FILIPPENSE 4:14-23
FILIPPENSE 4:14-23 Bybel vir almal (ABA)
maar julle het die regte ding gedoen toe julle my gehelp het toe ek swaargekry het. Gemeente van Filippi, nadat ek weggegaan het uit die provinsie Masedonië en begin het om die goeie boodskap te bring, het ander gemeentes nie vir my gesorg nie. Julle weet dat net julle vir my gesorg het. Julle het ook 'n paar maal vir my die dinge gestuur wat ek nodig gehad het toe ek in die stad Tessalonika was. Maar dit is nie vir my belangrik dat ek iets van julle ontvang nie. Dit is vir my belangrik dat julle die seën moet ontvang wat mense kry wanneer hulle vir ander mense iets gee. Ek het alles gekry wat julle gestuur het en ek het nou genoeg. Epafroditos het vir my die goed gebring wat julle gestuur het, en nou het ek genoeg. Dit wat julle gestuur het, is 'n offer wat julle vir God gegee het, 'n offer wat Hy graag wil hê, 'n offer waarvan Hy baie hou. My God sal vir julle alles gee wat julle nodig het, want Hy het baie wonderlike dinge wat Hy vir ons wil gee, dinge wat van Christus Jesus kom. Ons prys God, ons Vader, altyd en altyd! Amen. Ek stuur groete vir al die gelowiges in die stad Filippi wat aan Christus Jesus behoort. Al die vriende hier by my stuur ook groete vir julle. Al die gelowiges hier stuur ook groete vir julle. Die mense wat vir die keiser werk, stuur spesiale groete. Ek bid dat die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle almal.
FILIPPENSE 4:14-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Nogtans het julle goed gedoen toe julle deel gehad het in my verdrukking. En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening. Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, welbehaaglik by God. En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus. Aan onse God en Vader die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broeders wat saam met my is, groet julle. Al die heiliges, en veral die wat aan die keiserlike huis behoort, groet julle. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.
FILIPPENSE 4:14-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan. Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle 'n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. Groete aan almal wat aan God behoort deur Christus Jesus. Die broers hier by my stuur vir julle groete. Ook al die gelowiges en veral dié wat aan die huis van die keiser verbonde is, stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees.
FILIPPENSE 4:14-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nogtans was dit goed van julle om in my swaarkry te deel. Julle weet ook, Filippense, dat aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Macedonië vertrek het, geen •gemeente tot my rekening van inkomste en uitgawes bygedra het nie, behalwe slegs julle. Ook in Thessalonika het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. Dit is nie dat ek van julle 'n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die opbrengs op julle belegging toenemend sal groei. Ek is ten volle vergoed, en het meer as genoeg; ek is ten volle versorg, noudat ek van Epafroditus ontvang het wat van julle af kom: 'n geurige offer, 'n aanneemlike offergawe wat God behaag. En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in •Christus Jesus. Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig! •Amen. Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broers wat hier by my is, stuur vir julle groete. Al die •heiliges, veral dié van die keiser se huishouding, stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus •Christus bly met julle gees!
FILIPPENSE 4:14-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nieteenstaande het julle goed gedoen, dat julle met my ellende gekommunikeer het. Nou weet julle ook, Filippense, dat in die begin van die evangelie, toe ek uit Masedonië vertrek het, geen gemeente met my gekommunikeer het oor gee en ontvang nie, behalwe julle alleen. Want selfs in Tessalonika het julle keer op keer na my behoefte gestuur. Nie omdat ek 'n gawe begeer nie, maar ek begeer vrugte wat oorvloedig kan wees vir julle rekening. Maar ek het alles en is oorvloedig: ek is versadig, nadat ek van Epafroditus die dinge ontvang het wat van julle gestuur is, 'n geur van 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, aan God welgevallig. Maar my God sal in al julle behoeftes voorsien volgens sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus. Nou aan God en ons Vader kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid. Amen. Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broeders wat saam met my is, groet julle. Al die heiliges groet julle, veral die wat van die keiser se huis is. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal. Amen. (Aan die Filippense geskryf uit Rome, deur Epafroditus.)
FILIPPENSE 4:14-23 Die Boodskap (DB)
Moet my asseblief nie misverstaan nie. Dit was baie mooi van julle om my te help toe dit maar sleg met my gegaan het. My liewe mede-Christene in Filippi, julle onthou mos nog hoe dit in die begin gegaan het. Ek het die goeie boodskap oor Jesus daar in die noordelike deel van Griekeland versprei. Nie ’n enkele gemeente wou my toe help nie. Maar julle was daar! Julle was bereid om te help. Ek was al in Tessalonika toe het julle my nog steeds gehelp. Sommer ’n paar maal het julle vir my iets gestuur toe ek dit regtig nodig gehad het. Tog is die geld wat julle vir my gestuur het nie die belangrikste nie. Wat belangriker is, is dat God vir julle ook wonderlike dinge gaan teruggee omdat julle so goed vir my was. Epafroditos het vir my alles gegee wat julle gestuur het. Nou het ek oorgenoeg, alles wat ek nodig het. God hou baie daarvan. Vir Hom is dit soos ’n wonderlike offer wat baie lekker ruik. Niemand is en kan ooit so ryk en belangrik wees soos God nie. Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort. Al die eer en respek en belangrikheid in hierdie wêreld is God s’n, vir ewig en altyd. So is dit en so sal dit wees. Sê asseblief groete namens my aan al die Christene daar by julle. Die Christene hier stuur ook groete. Die Christene wat op die keiser se personeel is, sê spesiaal groete. Mag ons Here Jesus Christus baie goed vir julle wees, ver meer as wat julle verdien. Mag julle hierdie goedheid diep in julle binneste ervaar.
FILIPPENSE 4:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nietemin, julle het goedgedoen deur my in my swaarkry by te staan. Julle, Filippense, weet wat in die beginjare met die uitdra van die Goeie Nuus gebeur het. Toe ek van Masedonië af vertrek het, het geen gemeente behalwe julle my finansieel ondersteun nie. Selfs toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een keer iets gestuur om my te help. Nie dat ek ’n skenking soek nie; ek soek die resultaat daarvan: groter krediet op julle rekening! Op hierdie stadium het ek alles ontvang – en meer as genoeg! Met dit wat julle saam met Epafroditus gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Wat julle gestuur het, is ’n lieflike reukoffer waarvan God hou. Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy heerlike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het. Aan dié God, wat ook ons Vader is, behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen. Dra my groete oor aan Christene daar. Al die broers en susters hier by my stuur groete. Al die ander Christene stuur ook groete, in besonder dié wat in die keiser se paleis werk. Mag ons Here Jesus Christus se genade julle geestelik versterk.