DIE OPENBARING 15:1-4
DIE OPENBARING 15:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het ek 'n ander groot en wonderbaarlike teken in die hemel gesien. Ek het sewe engele gesien wat die sewe laaste plae bring. Daarmee het die toorn van God sy einde bereik. En ek het iets soos 'n spieëlgladde see met vuur daarin gesien. Die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld en die getal van sy naam, het by die spieëlgladde see gestaan met siters wat hulle van God gekry het. Hulle sing die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam: “Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies. Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en U aanbid, want hulle sal sien dat u handelwyse regverdig is.”
DIE OPENBARING 15:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Ek het toe 'n ander groot en wonderlike teken in die lug gesien: Daar was sewe engele wat God se straf gebring het, sewe strawwe. Dit is die sewe laaste strawwe. Wanneer die sewe strawwe klaar is, dan sal God nie weer die mense straf nie, Hy het hulle dan genoeg gestraf. Ek het iets gesien wat lyk soos 'n see vol glas en vuur. By die see het mense gestaan. Dit is die mense wat die dier en sy beeld en die nommer van sy naam oorwin het. Die mense het harpe gehad wat God vir hulle gegee het. Toe sing hulle die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam. Hulle het gesing: “Here God, Almagtige! Die dinge wat U doen, is groot en wonderlik! U doen altyd wat reg en waar is! U is die Koning van die volke! Here, almal sal U respekteer! Almal sal U eer! Want net U is heilig! Want al die volke sal kom en hulle sal U aanbid! Want almal kan sien U doen altyd wat reg is!”
DIE OPENBARING 15:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN ek het 'n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele met die sewe laaste plae, want daarmee is die grimmigheid van God voleindig. En ek het gesien iets soos 'n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God. En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.
DIE OPENBARING 15:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het ek in die hemel 'n ander groot en wonderbaarlike teken gesien, naamlik sewe engele met die sewe laaste plae, omdat die toorn van God daarmee tot 'n einde gekom het. Ek het ook iets gesien soos 'n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en sy beeld, en die getal van sy naam het by die see van glas gestaan, terwyl hulle die siters van God vashou. Hulle sing toe die lied van Moses, die dienskneg van God. Dit is ook die lied van die Lam, wat so lui: “Groots en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Regverdig en betroubaar is u paaie, o Koning van die nasies. Wie sal dan nie vir U ontsag hê nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en in aanbidding voor U neerval, want u regverdige dade is geopenbaar.”
DIE OPENBARING 15:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ek het 'n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik, sewe engele met die sewe laaste plae; want in hulle is die toorn van God vervul. En ek het gesien soos 'n see van glas gemeng met vuur; en die wat die oorwinning behaal het oor die dier en oor sy beeld en oor sy merk en oor die getal van sy naam, staan op die see van glas, met die siters van God. En hulle het die lied gesing van Moses, die kneg van God, en die lied van die Lam en gesê: Groot en wonderbaar is u werke, Here God, Almagtige! reg en waar is u weë, o Koning van die heiliges. Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid; want u oordele is geopenbaar.
DIE OPENBARING 15:1-4 Die Boodskap (DB)
Ek sien toe nog ’n ander teken in die hemel waaruit ons baie kan leer. Dit was ’n groot en asemrowende toneel. Ek het sewe engele gesien met sewe rampe. Dit is die laaste rampe wat die mense sal tref. Dit rond God se woede oor die sondes af. Ek sien toe iets wat lyk soos ’n see van glas wat in vuur brand met ’n klomp mense wat langs die see staan. In hulle hande was musiekinstrumente van God. Dit was al die mense wat enduit volgehou het in die stryd teen die dier en sy beeld en die kodenommer van sy naam en wat uiteindelik gewen het. Hulle het Moses se lied gesing. Moses het God mos gedien. Hierdie lied is ook die lied van die Lam: “Here God, die dinge wat U alles doen, is so groot dat dit ons asem heeltemal wegslaan. Here, U is die sterkste en kragtigste van almal! Wat U doen, is altyd reg en regverdig. U doen dinge soos dit hoort. U heers oor al die mense van die wêreld en hulle sal dit moet erken. “Here, wie sal U nie met groot agting en respek hanteer nie? Wie sal nie vir ander vertel hoe belangrik U regtig is nie? U en U alleen is soos U is: heilig. Al die mense sal na U toe stroom en U as God aanbid. Hulle kan nou sien dat wat U doen, regverdig is.”
DIE OPENBARING 15:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het toe ’n ander groot en uitsonderlike teken in die hemel gesien: sewe engele wat die sewe laaste plae hou waarmee God se toorn ten volle verwerklik was. Toe het ek iets soos ’n spieëlgladde see gemeng met vuur gesien. Die oorwinnaars oor die monster en sy standbeeld, en die getal van sy naam, het by die spieëlgladde see gestaan met die siters wat God aan hulle gegee het. Hulle sing die lied van Moses, die dienskneg van God. Dit is ook die lied van die Lam, wat só lui: “Groot en uitsonderlik is u dade, Here God, die Almagtige. Regverdig en betroubaar is u paaie, Koning van die nasies. Wie sal nie ontsag vir U hê nie, Here, en nie u Naam verheerlik nie? U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en voor U in aanbidding neerval, want u regverdige dade het sigbaar geword.”