PSALMS 72:1-7
PSALMS 72:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Van Salomo. O God, U moet vir die koning leer om reg te regeer en om reg te doen soos U. Ons bid dat hy reg sal regeer oor u volk, dat hy reg sal oordeel oor mense wat aan U behoort en wat hulleself nie kan help nie. Daar moet vrede wees en almal moet reg doen in die hele land, tot op die berge en die heuwels. Die koning moet reg doen aan die mense wat hulleself nie kan help nie, hy moet die arm mense red en hy moet die mense straf wat ander mense laat swaarkry. O God, die mense moet vir U dien so lank soos die son en die maan daar is, in hierdie geslag en in elke geslag daarna. Die koning moet vir sy mense wees soos reën op grond waar die gras kort is, soos swaar reën wat die aarde natmaak. Dit moet baie goed gaan met elkeen wat reg doen, daar moet vrede wees vir almal so lank soos die koning lewe, so lank soos die maan daar is.
PSALMS 72:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VAN Salomo. O God, gee aan die koning u regte en u geregtigheid aan die seun van die koning. Laat hy u volk oordeel met geregtigheid en u ellendiges met reg. Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid. Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel. Hulle sal u vrees solank as die son skyn en solank as die maan daar is, van geslag tot geslag. Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld, soos buie — 'n swaar reën op die aarde. In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie.
PSALMS 72:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Salomo. Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil, sodat hy regverdige beslissings oor u volk sal vel en aan die verdruktes reg laat geskied. Laat berge en rante hulle verbly oor die vrede en reg vir die volk. Laat die koning die reg van die verdruktes onder die volk beskerm, laat hy armes te hulp kom en verdrukkers verbrysel, sodat die mense U kan dien so lank as die son en die maan daar is, van geslag tot geslag. Mag die koning vir sy mense wees soos die reën vir die plante, soos swaar reëns wat die aarde deurdrenk. Mag die reg onder sy regering floreer en mag daar vir altyd groot voorspoed wees.
PSALMS 72:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Van Salomo. O God, gee u beslissings aan die koning, u geregtigheid aan die seun van die koning. Mag hy u volk met geregtigheid oordeel, u magteloses met billikheid. Mag die berge vrede bring vir die volk, en die heuwels geregtigheid. Hy sal die magteloses van die volk se regte handhaaf, die kinders van behoeftiges verlos, maar onderdrukkers verpletter. Hulle sal vir U ontsag hê solank die son en die maan nog daar is, vir geslagte lank. Mag die koning wees soos reën wat neerdaal op 'n gesnyde grasveld, soos reënbuie wat die aarde deurweek. In sy tyd sal regverdiges floreer, daar sal vrede in oorvloed wees tot die maan nie meer daar is nie.
PSALMS 72:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Gee aan die koning U oordele, o God, en U geregtigheid aan die seun van die koning. Hy sal jou volk oordeel met geregtigheid en jou armes met reg. Die berge sal vrede bring vir die volk, en die klein heuwels deur geregtigheid. Hy sal die armes van die volk oordeel, die kinders van die behoeftiges red en die verdrukker verbrysel. Hulle sal U vrees solank die son en die maan bestaan, van geslag tot geslag. Hy sal neerdaal soos reën op die gesnyde gras, soos buie wat die aarde natmaak. In sy dae sal die regverdige bloei; en oorvloed van vrede so lank as die maan is.
PSALMS 72:1-7 Die Boodskap (DB)
O God, leer die koning om te regeer soos U dit wil hê. Leer hom om reg op te tree soos U wil. Wys hom hoe om reg op te tree. Laat hy altyd mense wat swaarkry, regverdig behandel. Die berge en heuwels sal bly wees omdat daar vrede is, vrede omdat die koning doen wat reg is. Hy sal mense help wat hulp nodig het. Hy sal arm mense help. Maar mense wat ander sleg behandel, sal hy straf. Dan sal u kinders U altyd dien, so lank as wat daar ’n son en ’n maan is. Mag die koning vir sy mense soos lekker reën na ’n groot droogte wees wat die aarde deurdrenk. Mag sy mense voorspoedig wees terwyl hy regeer. Mag hy sy mense aanmoedig om te doen wat God van sy mense wil hê totdat die maan nie meer daar sal wees nie.
PSALMS 72:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
O God, skenk u geregtigheid aan die koning, en u regverdigheid aan die seun van die koning. Hy sal u volk regverdig oordeel en aan armes reg verskaf. Die berge sal voorspoed bring vir die volk, en die heuwels regverdigheid. Hy sal aan die verdruktes reg verskaf, die kinders van behoeftiges red, hulle verdrukkers verpletter. Mag hulle U dien so lank as wat die son skyn, en die maan daar is, geslag na geslag! Mag hy wees soos reën vir plante, soos reënbuie wat die aarde natmaak. Mag regverdiges floreer tydens sy bewind en voorspoed in oorvloed ontvang tot die maan nie meer daar is nie.