Spreuke 10:1-32

Spreuke 10:1-32 AFR20

Spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verheug sy vader, maar 'n dwase seun doen sy moeder verdriet aan. Skatte deur onreg verkry, baat niks nie, maar geregtigheid red van die dood. Die HERE laat die keel van 'n regverdige nie honger ly nie, maar die gulsigheid van goddeloses dwarsboom Hy. 'n Trae hand maak arm, maar die hand van vlytiges maak ryk. Wie in die somer versamel, is 'n verstandige seun; wie in die oestyd vas slaap, is 'n seun wat skande maak. Seëninge is bedoel vir die kop van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Herinnering aan 'n regverdige is tot seën, maar die roem van goddeloses verrot. Wie 'n wyse hart het, aanvaar gebooie; maar wie dwase lippe het, kom tot 'n val. Wie onberispelik leef, leef veilig; maar wie sy paaie vol kinkels maak, word betrap. Wie met sy oog knik, veroorsaak droefheid, en wie dwase lippe het, kom tot 'n val. 'n Bron van lewe is die mond van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Haat verwek tweedrag, maar liefde bedek alle oortredings. Op die lippe van 'n verstandige word wysheid gevind, maar 'n lat is vir die rug van iemand sonder verstand. Wyses hou kennis in bewaring, maar die mond van 'n sot huisves dreigende ondergang. Die besittings van 'n ryke is sy sterk stad; die ondergang van armes is hulle armoede. Die verdienste van 'n regverdige lei na die lewe; die inkomste van 'n goddelose lei na sonde. Wie ag slaan op vermaning, is op pad na lewe; maar wie teregwysing in die wind slaan, lei ander op 'n dwaalweg. Wie haat verberg, het leuenagtige lippe, en wie 'n gerug versprei, is 'n dwaas. By 'n oorvloed woorde bly oortredings nie uit nie; maar wie sy lippe in bedwang hou, is verstandig. Uitgesoekte silwer is op die tong van 'n regverdige; die gedagtes van goddeloses is min werd. Die lippe van 'n regverdige voed vele; maar sotte sterf deur 'n gebrek aan verstand. Die seën van die HERE – dit is wat ryk maak, en harde werk voeg daar niks by nie. Soos dit vir 'n dwaas 'n plesier is om 'n skandelike daad te begaan, so is wysheid vir 'n skerpsinnige mens. Wat 'n goddelose vrees, dit kom hom oor; maar wat regverdiges begeer, dit gee God. Wanneer 'n storm verbytrek, is 'n goddelose nie meer daar nie, maar 'n regverdige is 'n ewige fondament. Soos asyn vir die tande en rook vir die oë, so is 'n leeglêer vir die een wat hom stuur. Ontsag vir die HERE verleng die lewensdae, maar die jare van goddeloses word kortgeknip. Die verwagting van regverdiges is vreugde, maar die hoop van goddeloses vergaan. Die weg van die HERE is 'n toevlug vir wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners. 'n Regverdige sal nooit wankel nie, en goddeloses sal die land nie bewoon nie. Die mond van 'n regverdige bring wysheid voort, maar 'n verworde tong word afgesny. Die lippe van 'n regverdige weet wat aanvaarbaar is, maar die mond van goddeloses verdraai woorde.