DIE OPENBARING 4:9-11
DIE OPENBARING 4:9-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En telkens wanneer die lewende wesens heerlikheid en eer en dank bring aan Hom wat op die troon sit, aan Hom wat vir ewig en ewig leef, val die vier-en-twintig ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en ewig leef, en sit dan hulle krone voor die troon neer, terwyl hulle sê: “U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep.”
DIE OPENBARING 4:9-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, Hy wat vir altyd lewe, val die 24 ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir altyd lewe en sit hulle krone voor die troon neer en sê: “U is waardig, Here ons God, om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alle dinge geskape het; deur u wil is alles wat bestaan, geskape.”
DIE OPENBARING 4:9-11 Bybel vir almal (ABA)
Ja, die vier diere het die Persoon wat op die troon sit, geloof en geprys. Hulle het vir Hom dankie gesê, vir Hom wat altyd lewe. Elke maal wanneer hulle dit doen, dan het die 24 ouderlinge op die grond gaan lê voor die Persoon wat op die troon sit. Hulle het tot Hom gebid, tot Hom wat altyd lewe. Hulle het hulle krone voor sy troon neergesit en gesê: “Here, ons God, almal moet U eer en prys en sê hoe sterk U is! Ons wil U eer! Ons wil U prys! Ons wil sê hoe sterk U is! Want U het alles gemaak! Ja, U het so besluit, daarom is alles daar, U het alles gemaak!”
DIE OPENBARING 4:9-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier-en-twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.
DIE OPENBARING 4:9-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê: “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.”
DIE OPENBARING 4:9-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En wanneer daardie diere heerlikheid en eer en dank gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, Die vier-en-twintig ouderlinge val neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat vir ewig en altyd lewe, en hulle werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om heerlikheid en eer en krag te ontvang, want U het alles geskape, en na U welbehae is hulle en is hulle geskape.
DIE OPENBARING 4:9-11 Die Boodskap (DB)
Die vier lewende wesens maak geen geheim daarvan hoe groot God is nie. Hulle basuin oral uit hoe belangrik Hy is. Hy is daar en leef vir ewig en altyd. Hulle hou nie op om vir God wat op sy troon sit vir alles en nogmaals alles dankie te sê nie. Wanneer die 24 leiers van die kerk dit hoor, val hulle uit eerbied voor God neer wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en altyd leef. Hulle sit die krone voor God neer om te wys dat Hy die enigste werklike heerser is. Dan sê hulle in ’n koor: “Here, ons God, wie kan so belangrik wees soos U? Na U sien almal op; U is sterker as die sterkstes. En dit is ook reg so, want dit is hoe U is. Ja, U het alles gemaak. Alles in die skepping is daar omdat U dit so wou gehad het.”