PSALMS 25:1-15
PSALMS 25:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Van Dawid. Here, ek bid tot U, net tot U. My God, ek glo dat U sal doen wat U belowe het. U moenie dat ek verloor teen my vyande nie, U moenie dat hulle juig omdat dit sleg gaan met my nie. En ook, ek bid dat mense wat in U glo, nie sal verloor nie. Die mense wat nie doen wat U wil hê hulle moet doen nie, U moet húlle laat verloor. Here, U moet vir my sê wat U wil hê ek moet doen, U moet vir my leer hoe ek moet lewe. Leer my om reg te lewe, soos U wil hê, want U is die God wat my red, ek glo altyd dat dit net U is wat my kan help. Here, U moet onthou hoe U altyd jammer was vir my, hoe U altyd gedoen het wat U belowe het. Here, U moenie dink aan die sondes wat ek gedoen het toe ek jonk was nie, U moenie daaraan dink dat ek opstandig was teen U nie. U moet aan my dink omdat U altyd doen wat U belowe het, omdat U goed is. Die Here is goed en Hy doen altyd reg. Dit is hoekom Hy vir sondaars leer hoe hulle moet lewe. Hy laat dit reg gaan met mense wat hulleself nie kan help nie wanneer ander mense hulle oordeel. Hy leer vir die mense wat hulleself nie kan help nie, Hy leer vir hulle hoe hulle moet lewe. Die Here doen altyd wat hy belowe het vir die mense wat gehoorsaam is aan sy verbond en sy wette. Here, vergewe my sondes, dit is baie, doen dit, want ek behoort aan U. Wanneer iemand die Here wil dien, dan sal die Here vir hom leer hoe hy moet lewe. Dit sal altyd goed gaan met so iemand, en die land sal aan sy nageslag behoort. Die Here vertel vir die mense wat Hom dien, alles wat Hy besluit, Hy sê vir hulle wat sy verbond beteken. Ek wag elke dag dat die Here my moet help, want dit is Hy wat my voete losmaak uit die vangnet waarin mense my wil vang.
PSALMS 25:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid. Alef. Tot U, o HERE, hef ek my siel op. Bet. My God, op U vertrou ek; laat my nie beskaamd staan nie; laat my vyande oor my nie juig nie. Gimel. Ja, almal wat U verwag, sal nie beskaamd staan nie. Hulle sal beskaamd staan wat troueloos handel sonder oorsaak. Dalet. HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. He. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag. Sajin. Dink, HERE, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want dié is van ewigheid af. Get. Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE! Tet. Die HERE is goed en reg; daarom sal Hy sondaars leer aangaande die weg. Jod. Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer. Kaf. Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar. Lamed. Om u Naam ontwil, HERE, vergeef my ongeregtigheid, want dit is groot. Mem. Wie tog is die man wat die HERE vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. Noen. Hy self sal vernag in die goeie, en sy nageslag sal die land besit. Samek. Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak. Ajin. My oë is altyddeur op die HERE, want Hý sal my voete uit die net uitlei.
PSALMS 25:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Dawid. Tot U, Here, rig ek my, my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is. Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar. Ter wille van u Naam, Here, vergewe my my sonde, want dit is groot. As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou.
PSALMS 25:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Van Dawid. Na U, HERE, hunker ek. My God, op U vertrou ek; laat my tog nie beskaamd staan nie; laat my vyande nie oor my jubel nie. Ja, niemand wat op U wag, sal beskaamd staan nie; maar hulle wat sonder rede ontrou is, sal beskaamd staan. HERE, maak u paaie aan my bekend; leer my u weë. Lei my deur u waarheid en leer my, want U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag. Dink aan u barmhartigheid en u troue liefde, HERE, want dit is van altyd af daar. Aan die sondes van my jeug en my oortredings moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, HERE. Die HERE is goed en reg, daarom leer Hy sondaars die pad. Mag Hy verdruktes lei in wat reg is; mag Hy hulle sy pad leer. Al die paaie van die HERE is troue liefde en waarheid vir hulle wat hou by sy verbond en sy bepalings. Ter wille van u Naam, HERE, vergewe my sondeskuld, want dit is groot. Wie is die mens wat vir die HERE ontsag het? Die HERE leer hom die pad wat hy moet kies. Sy lewe verloop voorspoedig en sy nageslag sal die land besit. Die HERE neem hulle wat vir Hom ontsag het, in sy vertroue, en sy verbond is daar om hulle te onderrig. My oë bly altyd op die HERE, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet bevry.
PSALMS 25:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Tot U, HERE, hef ek my siel op. My God, ek vertrou op U; laat my nie beskaamd staan nie, laat my vyande nie oor my triomfeer nie. Ja, laat niemand wat op U wag, beskaamd staan nie; laat hulle beskaamd staan wat sonder oorsaak oortree. Wys my u weë, HERE; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil; op U wag ek die hele dag. Dink, o HERE, aan U barmhartighede en U goedertierenhede; want hulle was altyd van ouds. Dink nie aan die sondes van my jeug en aan my oortredinge nie; dink aan my na U goedertierenheid om u goedertierenheid ontwil, o HERE. God en opreg is die HERE; daarom sal Hy sondaars op die weg leer. Die sagmoediges sal Hy lei in die oordeel, en die sagmoediges sal Hy sy weg leer. Al die paaie van die HERE is barmhartigheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse hou. Ter wille van u Naam, o HERE, vergewe my ongeregtigheid; want dit is groot. Watter man is dit wat die HERE vrees? hom sal hy leer op die weg wat hy sal uitkies. Sy siel sal rustig woon; en sy nageslag sal die aarde beërwe. Die geheim van die HERE is by die wat Hom vrees; en Hy sal hulle sy verbond bekend maak. My oë is altyd op die HERE; want hy sal my voete uit die net ruk.
PSALMS 25:1-15 Die Boodskap (DB)
Here, ek is heeltemal van U afhanklik. Ek kyk op na U. My God, op U vertrou ek. Moet my tog nie in die steek laat nie. Moenie dat hulle wat U verwerp, my spot nie. Hulle wat op U hoop, sal nooit teleurgesteld wees nie. Maar hulle wat U nie dien nie, sal aan die kortste ent trek. Wees vir my soos ’n onderwyser. Gee my insig sodat ek weet wat U wil hê ek moet doen. Wys my watter pad is die regte pad. Leer my hoe U wil hê ek moet lewe. Laat my op die regte pad loop. U is die God wat my red. Op U vestig ek al my hoop. Here, u liefde en u goedheid kom van altyd af. Dink daaraan dat U vir ons goed was. Moet my tog nie straf vir die verkeerde dinge wat ek gedoen het toe ek jonk was nie. Behandel my met liefde en deernis, Here, want U is vol goedheid. Die Here is goed. Hy tree regverdig op. Hy help selfs sondaars om op die regte pad te kom. Mense wat naby Hom leef, leer Hy om reg te leef. Alles wat die Here leer, kan in een sin opgesom word: Hy wil hê dat almal wat in Hom glo, Hom moet liefhê. Hulle moet Hom getrou dien. Al die mense met wie Hy ’n ooreenkoms gesluit het en wat doen wat Hy vra, moet dit doen. U het so ’n groot Naam, Here. Ter wille van u Naam, vergewe tog al my slegte dade. Hulle is so baie. God sal almal wat Hom dien se hand vat en hulle help om die regte keuses te maak. Dan sal hulle die goeie dinge van die lewe in oorvloed geniet. Selfs hulle kinders sal daarin deel hê. Hulle sal in die land bly woon. Die Here maak sy planne net aan hulle bekend wat ontsag vir Hom het. Hy maak sy hart wyd teenoor hulle oop. Hy wys hulle wat sy ooreenkoms met mense is. Ek is elke oomblik van die Here afhanklik. Ek kyk heeltyd na Hom op. Hy keer dat swaarkry en probleme my onderkry. Hy red my uit die moeilikheid.
PSALMS 25:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek rig my tot U, HERE. Ek vertrou op U, my God! Moenie dat ek in die skande kom, of my vyande oor my laat juig nie. Niemand wat op U wag, word ooit beskaam nie, maar húlle word beskaam wat bedrieg sonder oorsaak. HERE, wys my die weg wat ek moet gaan, leer my u paaie. Lei my deur u waarheid en leer my, want U, o God, is my redder. Die hele dag wag ek vol hoop op U. Dink, o HERE, aan u liefde en medelye, van altyd af deur U bewys. Moenie dink aan die opstand en die sonde van my jeug nie; HERE, dink eerder aan my met troue liefde, ter wille van u goedheid. Die HERE is goed en doen wat reg is. Daarom wys Hy vir sondaars die regte pad. Mag Hy die nederiges op die regte weg lei, en vir dié wat beskeie is, sy pad leer. Die paaie van die HERE is goedheid en trou vir dié wat getrou is aan die bepalings van sy verbond. Ter wille van u Naam, HERE, vergewe tog my sondes, want dit is baie. Wie is die een wat die HERE dien? Hy sal hom wys watter pad hy moet kies. Hy sal in voorspoed lewe, en sy nageslag sal die beloofde land beërwe. Die HERE se voorneme is duidelik vir dié wat Hom dien. Aan hulle maak Hy sy verbond bekend. Ek kyk altyd op na die HERE vir hulp, want Hy sal my voete van die vangnet bevry.