PSALMS 103:11-14
PSALMS 103:11-14 Bybel vir almal (ABA)
Ja, soos die hemel baie hoog is bo die aarde, so doen die Here baie vir die mense wat Hom dien, Hy doen altyd wat Hy belowe het. So ver soos die ooste van die weste is, so ver neem Hy ons sonde weg van ons. Soos 'n pa jammer is vir sy kinders, so is die Here ook jammer vir die mense wat Hom dien, want Hy ken ons, Hy weet dat ons stof is.
PSALMS 103:11-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.
PSALMS 103:11-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.
PSALMS 103:11-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
want so hoog as wat die hemel bo die aarde is, so troon sy troue liefde uit bo dié wat vir Hom ontsag het. So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor kinders, so ontferm die HERE Hom oor dié wat vir Hom ontsag het; want Hy, Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou in gedagte dat ons maar stof is.
PSALMS 103:11-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want soos die hemel hoog bo die aarde is, so groot is sy barmhartigheid teenoor die wat Hom vrees. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy ken ons gedaante; hy onthou dat ons stof is.
PSALMS 103:11-14 Die Boodskap (DB)
So ver as wat die verste punt in die heelal van ons af is, so groot, en nog groter, is die Here se liefde vir elkeen wat Hom dien. So ver as wat die verste punte van die heelal van mekaar af is, so ver, en nog verder, vat Hy ons sondes se straf van ons af weg. Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is.
PSALMS 103:11-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Want so ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die HERE Hom oor hulle wat Hom dien. Hy weet tog waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is.