SPREUKE 8:33-36
SPREUKE 8:33-36 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet luister na wat ek vir julle leer, dan sal julle wysheid kry. Julle moenie dit los nie. Dit gaan goed met mense wat luister na my, mense wat wakker bly en elke dag staan en wag by my deure, die deure waardeur julle kan inkom na my toe. Want mense wat wysheid kry, kry die lewe, en die Here hou van hulle. Maar die mense wat nie wysheid wil hê nie, is mense wat hulleself wil laat swaarkry. Almal wat nie van my hou nie, is mense wat lief is vir die dood.”
SPREUKE 8:33-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie. Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou. Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry 'n welbehae van die HERE. Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.
SPREUKE 8:33-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Luister na wat ek julle leer, moet dit nie verontagsaam nie, dan sal julle ook wysheid hê. Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag. Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here. Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan; wie my haat, hou van die dood.”
SPREUKE 8:33-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Luister na my vermaning en word wys; moet dit nie in die wind slaan nie. Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou. Ja, wie my vind, het die lewe gevind; hy geniet die goedkeuring van die HERE. Maar wie my ontbeer, doen sy lewe geweld aan; almal wat my haat, het die dood lief.”
SPREUKE 8:33-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hoor tug en wees wys en verwerp dit nie. Geseënd is die man wat na my luister, elke dag waak by my poorte, en wag by die poste van my deure. Want wie My vind, kry die lewe en sal guns van die HERE verkry. Maar hy wat teen My sondig, doen sy eie siel onreg; almal wat My haat, het die dood lief.
SPREUKE 8:33-36 Die Boodskap (DB)
Dit is die moeite werd. Neem elke stukkie wysheid ernstig op. Wie elke dag reg wil leef, is baie gelukkig. Wie elke dag probeer om die regte dinge te doen en te sê se vreugde ken geen perke nie. Wie die wysheid sy eie maak, het die lewe gevind. Die Here is lief vir hom. Wie die rug vir die wysheid draai, vernietig homself. Wie dit haat, is al klaar dood.
SPREUKE 8:33-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Luister wat ek julle leer sodat julle wys kan wees. Moenie dit ignoreer nie. Dit sal goed gaan met elke mens wat na my luister, wat elke dag na my huis toe kom en buite by my deur vir my staan en wag. Hy wat my kry, kry die lewe self. Hy geniet die guns van die HERE. Hy wat my nie wil vind nie, doen skade aan homself. Hy wat my haat, is lief vir die dood.”