PSALMS 26:1-12
PSALMS 26:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Dawid. Laat reg aan my geskied, Here, want ek is onskuldig. Ek het op die Here vertrou en nie getwyfel nie. Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur. Ek laat my deur u liefde lei en ek lewe deur u trou. Ek hou my nie op met bedrieërs nie en met agterbakse mense gaan ek nie om nie. Ek vermy die geselskap van misdadigers en hou my nie op met goddeloses nie. As 'n onskuldige, Here, was ek my hande en draai ek na u altaar toe om my loflied te sing en van al u wonders te vertel. Here, u woonplek, die tuiste van u heerlikheid, het ek lief. Moet my tog nie saam met die sondaars, met die moordenaars laat omkom nie. Daar is bedrog in hulle hande, hulle regterhande is vol omkoopgeld. Maar ek is onskuldig. Red my en wees my genadig; dan is my pad vorentoe gelyk en sal ek die Here prys in die samekoms van die gemeente.
PSALMS 26:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Van Dawid. Here, U moet my oordeel en U moet sê dat ek nie verkeerd gedoen het nie, want ek het eerlik gelewe en ek het net in U geglo, ek het nooit opgehou glo nie. U moet my toets, Here, U moet goed kyk wat ek dink en wat ek voel, want ek onthou altyd dat U doen wat U belowe het, ek weet net U is God. Ek is nie een van die mense wat vals is nie, ek wil niks doen saam met skynheilige mense nie. Wanneer slegte mense bymekaarkom, dan is ek nie by hulle nie, ek sit nie saam met die mense wat verkeerd doen nie. Here, ek was my hande om te wys dat ek onskuldig is en ek loop om die altaar, ek sing en ek sê vir U dankie, ek praat oor die wonderlike dinge wat U doen. Here, ek is lief vir u tempel, die plek waar U, die Koning, woon. U moenie my wegvee saam met sondaars nie, U moenie my laat sterf saam met moordenaars nie. Hulle is altyd gereed om slegte dinge te doen, hulle vat geld van skuldige mense en dan sê hulle dat daardie mense nie skuldig is nie. En ek? Ek wil aanhou om eerlik te lewe, U moet my vrymaak en U moet genadig wees vir my. Wanneer ek weer veilig is, dan sal ek die Here prys waar die gemeente bymekaar is.
PSALMS 26:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid. Doen aan my reg, o HERE, want ék wandel in my opregtheid en vertrou op die HERE sonder om te wankel. Toets my, HERE, en beproef my, keur my niere en my hart; want u goedertierenheid is voor my oë, en ek wandel in u waarheid. Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie. Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie. Ek was my hande in onskuld en wil gaan rondom u altaar, o HERE, om die stem van lof te laat hoor en om al u wonders te vertel. HERE, ek het lief die woning van u huis en die woonplek van u heerlikheid. Ruk my siel nie weg saam met die sondaars en my lewe saam met die manne van bloed nie, in wie se hande skandelike dade is, en wie se regterhand vol is van omkopery. Maar ék wandel in my opregtheid; verlos my en wees my genadig. My voet staan op gelyk grond; ek sal die HERE loof in die vergaderings.
PSALMS 26:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Van Dawid. Handhaaf my reg, HERE, want ek, ek gedra my onberispelik; ek vertrou op die HERE, ek wankel nie. Toets my, HERE, en stel my op die proef. Suiwer my niere en my hart! Want ek hou u troue liefde voor oë en ek leef volgens u waarheid. Ek sit nie by bedrieërs nie, en by slinkse mense kom ek nie. Ek het 'n weersin in die byeenkoms van kwaaddoeners, en by goddeloses sit ek nie. Ek was my hande om my onskuld te toon, sodat ek rondom u altaar kan loop, HERE, om 'n loflied te laat opklink en te vertel van al u wonderdade. HERE, ek het die huis waar U woon, lief, u heerlike woonplek. Moet my nie wegruk saam met sondaars, my lewe saam met manne wat bloed vergiet nie, hulle aan wie se hande 'n skanddaad kleef, en wie se regterhand vol omkoopgeld is. Maar ek, ek gedra my onberispelik – red my en wees my genadig! My voet staan op gelyk grond; in die byeenkomste sal ek die HERE prys.
PSALMS 26:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Oordeel my, HERE; want ek het in my opregtheid gewandel; ook het ek op die HERE vertrou; daarom sal ek nie gly nie. Ondersoek my, o HERE, en toets my; probeer my leisels en my hart. Want u goedertierenheid is voor my oë, en ek het in u waarheid gewandel. Ek het nie met ydele mense gesit nie, en ek sal ook nie ingaan met bedrieërs nie. Ek het die vergadering van kwaaddoeners gehaat; en sal nie by die goddelose sit nie. Ek sal my hande in onskuld was; so sal ek u altaar omring, o HERE! sodat ek kan verkondig met die stem van danksegging en al u wonders kan vertel. HERE, ek het die woning van u huis liefgehad en die plek waar u eer woon. Versamel nie my siel by sondaars en ook nie my lewe met bloedige mense nie. In wie se hande onheil is, en hulle regterhand vol omkoopgeld. Maar wat my betref, ek sal in my opregtheid wandel; verlos my en wees my genadig. My voet staan op 'n gelyke plek; in die gemeentes sal ek die HERE loof.
PSALMS 26:1-12 Die Boodskap (DB)
Here, sorg tog dat die regte dinge met my gebeur, want ek doen net wat U sê. Ek vertrou op U, Here. Ek twyfel nie ’n oomblik aan U nie. U kan my lewe maar toets, Here. Kyk wat binne-in my aangaan en wat ek alles dink. U sal sien dat ek u voorbeeld navolg. Ek onthou altyd dat U my liefhet. Ek luister na U en doen goeie dinge vir ander. Ek meng nie met mense wat ’n slegte invloed op my kan hê nie. Ek kom nie by mense wat voorgee wat hulle nie is nie. Daarom bly ek weg van mense wat net slegte dinge doen en U nie dien nie. Ek haat alles wat hulle doen! Hulle leef sonder U. Here, ek is onskuldig. Ek was my hande in onskuld. My lewe is skoon. Ek wil U vol blydskap dien. Ek loop na die plek waar mense U dien. Saam met u ander kinders wil ek U loof. Ek wil praat oor al die wonderlike dinge wat U in my lewe gedoen het. Ek gaan graag kerk toe; daar beleef ek saam met ander gelowiges u grootheid op ’n ongelooflike manier. Ek is lief vir u teenwoordigheid. Moet my nie soos ’n sondaar behandel nie. Moet my tog nie saam met mense wat ander doodmaak, laat doodgaan nie. Hulle doen vieslike dinge. Hulle is daaraan gewoond om mense om te koop. Maar ek leef nie so nie. Ek is onskuldig. Daarom smeek ek: red my, wees goed vir my. Ek weet dat ek by U veilig is. U maak my pad gelyk. Oral waar u kinders bymekaarkom, sal ek U loof.
PSALMS 26:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Laat aan my reg geskied, HERE, want ek was opreg in my doen en late. Ek het op die HERE vertrou sonder om te twyfel. Toets my, HERE, en ondervra my. Ondersoek my motiewe en my toegeneentheid. Want ek is gedurig bewus van u liefde; ek het volgens u waarheid gelewe. Met leuenaars gaan ek nie om nie; met skynheiliges gaan ek nie saam nie. Ek verag die byeenkoms van bose mense, en by die goddeloses sit ek nie. Ek was my hande as teken van my onskuld en verskyn voor u altaar, HERE, terwyl ek ’n danklied sing en vertel van al u wonders. HERE, u woonplek het ek lief, die plek waar u heerlikheid woon. Moenie my saam met sondaars wegvee nie. Moenie dat ek saam met moordenaars omkom nie. Hulle hande is gevul met bose planne, hulle regterhande vol omkoopgeld. Maar ek lewe in opregtheid; red my en wees my genadig. My voete staan vas op gelyke grond. Daarom prys ek die HERE in die vergadering.