PSALMS 72:10-14
PSALMS 72:10-14 Bybel vir almal (ABA)
Konings van die land Tarsis en van die eilande moet vir hom presente bring, konings van die lande Skeba en Seba moet aan hom belasting betaal. Al die konings moet voor hom buig, al die volke moet vir hom werk. Want die koning sal die arm mense red wat vra dat hy hulle moet help, die mense wat hulleself nie kan help nie en vir wie niemand wil help nie. Hy sal jammer wees vir die arm mense, die mense wat niks het nie, hy sal die lewens van die arm mense red. Hy sal hulle wegneem van die mense wat hulle seermaak en hulle laat swaarkry. Die arm mense se lewens is vir die koning kosbaar, niemand mag hulle doodmaak nie.
PSALMS 72:10-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring. Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien. Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
PSALMS 72:10-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Mag die konings van Tarsis en die kuslande geskenke bring, die konings van Skeba en Seba aan hom belasting betaal. Mag alle konings voor hom buig en al die nasies hom dien. Hy sal die arme red wat om hulp roep, die verdrukte en dié wat geen helper het nie; hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm, die lewens van die arm mense beskerm. Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry; hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë.
PSALMS 72:10-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die konings van Tarsis en die eilande sal belasting betaal; die konings van Skeba en Seba sal skatplig lewer. Al die konings sal diep voor hom buig, al die nasies sal hom dien; want hy sal behoeftiges wat om hulp roep, uitred, ook magteloses en mense wat nie helpers het nie. Hy sal deernis hê met hulpeloses en behoeftiges; die lewens van behoeftiges sal hy bevry. Van onderdrukking en geweld sal hy hulle lewe vrykoop. Hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
PSALMS 72:10-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die konings van Tarsis en van die eilande moet geskenke bring; die konings van Skeba en Seba sal geskenke aanbied. Ja, al die konings sal voor hom neerval; al die nasies sal hom dien. Want hy sal die behoeftige red as hy roep; ook die arme en hy wat geen helper het nie. Hy sal die armes en behoeftiges spaar en die siele van die behoeftige red. Hy sal hulle siel verlos van bedrog en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
PSALMS 72:10-14 Die Boodskap (DB)
Mag die mense van oor die hele wêreld vir hom geskenke bring om te wys hoe belangrik hy is. Mag hulle almal aan hom belastings betaal. Mag alle regeerders en nasies voor hom neerbuig om hom te dien. Hy sal mense wat niks het nie en om hulp smeek, gee wat hulle nodig het. Hy sal mense in groot moeilikheid help as hulle niemand het wat hulle kan help nie. Hy sal die mense help wat swaarkry en deur ander sleg behandel word. Hy sal arm mense beskerm. Hy sal hulle beskerm van mense wat hulle onderdruk en sleg behandel, want almal is vir hom baie belangrik.
PSALMS 72:10-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mag die konings van Tarsis en die kuslande vir hom belasting betaal, die konings van Skeba en Seba vir hom geskenke bring. Mag al die konings voor hom buig, en al die nasies hom eer bewys. Ja, die armes wat roep, sal hy verlos, ook die verdrukte sonder helper. Hy het medelye met swakkes en behoeftiges, en red die lewe van behoeftiges. Uit onderdrukking en geweld sal hy hulle red, want hulle lewens is kosbaar vir hom.