PSALMS 142:1-8

PSALMS 142:1-8 NLV

Ek roep tot die HERE; ek pleit om die HERE se genade. Ek stort my klagtes uit voor Hom en vertel Hom van my kwellinge. Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad. Op die pad waarop ek loop, het hulle vir my ’n strik gestel. Ek kyk na regs, maar niemand sien my raak nie. Daar is vir my geen ontvlugting nie, en niemand gee om vir my nie. Ek het tot U gebid, HERE. Ek het gesê: “U is my toevlug, my deel in die land van die lewendes. Luister na my hulpgeroep, want ek is terneergedruk. Red my van dié wat my vervolg, want hulle is te sterk vir my. Bevry my uit die gevangenis sodat ek u Naam kan loof. Opregtes sal rondom my kom staan, want U is goed vir my.”