Psalms 34:1-10

Psalms 34:1-10 AFR20

Van Dawid. Toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abimeleg, dié hom weggejaag en hy toe weggegaan het. Ek wil die HERE die hele tyd prys, my mond is voortdurend vol van sy lof. In die HERE sal ek roem; verdruktes sal dit hoor en hulle verheug. Maak saam met my die Naam van die HERE groot, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik. Ek het die HERE geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered. Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie. Hierdie magtelose het geroep en die HERE het gehoor, en uit al sy benoudhede het Hy hom verlos. Die •Engel van die HERE trek 'n laer rondom hulle wat vir die HERE ontsag het en Hy red hulle. Beproef dit en ervaar: Die HERE is goed, gelukkig is die mens wat by Hom skuil. Julle moet ontsag hê vir die HERE, julle wat aan Hom toegewy is; want wie vir Hom ontsag het, ly geen gebrek nie.