PSALMS 119:41-45
PSALMS 119:41-45 Bybel vir almal (ABA)
Here, U moet vir my doen wat U belowe het, U moet my red, U het dit belowe. Dan sal ek die mense kan antwoord wat my spot, want ek glo dat U sal doen wat U gesê het. En U moet my help om altyd die waarheid te praat, want ek glo dat U sal doen wat U besluit het. En ek sal aanhou doen wat U vir my leer, altyd en altyd. En ek sal lewe soos 'n vry mens, want ek het probeer doen wat U beveel het.
PSALMS 119:41-45 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte, sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord. En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek. Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd, en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele.
PSALMS 119:41-45 Afrikaans 1983 (AFR83)
Bewys aan my u troue liefde, Here, red my volgens u belofte. Dan sal ek dié wat my vals beskuldig, kan antwoord, want ek vertrou op u woord. Weerhou my tog van alles wat onwaar is. In u bepalings stel ek my vertroue. Ek wil u wet my hele lewe lank onderhou. My lewe sal veilig wees, want ek vra steeds wat u bevele is.
PSALMS 119:41-45 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laat u troue liefde my deel word, HERE, u verlossing volgens u woord, sodat ek my spotter kan antwoord; want ek vertrou op u woord. Moet tog nie u betroubare woord geheel en al uit my mond wegneem nie, want ek vestig my hoop op u beslissings. Ek wil u wet voortdurend nakom, vir altyd en ewig. Ek wil in hierdie wye ruimte voortbeweeg, want u opdragte ondersoek ek.
PSALMS 119:41-45 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
VAU. Laat U barmhartighede ook oor my kom, o HERE, U heil volgens U woord. So sal ek hom wat my smaad, kan antwoord, want ek vertrou op U woord. En neem die woord van waarheid nie heeltemal uit my mond nie; want ek hoop op U oordele. So sal ek U wet gedurigdeur onderhou tot in alle ewigheid. En ek sal in vryheid wandel, want ek soek U bevele.
PSALMS 119:41-45 Die Boodskap (DB)
Here, wys asseblief vir my hoe goed U is, soos U beloof het. Dan sal ek nie bang wees vir almal wat met my spot nie, want ek hou net vas aan wat U sê. Help my om net die waarheid te praat. Dag en nag luister ek fyn na u stem. My hele lewe lank wil ek net doen wat U in u wet vir ons sê. Met groot blydskap wil ek in die oop ruimte van u liefde en voorskrifte stap.
PSALMS 119:41-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
HERE, laat u troue liefde my oordek, die redding wat U my belowe het. Dan kan ek my spotters antwoord, want ek vertrou op u woord. Laat ek tog altyd die waarheid praat, want ek hoop op u geregtigheid. Ek sal u gebooie gehoorsaam so lank as wat ek lewe. Ek sal in vryheid kan lewe, want ek soek u bevele.