PSALMS 76:1-12

PSALMS 76:1-12 NLV

God het Hom bekendgemaak in Juda; sy Naam is groot in Israel. Hy woon in Salem; Sionsberg is sy woning. Daar het Hy die brandpyle vernietig, skilde, swaarde en oorlogswapens. Sela Die glans van u verskyning is heerliker as die hoogste berge. Dapper soldate is geplunder, in hulle slaap oorweldig. Geen soldaat kon ’n hand oplig nie. Toe U hulle bestraf, o God van Jakob, het ruiter en perd dood neergeval. U moet gevrees word, ja, U! Wie kan voor U standhou wanneer u toorn ontbrand? Uit die hemel het U uitspraak gelewer; die wêreld was bang en stil. God het opgestaan om te oordeel, om die verdruktes op aarde te red. Sela Die woede van mense – dit verander U tot lof. Wat nog daarvan oorbly, gebruik U in u diens. Maak geloftes aan die HERE jou God, en voer dit uit. Laat almal rondom Hom geskenke bring aan Hom, die Ontsagwekkende.