PSALMS 142:1-8
PSALMS 142:1-8 Bybel vir almal (ABA)
'n Lied. Van Dawid, toe hy in die grot was. 'n Gebed. Ek roep en ek vra dat die Here my moet help, ek bid dat die Here genadig moet wees vir my. Ek wil by die Here kla, ek wil vir Hom vertel hoe sleg dit met my gaan. Wanneer ek moedeloos word, dan is dit U wat weet wat met my gebeur. My vyande het vir my 'n vangnet styfgetrek op die pad waar ek loop. Wanneer ek langs my kyk, dan is daar niemand wat van my weet nie. Daar is nie 'n plek waarnatoe ek kan vlug nie, niemand is bekommerd oor my nie. Here, ek bid tot U, help my asseblief, dit is U wat my moet beskerm, ek het net vir U in hierdie lewe. U moet luister wanneer ek bid, want dit gaan baie sleg met my. U moet my red van die mense wat my jaag, want hulle is te sterk vir my. U moet my uithaal uit die tronk, dan sal ek vir U dankie sê, en die mense wat reg lewe, sal rondom my kom staan omdat U goed was vir my.
PSALMS 142:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N ONDERWYSING van Dawid, toe hy in die spelonk was. 'n Gebed. Hardop roep ek die HERE aan, hardop smeek ek die HERE. Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak voor sy aangesig my nood bekend. As my gees in my versmag, dan ken Ú my pad. Op die pad wat ek moet gaan, het hulle 'n vangnet vir my gespan. Ek sien uit na regs en kyk, maar daar is niemand wat my ken nie; die toevlug is vir my verlore; niemand vra na my nie. Ek roep U aan, o HERE! Ek sê: U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes. Luister na my smeking, want ek is baie swak; red my van my vervolgers, want hulle is vir my te sterk. Lei my siel uit die gevangenis om u Naam te loof. Die regverdiges sal my omring as U aan my goed doen.
PSALMS 142:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Gedig van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die spelonk. 'n Gebed. Ek roep na die Here om hulp, ek smeek die Here om genade, ek stort my klag voor Hom uit en vertel Hom van my nood. Ek het alle moed verloor, U weet wat ek moes deurmaak. Op die pad waar ek loop, het hulle vir my 'n strik gestel. Ek soek hulp, maar niemand wil help nie, daar is vir my geen vlugkans nie en niemand gee vir my om nie. Ek roep na U om hulp, Here, ek sê: “U is my toevlug, buiten U het ek geen deel in die land van die lewendes nie! Luister tog na my hulpgeroep, want ek is magteloos. Red my van my vervolgers, want hulle is te sterk vir my. Bevry my uit my gevangenskap, dat ek u Naam kan loof. Die regverdiges sal dankbaar om my kom staan wanneer U aan my goed doen.”
PSALMS 142:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Maskiel . Van Dawid. Toe hy in die grot was. 'n Gebed. Na die HERE roep ek hardop om hulp; by die HERE pleit ek hardop om genade. Ek stort voor Hom my klag uit; voor Hom maak ek my nood bekend. Wanneer my gees in my begin weifel, is dit U wat my pad ken. Op die pad wat ek moet loop, het hulle in die geheim 'n vangnet vir my gespan. As ek regs kyk, sien ek niemand is my goedgesind nie. 'n Skuilplek is vir my verlore; niemand is begaan oor my lewe nie. Ek roep na U om hulp, HERE. Ek sê: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes. Gee tog aandag aan my klaagroep, want ek is baie nietig. Red my van my vervolgers, want hulle is te sterk vir my. Lei my uit gevangenskap, sodat ek u Naam kan prys. Regverdiges sal om my saamkom as U aan my goed doen.”
PSALMS 142:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek roep tot die HERE; ek pleit om die HERE se genade. Ek stort my klagtes uit voor Hom en vertel Hom van my kwellinge. Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad. Op die pad waarop ek loop, het hulle vir my ’n strik gestel. Ek kyk na regs, maar niemand sien my raak nie. Daar is vir my geen ontvlugting nie, en niemand gee om vir my nie. Ek het tot U gebid, HERE. Ek het gesê: “U is my toevlug, my deel in die land van die lewendes. Luister na my hulpgeroep, want ek is terneergedruk. Red my van dié wat my vervolg, want hulle is te sterk vir my. Bevry my uit die gevangenis sodat ek u Naam kan loof. Opregtes sal rondom my kom staan, want U is goed vir my.”