PSALMS 119:25-40
PSALMS 119:25-40 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer dit sleg gaan met my, dan moet U my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Toe ek vir U vertel het van my lewe, toe het U my geantwoord. U moet vir my leer wat u wette sê. U moet my help om te verstaan wat U beveel, sodat ek oor u wonderwerke kan dink. Ek smelt weg van die pyn, U moet my regop hou, soos U gesê het. U moet keer dat ek nie vals lewe nie, U moet genadig wees vir my en vir my leer. Ek het gekies om eerlik te lewe, ek het onthou wat U besluit het. Here, ek hou vas aan wat U sê, U moet my help om te weet wat ek moet doen. Ek wil graag lewe soos u gebooie sê, want U sal my help om dit te verstaan. U moet vir my leer wat u wette beteken, sodat ek altyd kan doen wat die wette sê. U moet my help om te verstaan, sodat ek kan doen wat U vir my leer en sodat ek daaraan gehoorsaam kan wees met my hele hart. U moet my laat lewe soos u gebooie sê, want dit is vir my lekker. U moet my help sodat ek graag sal wil doen wat U sê en nie sal kies om ryk te word nie. U moet my help sodat ek nie dinge wil hê wat niks beteken nie, U moet my laat lewe soos U wil hê. U moet vir my doen wat U belowe het, vir my, u dienaar, want U het dit belowe vir mense wat vir U dien. U moet keer dat mense my nie spot nie, ek is bang daarvoor, want wat U besluit, is goed. U moet dit weet, ek wil graag hoor wat U beveel, U sal reg doen en my laat aanhou lewe.
PSALMS 119:25-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink. My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord. Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet. Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel. Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie! Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart. HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar. Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte. Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek 'n behae. Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë. Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees. Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed. Gewis, ek het 'n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.
PSALMS 119:25-40 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek verkeer in doodsgevaar, gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het. Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak en U het my gebed verhoor; leer my u voorskrifte. Leer my hoe om u bevele uit te voer. Ek wil van u magtige dade vertel. Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u woord beloof het. Hou valsheid ver van my af, wees my genadig, leer my u wet. Ek kies die betroubare pad, ek lewe volgens u bepalings. Ek hou vas aan u verordeninge, Here, moet tog nie dat my lewe 'n teleurstelling word nie. Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe. Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer, sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou. Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou. Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat dié my na aan die hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie. Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys. Vervul ook aan my die belofte wat U gegee het aan dié wat U dien. Die venyn van mense, daarvoor is ek bang, moenie dat dit my tref nie. Maar u bepalings, dié is goed. Ek wil u bevele nakom. Hou my in die lewe, want U is getrou.
PSALMS 119:25-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord. Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte. Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink. My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord. Die pad van bedrog – neem dit van my weg; en u wet – gee dit genadiglik vir my. Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë. Ek hou aan u bepalings vas; HERE, laat my nie beskaamd staan nie. Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig. HERE, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde. Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie. Wend my oë daarvan af om na nuttelose dinge te staar; hou my lewend op u paaie. Doen u woord gestand aan u dienskneg – u woord wat ontsag wek vir U. Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed. Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u •geregtigheid.
PSALMS 119:25-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
DALETH. My siel kleef aan die stof; maak my lewend volgens U woord. Ek het my weë bekend gemaak, en U het na my geluister; leer my u insettinge. Laat my die weg van U bevele verstaan; so sal ek van U wonders praat. My siel smelt van bedroefdheid; versterk my volgens U woord. Verwyder van my die weg van leuens, en gee my U wet genadiglik. Ek het die weg van die waarheid gekies, u oordele het ek voor my neergelê. Ek het vasgehou aan U getuienisse: o HERE, maak my nie beskaamd nie. Ek sal die weg van u gebooie loop as U my hart verruim. HY. Leer my, o HERE, die weg van U insettinge; en ek sal dit tot die einde toe bewaar. Gee my insig, en ek sal U wet onderhou; ja, ek sal dit met my hele hart onderhou. Laat my gaan op die pad van U gebooie; want daarin het ek 'n welbehae. Neig my hart tot U getuienisse en nie tot hebsug nie. Wend my oë af om nietigheid te aanskou; en maak my lewend op u weg. Bevestig U woord aan U dienaar, wat toegewyd is aan u vrees. Wend my smaad af wat ek vrees, want U oordele is goed. Kyk, ek verlang na U bevele; maak my lewend in U geregtigheid.
PSALMS 119:25-40 Die Boodskap (DB)
My lewe is nie veel werd nie. Gee asseblief vir my nuwe lewe; daardie soort lewe wat U in die Bybel beloof. Ek het vir U kom vertel hoe swaar dit met my gaan. U het geluister en my gehelp; leer my nou om te doen wat U sê. Leer my om die volle rykdom van u voorskrifte goed te verstaan. Ek wil heeltyd daaroor dink. My lewe is vol bekommernis. Help my tog om u hand styf vas te hou. En gee vir my krag. Keer dat ek leuens vertel en op ’n oneerlike manier leef. Skryf u wet diep in my hart. Doen goed aan my. Ek het gekies om op u pad te stap, dis die pad na die lewe toe. U voorskrifte is soos padwysers; dit wys my hoe om te leef. Here, ek hou vas aan elke woord wat U sê. Moenie dat ek U ooit in die steek laat nie. Ek is gretig om elke dag op u pad te stap, want U maak my lewe vol met u goedheid. Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra. Verander my manier van dink; maak my gedagtes vol met u wet! Dan sal ek heeltyd doen wat U sê. Laat my elke dag op die pad loop wat U voorskryf, want dit maak my baie gelukkig. Help my om net aan U te dink sodat ek nie agter geld aanhardloop nie. Keer dat ek na dinge kyk waarvan U niks hou nie. Om te leef soos U wil hê; dis al wat ek vra! Maak dit wat U in die Bybel aan u kinders beloof waar in my lewe. Keer tog dat mense lelike dinge vir my sê. Mense kan so venynig wees. Laat my net daardie dinge hoor wat U wil hê ek moet doen. Daar’s net een begeerte in my hart: om te doen wat U sê. Beskerm my, want U doen wat U belowe.
PSALMS 119:25-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek lê in die stof, op pad na die graf; laat my herlewe volgens u woord. My optrede het ek bekendgemaak, en U het geantwoord. Leer my nou u voorskrifte. Leer my verstaan die betekenis van u bevele, sodat ek u wonders kan oordink. Ek huil van droefheid; versterk my soos U in u woord beloof. Bewaar my van leuenagtige weë; leer my in genade u gebooie. Ek het die betroubare pad gekies; ek lewe volgens u bepalings. Ek hou vas aan u voorwaardes, HERE. Moenie dat ek in skande kom nie! Ek sal die pad van u gebooie navolg, want U sal my begrip verbreed. Leer my, HERE, hoe om u voorskrifte uit te voer sodat ek hulle tot die einde toe kan nakom. Gee vir my insig dat ek kan leef volgens u gebooie, en dit van harte gehoorsaam. Laat my wandel volgens u gebooie, want dis waarin ek vreugde vind. Laat my verlang na wat U vereis; verhoed dat ek materialisties word. Weerhou my van waardelose dinge; laat my lewe volgens u voorskrifte. Bevestig opnuut aan my u belofte, wat bedoel is vir hulle wat U dien. Neem weg die smaad wat ek vrees, want u bepalings is goed. Ek verlang van harte na u bevele. Laat my lewe deur u geregtigheid.