ROMEINE 12:1-6
ROMEINE 12:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, God is baie goed vir julle. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moet vir God dien soos Hy wil hê julle moet Hom dien. Julle moet self offers wees vir Hom. Dit beteken: Julle moet reg lewe, julle moenie sonde doen nie, want julle behoort aan God. Julle moet goeie dinge doen, dinge waarvan God hou. Julle moenie wees soos die mense van hierdie wêreld nie. Julle moet vir God vra om julle te verander sodat julle die regte dinge sal dink. Dan sal julle dinge doen wat God wil hê julle moet doen, goeie dinge, dinge waarvan Hy hou, dinge wat heeltemal reg is. God was baie goed vir my. Daarom sê ek vir elkeen van julle: Jy moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie. Jy moet verstandig dink oor jouself en oor alles. Julle moet onthou dit is God wat vir julle elkeen sê hoe julle Hom moet dien. Ons is soos 'n mens se liggaam. 'n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele, en elke deel doen iets anders. Dit is dieselfde met ons. Ons is baie mense, maar ons behoort aan Christus en daarom is ons soos een liggaam, ons behoort almal aan mekaar. God het genadegawes vir ons gegee, maar God het nie dieselfde genadegawes vir ons almal gegee nie. As party van ons die boodskappe van God vir die ander gelowiges kan bring, dan moet ons die regte boodskappe vir hulle bring.
ROMEINE 12:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat 'n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is
ROMEINE 12:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.
ROMEINE 12:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as 'n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is. Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, net so is ons, al is ons baie, een liggaam in •Christus, en individueel lede van mekaar. Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is: As dit die gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof
ROMEINE 12:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek smeek julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer, dit is julle redelike diens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, om nie van homself meer te dink as wat hy behoort te dink nie; maar om nugter te dink, soos God aan elkeen die maat van geloof gegee het. Want soos ons baie lede in een liggaam het, en al die lede nie dieselfde amp het nie: So is ons, wat baie is, een liggaam in Christus en elkeen lede van mekaar. Terwyl ons dan gawes het wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is, of dit nou profesie is, laat ons profeteer volgens die verhouding van geloof
ROMEINE 12:1-6 Die Boodskap (DB)
Ek wil nou ’n baie ernstige versoek tot julle rig. Ek doen dit omdat julle begryp hoe baie God vir julle omgee. Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se hand wees. ’n Lewe wat voltyds afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan. Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee. Weet julle, God is baie goed vir my. Hy het my as sy apostel aangestel om sy wil bekend te maak. Daarom kan ek vir julle almal sê dat julle nie te veel van julleself moet dink nie. Nee, wees nederig. Onthou dat julle geloof ’n geskenk uit God se hand is. Wees dankbaar vir die geloof wat julle wel van Hom ontvang het. En hou op om julle met ander te vergelyk. Ek wil dit met die beeld van ’n liggaam verduidelik. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons as kerk is ook soos ’n liggaam. Ons is Christus se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies. Om ons te help om hierdie funksies te vervul het God vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee. Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie. God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het. As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit. Maak sy wil bekend in die geloof wat jy daarmee saam uit God se hand ontvang het.
ROMEINE 12:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is. Namens Hom wat my in sy genade tot sy apostel gemaak het, sê ek aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel volgens die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het. Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam omdat ons aan Christus verbind is, en as ledemate van hierdie één liggaam hoort ons saam en het ons mekaar nodig. Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. As God aan jou die gawe gegee het om te profeteer, moet jy dit aanwend in ooreenstemming met ons geloofsoortuigings.