaam verduidelik. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons as kerk is ook soos ’n liggaam. Ons is Christus se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies. Om ons te help om hierdie funksies te vervul het God vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee. Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie. God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het. As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit. Maak sy wil bekend in die geloof wat jy daarmee saam uit God se hand ontvang het. As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe. As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan, doen net dit. As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit. As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie. As dit God se geskenk aan jou is dat jy een van die leiers in die kerk moet wees, doen dit met toewyding. En as jy oor die gawe beskik om mense te help wat in nood verkeer, doen dit met blydskap.

ROMEINE 12:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is. Namens Hom wat my in sy genade tot sy apostel gemaak het, sê ek aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel volgens die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het. Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam omdat ons aan Christus verbind is, en as ledemate van hierdie één liggaam hoort ons saam en het ons mekaar nodig. Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. As God aan jou die gawe gegee het om te profeteer, moet jy dit aanwend in ooreenstemming met ons geloofsoortuigings. As dit is om ander te dien, doen dit met oorgawe. As jy onderrig gee, gee dan kwaliteitonderrig. As dit is om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe. As God aan jou leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met ’n vrolike hart.

ROMEINE 12:1-8

ROMEINE 12:1-8 AFR83ROMEINE 12:1-8 AFR83ROMEINE 12:1-8 AFR83ROMEINE 12:1-8 AFR83ROMEINE 12:1-8 AFR83