PSALMS 72:12-14
PSALMS 72:12-14 Bybel vir almal (ABA)
Want die koning sal die arm mense red wat vra dat hy hulle moet help, die mense wat hulleself nie kan help nie en vir wie niemand wil help nie. Hy sal jammer wees vir die arm mense, die mense wat niks het nie, hy sal die lewens van die arm mense red. Hy sal hulle wegneem van die mense wat hulle seermaak en hulle laat swaarkry. Die arm mense se lewens is vir die koning kosbaar, niemand mag hulle doodmaak nie.
PSALMS 72:12-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
PSALMS 72:12-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy sal die arme red wat om hulp roep, die verdrukte en dié wat geen helper het nie; hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm, die lewens van die arm mense beskerm. Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry; hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë.
PSALMS 72:12-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
want hy sal behoeftiges wat om hulp roep, uitred, ook magteloses en mense wat nie helpers het nie. Hy sal deernis hê met hulpeloses en behoeftiges; die lewens van behoeftiges sal hy bevry. Van onderdrukking en geweld sal hy hulle lewe vrykoop. Hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
PSALMS 72:12-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want hy sal die behoeftige red as hy roep; ook die arme en hy wat geen helper het nie. Hy sal die armes en behoeftiges spaar en die siele van die behoeftige red. Hy sal hulle siel verlos van bedrog en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
PSALMS 72:12-14 Die Boodskap (DB)
Hy sal mense wat niks het nie en om hulp smeek, gee wat hulle nodig het. Hy sal mense in groot moeilikheid help as hulle niemand het wat hulle kan help nie. Hy sal die mense help wat swaarkry en deur ander sleg behandel word. Hy sal arm mense beskerm. Hy sal hulle beskerm van mense wat hulle onderdruk en sleg behandel, want almal is vir hom baie belangrik.