Psalms 26:1-12

Psalms 26:1-12 ABA

Van Dawid. Here, U moet my oordeel en U moet sê dat ek nie verkeerd gedoen het nie, want ek het eerlik gelewe en ek het net in U geglo, ek het nooit opgehou glo nie. U moet my toets, Here, U moet goed kyk wat ek dink en wat ek voel, want ek onthou altyd dat U doen wat U belowe het, ek weet net U is God. Ek is nie een van die mense wat vals is nie, ek wil niks doen saam met skynheilige mense nie. Wanneer slegte mense bymekaarkom, dan is ek nie by hulle nie, ek sit nie saam met die mense wat verkeerd doen nie. Here, ek was my hande om te wys dat ek onskuldig is en ek loop om die altaar, ek sing en ek sê vir U dankie, ek praat oor die wonderlike dinge wat U doen. Here, ek is lief vir u tempel, die plek waar U, die Koning, woon. U moenie my wegvee saam met sondaars nie, U moenie my laat sterf saam met moordenaars nie. Hulle is altyd gereed om slegte dinge te doen, hulle vat geld van skuldige mense en dan sê hulle dat daardie mense nie skuldig is nie. En ek? Ek wil aanhou om eerlik te lewe, U moet my vrymaak en U moet genadig wees vir my. Wanneer ek weer veilig is, dan sal ek die Here prys waar die gemeente bymekaar is.