SPREUKE 10:1-32

SPREUKE 10:1-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIE spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verbly die vader, maar 'n dwase seun is 'n bekommernis vir sy moeder. Skatte deur goddeloosheid verwerf, bring geen voordeel nie, maar geregtigheid red van die dood. Die HERE laat die regverdige nie honger ly nie, maar die begeerlikheid van die goddelose stoot Hy weg. Hy word arm wat met 'n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk. Hy wat in die somer wegbêre, is 'n verstandige seun; hy wat vas slaap in die oestyd, is 'n seun wat skande maak. Seëninge is daar op die hoof van die regverdige, maar die mond van die goddelose verberg geweld. Die nagedagtenis van die regverdige is tot seën, maar die naam van die goddelose vergaan. Hy wat wys van hart is, neem die gebooie aan, maar hy wat dwaas van lippe is, kom tot 'n val. Hy wat in opregtheid wandel, wandel veilig, maar hy wat sy weë krom maak, word bekend. Hy wat met sy oog knip, veroorsaak smart, en hy wat dwaas spreek, kom tot 'n val. Die mond van die regverdige is 'n fontein van lewe, maar die mond van die goddelose verberg geweld. Haat verwek twiste, maar liefde bedek al die oortredinge. Op die lippe van die verstandige word wysheid gevind, maar die roede is vir die rug van die verstandelose. Die wyse lê kennis weg, maar die mond van die dwaas is 'n ondergang wat naby is. Die goed van die ryke is vir hom 'n sterk stad; die ondergang van die behoeftiges is hulle armoede. Wat die regverdige verwerf, is vir die lewe; die inkomste van die goddelose is tot sonde. 'n Pad ten lewe is hy wat die tug in ag neem; maar hy wat die teregwysing veronagsaam, raak verdwaald. Hy wat haat verberg, het valse lippe; en hy wat skindertaal uitstrooi, is 'n dwaas. By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig. Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer; die hart van die goddelose is min werd. Die lippe van die regverdige help baie mense reg; maar die dwase sterf deur gebrek aan verstand. Die seën van die HERE — dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie. Dit is 'n vermaak vir 'n dwaas om 'n skandelike daad te doen, net so is wysheid vir 'n man van verstand. Waar die goddelose bang voor is — dit kom oor hom; maar die begeerte van die regverdiges vervul Hy. Wanneer 'n stormwind verbygaan, is die goddelose nie meer nie; maar die regverdige is vir ewig gegrondves. Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir die wat hom stuur. Die vrees van die HERE vermeerder die dae, maar die jare van die goddelose word verkort. Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan. Die weg van die HERE is vir die opregte 'n vesting, maar 'n ondergang vir die werkers van ongeregtigheid. Die regverdige sal vir ewig nie wankel nie, maar die goddelose sal in die land nie bly woon nie. Die mond van die regverdige laat wysheid uitspruit, maar die valse tong word uitgeroei. Die lippe van die regverdige weet wat welgevallig is, maar die mond van die goddelose is pure valsheid.

SPREUKE 10:1-32 Bybel vir almal (ABA)

Spreuke van Salomo. 'n Pa en 'n ma is bly as hulle kinders wysheid het, maar hulle is hartseer as hulle kinders dwase is. As 'n mens verkeerd lewe, dan help dit niks dat hy baie goed gekry het nie. As hy reg lewe, dan sal dit hom red van die dood. As 'n mens reg lewe, dan laat die Here hom nie honger kry nie, maar vir die mense wat verkeerd doen, gee Hy nie die dinge wat hulle wil hê nie. Hande wat lui is, laat mense arm word, maar hande wat hard werk, maak mense ryk. 'n Kind wat in die somer die koring-oes bymekaarmaak, is verstandig. 'n Kind wat slaap wanneer hy die koring moet afsny, sal niks hê nie. Mense seën 'n persoon wat reg lewe, maar wanneer die mens wat verkeerd doen, praat, dan probeer hy om ander mense seer te maak. Mense onthou 'n persoon wat reg gelewe het, maar niemand wil dink aan mense wat verkeerd gedoen het nie. 'n Verstandige mens doen wat ander mense vir hom sê om te doen, maar 'n dwaas hou aan om te praat totdat hy sterf. 'n Mens wat eerlik lewe, is veilig, maar wanneer iemand skelm is, dan sal ander mense dit uitvind. 'n Mens wat altyd ander mense wil bedrieg, laat hulle seerkry. 'n Dwaas hou aan om te praat totdat hy sterf. Wanneer die mens wat reg lewe, praat, dan laat hy ander mense lewe, maar wanneer die mens wat verkeerd doen, praat, dan maak hy ander mense seer. Haat laat mense twis met mekaar, maar liefde praat nie oor die dinge wat vir ander mense pla nie. Wanneer 'n verstandige mens sy mond oopmaak, dan kom daar wysheid uit, maar die persoon wat nog baie moet leer, kry straf. Wyse mense weet baie, maar wanneer 'n dwaas sy mond oopmaak, dan gaan dit gou sleg. Die rykdom van 'n ryk mens is soos 'n sterk stad, maar dit gaan sleg met arm mense omdat hulle arm is. Die beloning van 'n mens wat reg doen, is die lewe self, alles wat die mens doen wat verkeerd lewe, is sonde. 'n Mens wat onthou wat hy geleer het, loop op die pad van lewe, 'n mens wat nie doen wat hy moet doen nie, weet nie waarnatoe hy gaan nie. 'n Mens wat ander mense haat, is vals wanneer hy praat, dit is 'n dwaas wat skinder oor ander mense. Die mens wat baie praat, sê maklik verkeerde dinge, die mens wat versigtig is en dink voordat hy praat, is verstandig. Die woorde van 'n mens wat reg lewe, is soos die beste silwer, die dinge wat mense dink wat verkeerd doen, beteken niks. Wanneer 'n mens wat reg lewe, praat, dan is hy soos 'n herder vir baie mense. Dwase sterf omdat hulle onverstandig is. Dit is die seën van die Here wat mense ryk maak, en Hy laat mense nie méér swaarkry omdat hulle ryk is nie. Dit is vir 'n dwaas lekker om slegte dinge te doen, vir 'n verstandige mens is dit lekker om wysheid te hê. Die mens wat verkeerd doen, kry die dinge waarvoor hy bang is. Die Here gee vir die mense wat reg lewe, alles wat hulle wil hê. Wanneer daar 'n stormwind kom, dan waai dit die mense weg wat verkeerd doen. Mense wat reg lewe, staan altyd vas. Jy moenie 'n lui mens stuur om iets te doen nie, hy is soos asyn vir jou tande, soos rook vir jou oë. As iemand die Here respekteer en Hom dien, dan sal daardie persoon lank lewe. Mense wat verkeerd doen, se lewe is kort. Mense wat reg lewe, sal gelukkig wees, mense wat verkeerd doen, kan nie hoop dat dit later goed sal gaan nie. Mense wat aanhou lewe soos die Here wil hê, is veilig, mense wat slegte dinge doen, sal sterf. Die mens wat reg lewe, sal altyd vas staan en veilig wees. Mense wat verkeerd doen, sal nie altyd in die land woon nie. Wanneer 'n mens wat reg doen, praat, dan sê hy dinge wat wysheid is. 'n Mens wat altyd ander mense bedrieg, sal moet stilbly. 'n Mens wat reg lewe, weet wat die regte ding is om te sê, mense wat verkeerd doen, wil altyd ander mense bedrieg.

SPREUKE 10:1-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Spreuke van Salomo. 'n Wyse seun maak sy vader en moeder bly; 'n dwase seun maak hulle hartseer. Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie; om te lewe volgens die wil van God, red 'n mens van die dood. Die Here laat die mens wat reg doen, nie honger ly nie, die Here laat die begeerte van dié wat verkeerd doen, nie bevredig word nie. 'n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm; dit is vlyt wat ryk maak. Die verstandige mens samel sy oes in as dit ryp is; 'n mens wat die oestyd deur slaap, verdien veragting. Die regverdige word geseën. Daar steek geweld agter die mooi woorde van die goddeloses. Die nagedagtenis van dié wat reg doen, leef voort; die naam van dié wat verkeerd doen, word gou vergeet. Die mens met verstand aanvaar bevele. Wie aanhou onsin praat, kom tot 'n val. Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind. Wie sy oë sluit vir die waarheid, veroorsaak smart; en wie aanhou onsin praat, kom self tot 'n val. Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk; agter die mooi woorde van die goddeloses steek daar geweld. Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee. Daar is wysheid in die woorde van een wat insig het; slae is vir dié wat nie hulle verstand gebruik nie. Wyse mense loop nie te koop met hulle kennis nie; as 'n dwaas sy mond oopmaak, is sy ondergang naby. Die rykdom is die ryke se veilige vesting; die armoede is die arme se ondergang. Die regverdige ontvang die lewe as beloning; die goddelose oes net straf. Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af. Agter die woorde van 'n huigelaar sit daar haat; wie skinderstories versprei, is 'n dwaas. Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig. Die woorde van die regverdige is die fynste silwer werd; die gedagtes van die goddelose is min werd. Met wat die regverdige sê, sorg hy vir baie; 'n dwaas gebruik nie sy verstand nie en bring die dood oor homself. Dit is die seën van die Here wat rykdom bring; jou geswoeg laat dit nie meer word nie. Die dwaas geniet dit om hom skandalig te gedra, maar die mens met insig geniet die wysheid. Wat die goddelose vrees, kom hom oor; wat die regverdige begeer, gee God hom. As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die regverdige bly altyd staan. Soos asyn teen die tande, soos rook in die oë, so is 'n lui mens vir iemand wat hom 'n opdrag gee. Wie die Here dien, lewe lank; wie sonder Hom lewe, se lewensjare is min. Vir die regverdiges lê daar vreugde voor; die goddeloses het geen toekoms nie. Om te leef soos die Here dit wil, is die krag van die opregte; vir dié wat onreg doen, wag daar ondergang. Die regverdige wankel nooit, die goddeloses sal nie die land bly bewoon nie. Daar kom wysheid uit die mond van die regverdige, 'n tong wat kwaad stig, sal uitgesny word. Die regverdige weet om die gepaste ding te sê; die goddeloses stig kwaad met wat hulle sê.

SPREUKE 10:1-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verheug sy vader, maar 'n dwase seun doen sy moeder verdriet aan. Skatte deur onreg verkry, baat niks nie, maar geregtigheid red van die dood. Die HERE laat die keel van 'n regverdige nie honger ly nie, maar die gulsigheid van goddeloses dwarsboom Hy. 'n Trae hand maak arm, maar die hand van vlytiges maak ryk. Wie in die somer versamel, is 'n verstandige seun; wie in die oestyd vas slaap, is 'n seun wat skande maak. Seëninge is bedoel vir die kop van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Herinnering aan 'n regverdige is tot seën, maar die roem van goddeloses verrot. Wie 'n wyse hart het, aanvaar gebooie; maar wie dwase lippe het, kom tot 'n val. Wie onberispelik leef, leef veilig; maar wie sy paaie vol kinkels maak, word betrap. Wie met sy oog knik, veroorsaak droefheid, en wie dwase lippe het, kom tot 'n val. 'n Bron van lewe is die mond van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Haat verwek tweedrag, maar liefde bedek alle oortredings. Op die lippe van 'n verstandige word wysheid gevind, maar 'n lat is vir die rug van iemand sonder verstand. Wyses hou kennis in bewaring, maar die mond van 'n sot huisves dreigende ondergang. Die besittings van 'n ryke is sy sterk stad; die ondergang van armes is hulle armoede. Die verdienste van 'n regverdige lei na die lewe; die inkomste van 'n goddelose lei na sonde. Wie ag slaan op vermaning, is op pad na lewe; maar wie teregwysing in die wind slaan, lei ander op 'n dwaalweg. Wie haat verberg, het leuenagtige lippe, en wie 'n gerug versprei, is 'n dwaas. By 'n oorvloed woorde bly oortredings nie uit nie; maar wie sy lippe in bedwang hou, is verstandig. Uitgesoekte silwer is op die tong van 'n regverdige; die gedagtes van goddeloses is min werd. Die lippe van 'n regverdige voed vele; maar sotte sterf deur 'n gebrek aan verstand. Die seën van die HERE – dit is wat ryk maak, en harde werk voeg daar niks by nie. Soos dit vir 'n dwaas 'n plesier is om 'n skandelike daad te begaan, so is wysheid vir 'n skerpsinnige mens. Wat 'n goddelose vrees, dit kom hom oor; maar wat regverdiges begeer, dit gee God. Wanneer 'n storm verbytrek, is 'n goddelose nie meer daar nie, maar 'n regverdige is 'n ewige fondament. Soos asyn vir die tande en rook vir die oë, so is 'n leeglêer vir die een wat hom stuur. Ontsag vir die HERE verleng die lewensdae, maar die jare van goddeloses word kortgeknip. Die verwagting van regverdiges is vreugde, maar die hoop van goddeloses vergaan. Die weg van die HERE is 'n toevlug vir wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners. 'n Regverdige sal nooit wankel nie, en goddeloses sal die land nie bewoon nie. Die mond van 'n regverdige bring wysheid voort, maar 'n verworde tong word afgesny. Die lippe van 'n regverdige weet wat aanvaarbaar is, maar die mond van goddeloses verdraai woorde.

SPREUKE 10:1-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verbly 'n vader, maar 'n dwase seun is die swaarkry van sy moeder. Skatte van goddeloosheid baat niks, maar geregtigheid red van die dood. Die HERE sal nie toelaat dat die siel van die regverdige honger ly nie, maar die goed van die goddelose verdryf Hy. Hy word arm wat met 'n slap hand handel, maar die hand van die vlytiges maak ryk. Hy wat in die somer insamel, is 'n wyse seun; maar hy wat in die oes slaap, is 'n seun wat skande maak. Seëninge is op die hoof van die regverdige, maar geweld bedek die mond van die goddelose. Die gedagtenis van die regverdige is geseënd, maar die naam van die goddelose sal verrot. Die wyse van hart sal gebooie ontvang, maar 'n gekwetter dwaas sal val. Hy wat opreg wandel, wandel sekerlik; maar hy wat sy weë verdraai, sal bekend word. Hy wat met die oog knip, veroorsaak droefheid, maar 'n fladderende dwaas sal val. Die mond van 'n regverdige is 'n put van die lewe, maar geweld bedek die mond van die goddelose. Haat verwek twis, maar liefde bedek alle sondes. Op die lippe van die verstandige word wysheid gevind, maar 'n roede is vir die rug van die verstandlose. Wyse manne bêre kennis, maar die mond van die dwase is naby die vernietiging. Die rykdom se rykdom is sy sterk stad; die ondergang van die armes is hulle armoede. Die arbeid van die regverdige lei tot die lewe, die vrug van die goddelose om te sondig. Hy is op die weg van die lewe wat tug bewaar, maar hy wat teregwysing weier, dwaal. Hy wat haat met leuenagtige lippe verberg, en hy wat laster uitspreek, is 'n dwaas. In die veelheid van woorde ontbreek die sonde nie, maar hy wat sy lippe terughou, is wys. Die tong van die regverdige is soos uitgesoekte silwer: die hart van die goddelose is min werd. Die lippe van die regverdiges voed baie, maar dwase sterf weens gebrek aan wysheid. Die seën van die HERE, dit maak ryk, en Hy voeg geen droefheid daarby nie. Vir 'n dwaas is dit 'n plesier om kwaad te doen, maar 'n man van verstand het wysheid. Die vrees vir die goddelose, dit sal oor hom kom, maar die begeerte van die regverdige word gegee. Soos 'n stormwind verbygaan, so is die goddelose nie meer nie, maar die regverdige is 'n ewige fondament. Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir die wat hom stuur. Die vrees van die HERE verleng die dae, maar die jare van die goddelose word verkort. Die hoop van die regverdiges is blydskap, maar die verwagting van die goddelose vergaan. Die weg van die HERE is 'n sterkte vir die opregtes, maar die werkers van ongeregtigheid is vernietig. Die regverdige sal nooit wankel nie, maar die goddelose sal die aarde nie bewoon nie. Die mond van die regverdige bring wysheid voort, maar die verkeerde tong sal uitgeroei word. Die lippe van die regverdige weet wat welgevallig is, maar die mond van die goddelose spreek valsheid.

SPREUKE 10:1-32 Die Boodskap (DB)

’n Gelowige kind maak sy ouers gelukkig. ’n Kind wat nie weet hoe om reg te leef nie, maak hulle hartseer. Geld wat oneerlik verkry is, bring net verdriet. Eerlike optrede maak ’n mens gelukkig. Die Here sorg vir sy kinders. Hy gee kos vir dié wat honger is. Die brandende begeertes van slegte mense word nooit waar nie. Wie lui is, word gou arm. Wie hard werk, het geld vir kos en klere. Wie hard werk, is slim. Wie rondstaan, niks doen en skelm slaap, is ’n verleentheid. Van ’n gelowige kan goeie dinge gesê word. Lank na sy dood word hy nog onthou. Sy woorde leef nog in mense se hart. Slegte mense se woorde is vol haat en geweld. Niemand dink daaroor na nie. Hulle word ook gou vergeet. ’n Gelowige neem die land se wette baie ernstig op. Wie dit verwerp, kom in die moeilikheid. Wie ’n reguit pad loop, is ’n gelukkige mens. Kronkelpaadjies bring jou in groot ellende. Wie skelmpies vir iemand knipoog om verkeerde dinge te doen kan groot moeilikheid veroorsaak. ’n Babbelende kletskous veroorsaak sy eie ondergang. ’n Gelowige se woorde kan baie vir mense beteken. Dit is ’n onuitputlike bron van inspirasie. Slegte mense se woorde is vol haat en nyd. Haat veroorsaak twis. Liefde vergewe alle oortredings. Wanneer ’n wyse praat, kan jy hoor hy ken die lewe. ’n Dwaas se woorde bring ’n mens net in die moeilikheid. ’n Wyse neem die lesse van die lewe ernstig op. ’n Dom mens weet niks van die regte manier van lewe nie. Sy geklets veroorsaak net ellende. ’n Ryke se geld kan hom lekker laat leef. Wie dit nie het nie, se lewe is hel. Die loon van ’n mens wat reg lewe, is die lewe. Die loon van die mens wat verkeerd lewe, is straf. Wie hom deur die spreuke laat leer, is op die regte pad. Hy sal die lewe in al sy volheid geniet. Wie dit verwerp, veroorsaak sy eie ondergang. Wie iemand haat, vertel liegstories oor hom. Skinderpraatjies is tipies van ’n dwaas. Iemand wat aanmekaar babbel, lap geheime uit en sê verkeerde dinge. Iemand wat sy praatlus beheer, is slim. ’n Gelowige se woorde is kosbaar. Dit kan baie vir mense beteken. ’n Dwaas se woorde beteken niks. Hy het geen begrip vir die regte manier van lewe nie. Sy gepraat lei mense net in nog dieper ellende in. As die Here vir ons goed is, ervaar ons arms vol geluk. Dit kom nie uit onsself nie, maar net van Hom. Ander mense sal dit ook in ons lewens kan sien. ’n Dwaas se lekkerste tydverdryf is om verkeerde dinge te doen, dinge te sê wat seermaak, mense se lewens te vernietig. Maar die gelowige doen wat reg is. Iemand wat nie die Here liefhet nie, se lewe is een groot stuk angs. Dit waarvoor hy bang is, word dikwels waar. Maar hulle wat die Here liefhet, se wense word waar. Wanneer die ellende soos ’n storm kom wat alles wil vernietig, kan ’n goddelose dit nie baasraak nie. Hy stort heeltemal in duie. Maar die gelowige kan enige krisis te bowe kom. Soos asyn jou op jou tande laat kners, soos rook jou oë laat brand, so irriterend is ’n luiaard vir sy baas. Liefde vir die Here maak die lewe die moeite werd. Ongelowiges se lewens is kort en vol angs. Dit waarop gelowiges hoop, word waar. Daar kom niks van ongelowiges se hoop nie. Die Here is die gelowige se krag. Sonder Hom is die lewe hel. ’n Gelowige sal altyd sy geloof behou. Ongelowiges sal alles verloor wat hulle het. ’n Gelowige se woorde is vol wysheid. Ander mense word daardeur verryk. Goddeloses se geklets beteken niks.

SPREUKE 10:1-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die spreuke van Salomo. ’n Kind wat verstandig is, maak sy pa bly. ’n Seun wat dwaas is, maak sy ma hartseer. Goed wat onwettig verkry is, bring geen blywende voordeel nie. Om reg te lewe, red ’n mens van die dood. Die HERE laat regverdiges nie honger ly nie. Hy vervul nie die begeerte van die goddelose nie. Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk. Die verstandige mens samel sy oes in in die somer. Hy wat in die oestyd slaap, bring skande oor homself. Die regverdige word oorlaai met seëninge. Die slegte bedoelings van goddeloses steek hulle weg agter woorde. Dié wat reg lewe, sal lank onthou word. Hulle wat verkeerd gelewe het, sal gou vergeet word. ’n Mens met verstand aanvaar bevele. Hulle wat onsin babbel, bereik niks. Die een wat opreg lewe, lewe in veiligheid. Die een wat kronkelpaaie loop, kom tot ’n val. Hy wat skelmstreke uitdink, veroorsaak moeilikheid. Hy wat aanhou onsin praat, kom self tot ’n val. Die woorde van die regverdige is soos ’n fontein van lewe. Die woorde van goddeloses steek geweld weg. Haat bring rusie. Liefde bedek wat verkeerd gedoen is. Iemand wat insig het, sê dinge wat verstandig is. Die een wat onverstandig is, kry slae. Wyse mense versamel kennis. Dwase se gebabbel bring spoedig teëspoed. Die ryke se eiendom gee vir hom beskerming. Armoede is die arm mens se ondergang. Wat die regverdige verdien, gebruik hy om van te lewe. Wat die goddelose verdien, verkwis hy op oortredings. Mense wat hulle laat reghelp, is op die pad na die lewe. Hulle wat teregwysing verwerp, laat ander verdwaal. Wie sy haat agter woorde wegsteek, is ’n leuenaar. Hy wat skinderstories versprei, is ’n dwaas. Meer woorde bring nie minder sonde nie. Hy wat sy woorde tel, is verstandig. Die woorde van die regverdige is soos gekeurde silwer. Die gedagtes van die goddelose is min werd. Die regverdiges bring lewe deur hulle woorde. Die dwase vernietig hulleself weens ’n gebrek aan gesonde verstand. Dit is die HERE se seën wat rykdom bring. Hy gee nie hartseer daarmee saam nie. Dit is vir die dwaas lekker om verkeerd op te tree. Mense met insig geniet die wysheid. Goddelose mense kom die dinge oor waarvoor hulle bang is. Die regverdige kry waarvoor hy gehoop het. Wanneer teëspoed kom soos ’n stormwind, is goddeloses daarmee heen, maar die regverdiges bly stewig staan. ’n Lui mens is ’n aanstoot vir dié wat hom werk gee. Hy is soos asyn tussen die tande, of soos rook in die oë. Hy wat ontsag het vir die HERE, maak sy lewe langer; die goddelose se lewe word kortgeknip. Die regverdiges kan vreugde verwag, maar goddeloses het geen hoop nie. Wat die HERE laat gebeur, versterk dié wat reg lewe. Dit vernietig egter hulle wat kwaad doen. Die regverdige sal nooit wankel nie. Die goddeloses sal nie in die land bly woon nie. Uit die mond van regverdiges kom wysheid. ’n Tong wat kwaad saai, sal afgesny word. Die regverdige weet wat die gepaste dinge is om te sê. Wat die goddeloses sê, bring moeilikheid.