PSALMS 76:1-12
PSALMS 76:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Vir die leier van die koor: Met snaarmusiek. 'n Psalm van Asaf. 'n Lied. Die mense van Juda ken vir God, die mense van Israel ken Hom. Jerusalem is God se woonplek, Sion is die plek waar Hy graag wil wees. Daar het Hy die vyande se brandpyle gebreek en ook hulle skilde en swaarde. Daar het Hy die oorlog laat ophou. Sela U het soos 'n koning teruggekom nadat U die vyande oorwin het op die berge. U het alles gevat wat die dapper manne van die vyand gehad het, hulle het gesterf, hulle kon nie veg nie. Toe die God van Jakob gepraat het, kon die soldate op perde en oorlogkarre niks doen nie. U, o God, almal is bang vir U. Wanneer U kwaad is, dan kan niemand voor U staan nie. Toe U uit die hemel praat en reg doen aan mense, het die mense op die aarde bang geword en stilgebly. Dit was toe God begin het om te oordeel en om al die mense op die aarde te red wat hulleself nie kan help nie. Sela Mense het kwaad geword vir U, maar ook húlle moes U prys, hulle moes vir U dien, almal wat kwaad was vir U. Julle moet vir julle God die Here die offers bring wat julle belowe het. Die mense rondom die tempel moet presente bring vir God. Hy is die God vir wie almal moet eer.
PSALMS 76:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VIR die musiekleier; met snaarinstrumente. 'n Psalm van Asaf. 'n Lied. God is bekend in Juda, sy Naam is groot in Israel. Ook het in Salem sy tent verrys en in Sion sy woning. Daar het Hy die blitspyle van die boog verbreek, skild en swaard en oorlog. Sela. Glansryk is U, heerlik van die roofberge af! Geplunder is die sterkes van hart; hulle het hul slaap gesluimer, en geeneen van die dapper manne het hulle hande gevind nie. Deur u dreiging, o God van Jakob, het strydwa en perd saam bedwelmd geraak. U, vreeslik is U, en wie kan voor u aangesig bestaan as u toorn uitgebreek het? Uit die hemel het U 'n oordeel laat hoor; die aarde het gevrees en stil geword, toe God opgestaan het vir die gerig, om al die ootmoediges van die land te verlos. Sela. Want die grimmigheid van die mens moet U loof; met die oorblyfsel van grimmighede gord U Uself. Doen geloftes en betaal dié aan die HERE julle God! Laat almal wat rondom Hom is, geskenke bring aan die Vreeslike
PSALMS 76:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir die koorleier: met snarespel. 'n Psalm van Asaf. 'n Lied. God het Hom in Juda bekend gemaak, sy Naam is groot in Israel; sy tuiste is in Salem, sy woning op Sion. Daar het Hy die brandpyle, die skild en die swaard vernietig, die aanval van die vyand afgeslaan. Sela Die glans waarmee U verskyn het, was skitterender as dié op die hoogste berge. Die dapper soldate van die vyand is in hulle slaap oorval en geplunder; nie een van die krygsmanne kon 'n hand oplig nie. Toe U ingegryp het, God van Jakob, was strydwa en perd daarmee heen. As u toorn ontbrand, laat U die mens sidder en beef. Wie kan dan voor U staan? Uit die hemel het U u uitspraak bekend gemaak. Die mensdom het bang geword en stilgebly toe God gekom het om te oordeel, om al die hulpeloses op die aarde te red. Sela Ook die woede van 'n mens dien u lof, selfs die laaste reste van die woede gebruik U in u diens. Bring aan die Here julle God die dankoffers wat julle belowe het! Almal rondom Hom moet geskenke bring vir die Ontsagwekkende
PSALMS 76:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Psalm. Van Asaf. 'n Lied. God is in Juda bekend, in Israel is sy Naam groot. In Salem was sy hut, sy skuilplek in Sion. Daar het Hy brandpyle uit die boog, skild en swaard en steekspies, stukkend gebreek. •Sela Stralend was U, magtiger as die berge wat die prooi moes wees. Dié met dapper harte het self die buit geword; hulle het die ewige slaap ingegaan. Nie een van die bekwame manne kon 'n hand lig nie. Vanweë u dreiging, o God van Jakob, het die bemanning van strydwaens en die perde in 'n beswyming geraak. U – ontsagwekkend is U! Wie kan voor U bly staan wanneer U toornig is? Uit die hemel het U die oordeel aangekondig. Die aarde het gevrees en stil geword toe God opstaan om die vonnis te vel, om al die verdruktes van die land te verlos. Sela Ja, die woede teen mense strek U tot lof; met die oorblyfsel van die woedebuie omgord U Uself. Lê geloftes af aan die HERE julle God, en kom dit na. Almal wat rondom Hom is, moet geskenke bring vir die Ontsagwekkende.
PSALMS 76:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In Juda is God bekend; sy Naam is groot in Israel. Ook in Salem is sy tabernakel en sy woonplek in Sion. Daar het hy die pyle van die boog, die skild en die swaard en die geveg verbreek. Sela. U is heerliker en voortrefliker as die roofberge. Die sterk van hart is geplunder, hulle het hul slaap geslaap, en geeneen van die manne van krag het hul hande gevind nie. By u teregwysing, o God van Jakob, word die strydwa sowel as die perd in 'n dooie slaap gewerp. Jy, ja, jy is te vrees, en wie sal in jou oë staan as jy eers toornig is? U het oordeel uit die hemel laat hoor; die aarde het gevrees en was stil, Toe God opgestaan het vir die oordeel, om al die sagmoediges van die aarde te red. Sela. Waarlik, die toorn van die mens sal U loof; Belofte en betaal aan die HERE julle God; Hy sal die gees van die vorste uitroei; verskriklik is hy vir die konings van die aarde.
PSALMS 76:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het Hom bekendgemaak in Juda; sy Naam is groot in Israel. Hy woon in Salem; Sionsberg is sy woning. Daar het Hy die brandpyle vernietig, skilde, swaarde en oorlogswapens. Sela Die glans van u verskyning is heerliker as die hoogste berge. Dapper soldate is geplunder, in hulle slaap oorweldig. Geen soldaat kon ’n hand oplig nie. Toe U hulle bestraf, o God van Jakob, het ruiter en perd dood neergeval. U moet gevrees word, ja, U! Wie kan voor U standhou wanneer u toorn ontbrand? Uit die hemel het U uitspraak gelewer; die wêreld was bang en stil. God het opgestaan om te oordeel, om die verdruktes op aarde te red. Sela Die woede van mense – dit verander U tot lof. Wat nog daarvan oorbly, gebruik U in u diens. Maak geloftes aan die HERE jou God, en voer dit uit. Laat almal rondom Hom geskenke bring aan Hom, die Ontsagwekkende.