PSALMS 34:1-10
PSALMS 34:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Van Dawid. Toe hy by Abimelek was, het hy gemaak of hy mal is, en Abimelek het hom weggejaag. Ek sal die Here altyd prys, ek sal aanhou sing vir Hom. Ek sal vir almal sê wat die Here gedoen het. Die mense wat hulleself nie kan help nie, moet dit hoor en hulle moet bly wees. Julle moet saam met my sing en sê die Here is groot, julle moet almal saam sy Naam prys. Ek het vir die Here gevra wat met my sal gebeur, en Hy het my geantwoord. Ek was bang vir baie dinge, maar Hy het my van alles gered. Die mense wat hulleself nie kan help nie, wag dat Hy hulle moet help, hulle weet Hy sal help, en hulle is bly. Ek kan myself nie beskerm nie, ek het gebid, en die Here het gehoor. Hy het my gered van alles wat dit sleg laat gaan het met my. Die Engel van die Here beskerm die mense wat die Here dien en Hy red hulle. Julle moet self voel en sien dat die Here goed is. Dit gaan goed met die mens wat vra dat die Here hom moet beskerm. Julle wat aan die Here behoort, julle moet die Here dien, want die mense wat Hom dien, het altyd genoeg van alles.
PSALMS 34:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid, toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abiméleg en dié hom weggejaag het, sodat hy heengegaan het. Alef. Ek wil die HERE altyd loof; sy lof sal altyddeur in my mond wees. Bet. My siel sal hom beroem in die HERE; die ootmoediges sal dit hoor en bly wees. Gimel. Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef! Dalet. Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. He. Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie. Sajin. Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos. Get. Die Engel van die HERE trek 'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Tet. Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil! Jod. Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.
PSALMS 34:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Lied van Dawid. Hy het hom kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het hom weggejaag en hy het padgegee. Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys. Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare. Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie. Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, uit al my benoudhede het Hy my gered. Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil. Julle wat aan die Here behoort, dien Hom! Wie Hom dien, het geen gebrek nie.
PSALMS 34:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Van Dawid. Toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abimeleg, dié hom weggejaag en hy toe weggegaan het. Ek wil die HERE die hele tyd prys, my mond is voortdurend vol van sy lof. In die HERE sal ek roem; verdruktes sal dit hoor en hulle verheug. Maak saam met my die Naam van die HERE groot, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik. Ek het die HERE geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered. Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie. Hierdie magtelose het geroep en die HERE het gehoor, en uit al sy benoudhede het Hy hom verlos. Die •Engel van die HERE trek 'n laer rondom hulle wat vir die HERE ontsag het en Hy red hulle. Beproef dit en ervaar: Die HERE is goed, gelukkig is die mens wat by Hom skuil. Julle moet ontsag hê vir die HERE, julle wat aan Hom toegewy is; want wie vir Hom ontsag het, ly geen gebrek nie.
PSALMS 34:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek sal die HERE altyddeur loof: sy lof sal altyddeur in my mond wees. My siel sal haar in die HERE laat roem: die nederiges sal daarvan hoor en bly wees. Verheerlik die HERE saam met my, en laat ons saam sy Naam verhef. Ek het die HERE gesoek, en Hy het my verhoor en my van al my vrese gered. Hulle het na Hom gekyk en is verlig, en hulle gesigte was nie beskaamd nie. Hierdie arme man het geroep, en die HERE het hom verhoor en hom uit al sy benoudhede verlos. Die Engel van die HERE trek laer op rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Smaak en sien dat die HERE goed is; geseënd is die man wat op Hom vertrou. Vrees die HERE, sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie. Die jong leeus het gebrek en ly honger; maar die wat die HERE soek, sal niks goeds ontbreek nie.
PSALMS 34:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek sal te alle tye die HERE loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal net in die HERE roem. Die nederiges sal dit hoor en bly wees. Kom verheerlik die HERE saam met my; laat ons saam sy Naam prys. Ek het tot die HERE gebid en Hy het my geantwoord, Hy het my bevry van alles waarvoor ek bang is. Hulle wat opsien na Hom, sal straal van vreugde; op hulle gesigte is daar geen skaamte nie. Hierdie ellendige mens het geroep, en die HERE het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered. Want die Engel van die HERE hou wag oor almal wat Hom dien, en Hy red hulle. Beproef en sien dat die HERE goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou! Dien die HERE, julle wat aan Hom toegewy is! Hulle wat Hom eer, ly geen gebrek nie.