NUMERI 11:24-35

NUMERI 11:24-35 Die Boodskap (DB)

Moses het toe vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het die 70 leiers uitgesoek en hulle in ’n sirkel om die tent laat staan. Die Here het toe in die wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het dieselfde Gees wat Hy vir Moses gegee het om in sy Naam op te tree, ook vir die 70 leiers gegee. Toe dit gebeur, het hulle God se wil begin bekendmaak. Dit het egter net hierdie een keer gebeur. Twee van die leiers, Eldad en Medad, was nog in die kamp toe die Gees in hulle begin werk het. Hulle het net daar in die kamp waar hulle was, God se wil begin bekendmaak. ’n Jongman het toe na Moses toe gehardloop en vir hom gesê: “Eldad en Medad is besig om sommer in die kamp in die Naam van God te praat!” “Laat hulle tog ophou, Meneer,” het Nun se seun Josua gesê. Hy was van jongs af al Moses se helper. Toe vra Moses vir hom: “Is jy bang die mense luister nie meer na my nie? Ek wens die Here wil sy Gees vir die hele volk gee sodat hulle almal sy wil bekend kan maak!” Hierna is Moses met die 70 leiers terug kamp toe. Die Here het toe ’n wind laat opsteek wat voëls wat bekend was as kwartels van die see se kant af na die kamp toe gewaai het. Hulle het omtrent ’n meter van die grond af gevlieg en oral op die grond gaan sit vir kilometers aaneen, reg rondom die kamp. Die volk was die hele dag en die hele nag en die volgende dag besig om voëls te vang en bymekaar te maak. Nie een gesin het minder as 1 000 kilogram bymekaargemaak nie. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei om droog te word. Hulle was nog besig om van die vleis te eet, en daar was nog baie oor, toe die Here verskriklik kwaad vir hulle geword het. Hy het ’n siekte-epidemie onder hulle laat losbars wat baie mense doodgemaak het. Daarom het hulle die plek Kibrot-Taäwa, of begraafplaas van vleislus, genoem, want hulle het baie mense daar begrawe wat aan die epidemie dood is nadat hulle gulsig was oor vleis. Van daar af het die volk na Gaserot toe getrek waar hulle ’n ruk lank gebly het.

NUMERI 11:24-35 Bybel vir almal (ABA)

Moses het uitgegaan en hy het vir die volk gesê wat die Here gesê het. Toe het hy 70 van die leiers van Israel laat bymekaarkom en hy het gesê hulle moet rondom die tent staan. Daarna het die Here in 'n wolk afgekom en Hy het met Moses gepraat. Die Here het van die gees geneem wat in Moses was, en Hy het dit in die 70 leiers gesit. En toe die gees in die 70 manne kom, het hulle soos profete gepraat. Maar hulle het dit net daardie een maal gedoen. Twee manne, Eldad en Medad, het nie uitgegaan na die tent nie, hulle het in die kamp gebly. Hulle name was ook by die name van die 70 leiers. Toe die gees in hulle kom, het hulle daar in die kamp soos profete begin praat. 'n Jongman het gehardloop en hy het vir Moses gaan sê dat Eldad en Medad besig is om in die kamp soos profete te praat. Josua seun van Nun het vir Moses gewerk vandat hy klein was. Hy het gesê: “Meneer Moses, jy moet hulle stop.” Maar Moses het gesê: “Is jy bekommerd oor my? Ek wens die Here gee vir sy hele volk van sy Gees, sodat hulle almal profete kan wees.” Moses en die leiers van Israel het toe teruggegaan na die kamp. Die Here het toe 'n wind gestuur, en die wind het van die see af kwartels gebring en by die kamp laat val. Die kwartels het omtrent twee el diep op die grond gelê, omtrent so ver soos 'n mens in een dag kan loop langs al die kante van die kamp. Die mense het begin en hulle het daardie hele dag en die hele nag en die hele dag daarna kwartels bymekaargemaak. Die minste wat een persoon bymekaargemaak het, was tien gomer. Hulle het die kwartels rondom die kamp gegooi om droog te word. Die mense het begin eet, maar hulle het nog nie die vleis in hulle monde begin kou nie, toe laat die Here baie van hulle sterf, want Hy was kwaad vir hulle. Hulle het die mense daar begrawe, die mense wat so lus was vir vleis, en hulle het die plek genoem “Lus-grafte.” Die volk het van Lus-grafte verder gegaan, en hulle het gekom by die stad Gaserot.

NUMERI 11:24-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het Moses uitgegaan en die woorde van die HERE aan die volk te kenne gegee; en hy het sewentig manne uit die oudstes van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan. Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie. Maar twee manne het in die laer agtergebly: die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad; en die Gees het op hulle gerus — hulle het behoort by die wat opgeskrywe was, hoewel hulle nie na die tent uitgegaan het nie — en hulle het in die laer geprofeteer. Toe hardloop 'n seun en vertel dit aan Moses en sê: Eldad en Medad profeteer in die laer. En Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses van sy jeug af, antwoord en sê: My heer Moses, belet hulle dit! Maar Moses sê vir hom: Ywer jy vir my? Ag, as die hele volk van die HERE maar profete was, dat die HERE sy Gees oor hulle mag gee! Daarop het Moses hom in die laer teruggetrek, hy en die oudstes van Israel. Toe het 'n wind wat van die HERE kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent 'n dagreis hier en omtrent 'n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond. Toe het die volk opgestaan daardie hele dag en die hele nag en die hele volgende dag en die kwartels versamel. Hy wat die minste gehad het, het tien homer versamel. En hulle het dit oral vir hulle uitgesprei rondom die laer. Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van die HERE alreeds teen die volk ontvlam het, en die HERE het onder die volk 'n baie groot slagting teweeggebring. Daarom het hulle dié plek genoem Kibrot-Hattáäwa; want daar het hulle die volk begrawe wat so begerig was. Van Kibrot-Hattáäwa af het die volk weggetrek na Háserot toe, en hulle het in Háserot gebly.

NUMERI 11:24-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Moses het vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het sewentig leiers van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan. Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en 'n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie. Twee van die manne onder dié wat opgeskryf was, het nie na die tent toe uitgegaan nie, maar het in die kamp agtergebly. Die een se naam was Eldad en die ander s'n Medad. Terwyl die Gees op hulle gerus het, het hulle in die kamp as profete opgetree. 'n Jongman het toe gehardloop en vir Moses gaan vertel: “Eldad en Medad tree as profete op in die kamp!” Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!” Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” Daarna het Moses en die leiers na die kamp toe teruggegaan. Die Here het toe 'n wind gestuur en dit het kwartels van die see se kant af aangebring en hulle rondom die kamp laat val, omtrent 'n dagreis ver na alle kante toe en omtrent 'n meter diep op die grond. Die volk het daardie hele dag en die hele nag en ook die volgende dag uitgegaan en kwartels bymekaargemaak. Elkeen het minstens 'n ton vleis bymekaargemaak en dit rondom die kamp oopgegooi. Die vleis was nog tussen hulle tande, hulle het nog nie begin kou nie, toe ontvlam die toorn van die Here teen die volk. Hy het baie van hulle om die lewe gebring. Hulle het dié plek Kibrot-Taäwa genoem, omdat hulle die gulsige mense daar begrawe het. Van Kibrot-Taäwa af het die volk na Gaserot toe weggetrek en daar gebly.

NUMERI 11:24-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Moses het uitgegaan en die HERE se woorde aan die volk meegedeel. Hy het sewentig man onder die oudstes van die volk bymekaargemaak en hulle rondom die tent laat staan. Die HERE het toe in die wolk afgekom en met hom gepraat. Hy het van die Gees, wat op Moses was, weggeneem en op die sewentig man, die oudstes, laat kom. Terwyl die Gees op hulle rus, het hulle vurig geprofeteer, maar daarna nie weer nie. Twee manne het egter in die kamp agtergebly, die een se naam was Eldad en die ander s'n Medad. Hulle was onder dié wat ingeskryf is, maar hulle het nie na die tent toe uitgegaan nie. Die Gees het ook op hulle gerus en hulle het in die kamp vurig geprofeteer. 'n Jong man het gehardloop en dit vir Moses vertel en gesê: “Eldad en Medad profeteer vurig in die kamp.” Josua, seun van Nun, wat van jongs af vir Moses diens gedoen het, het daarop gereageer; hy het gesê: “Moses, my heer, laat hulle ophou!” Maar Moses het vir hom gesê: “Is jy oorywerig ter wille van my? Ag, was die hele volk van die HERE maar profete, dat die HERE sy Gees oor hulle sou laat kom!” Moses het daarna na die kamp teruggekeer, hy en die oudstes van Israel. 'n Wind wat van die HERE af kom, het toe opgesteek. Dit het kwartels van die see af aangewaai, en hulle oor die kamp gelos – ongeveer twee el bo die grond, 'n dagreis ver aan alle kante rondom die kamp. Die volk het daardie hele dag, die hele nag en ook die hele volgende dag opgebly en kwartels bymekaargemaak. Die een wat die minste gehad het, het tien gomer bymekaargemaak. En hulle het dit vir hulleself oral rondom die kamp uitgesprei. Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit klaar gekou is, toe die HERE se toorn teen die volk ontbrand. Hy het 'n baie groot slagting onder die volk aangerig. Daardie plek is toe Kibrot-Taäwa genoem, want daar is die gulsige volk begrawe. Vanaf Kibrot-Taäwa het die volk verder getrek na Gaserot, en hulle het in Gaserot gebly.

NUMERI 11:24-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Moses het toe uitgegaan en die woorde van die HERE aan die volk meegedeel en die sewentig man van die oudstes van die volk versamel en hulle rondom die tabernakel gesit. En die HERE het in 'n wolk neergedaal en met hom gespreek en van die Gees geneem wat op hom was, en dit aan die sewentig oudstes gegee; en toe die Gees op hulle gerus het, het hulle geprofeteer, en het nie opgehou nie. Maar daar het twee van die manne in die laer oorgebly, die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad; en die gees het op hulle gerus; en hulle was van die beskrywers, maar het nie uitgegaan na die tabernakel nie; en hulle het in die laer geprofeteer. En daar het 'n jongman gehardloop en dit aan Moses vertel en gesê: Eldad en Medad profeteer in die laer. En Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, een van sy jongmanne, het geantwoord en gesê: My heer Moses, verbied hulle! Toe sê Moses vir hom: Is jy beny om my ontwil? Mag God tog dat die hele volk van die HERE profete is en dat die HERE sy Gees op hulle sou lê! En Moses het hom in die laer ingetrek, hy en die oudstes van Israel. En daar het 'n wind van die HERE af uitgegaan en kwartels van die see af gebring, en hulle het by die laer laat val, soos 'n dagreis aan hierdie kant, en soos 'n dagreis aan die oorkant, rondom die kamp, en as 't ware twee el hoog op die oppervlakte van die aarde. En die volk het daardie hele dag en die hele nag en die hele volgende dag opgestaan en die kwartels bymekaargemaak; die een wat die minste bymekaargemaak het, het tien homers bymekaargemaak, en hulle het dit almal vir hulle versprei rondom die laer. En terwyl die vleis nog tussen hulle tande was, voordat dit gekou was, het die toorn van die HERE teen die volk ontvlam, en die HERE het die volk met 'n baie groot plaag getref. En hy het daardie plek Kibrothattaäva genoem, want daar het hulle die begeertes begrawe. En die volk het van Kibrot-Hattaäva na Haserot weggetrek; en in Haserot gebly.

NUMERI 11:24-35 Die Boodskap (DB)

Moses het toe vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het die 70 leiers uitgesoek en hulle in ’n sirkel om die tent laat staan. Die Here het toe in die wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het dieselfde Gees wat Hy vir Moses gegee het om in sy Naam op te tree, ook vir die 70 leiers gegee. Toe dit gebeur, het hulle God se wil begin bekendmaak. Dit het egter net hierdie een keer gebeur. Twee van die leiers, Eldad en Medad, was nog in die kamp toe die Gees in hulle begin werk het. Hulle het net daar in die kamp waar hulle was, God se wil begin bekendmaak. ’n Jongman het toe na Moses toe gehardloop en vir hom gesê: “Eldad en Medad is besig om sommer in die kamp in die Naam van God te praat!” “Laat hulle tog ophou, Meneer,” het Nun se seun Josua gesê. Hy was van jongs af al Moses se helper. Toe vra Moses vir hom: “Is jy bang die mense luister nie meer na my nie? Ek wens die Here wil sy Gees vir die hele volk gee sodat hulle almal sy wil bekend kan maak!” Hierna is Moses met die 70 leiers terug kamp toe. Die Here het toe ’n wind laat opsteek wat voëls wat bekend was as kwartels van die see se kant af na die kamp toe gewaai het. Hulle het omtrent ’n meter van die grond af gevlieg en oral op die grond gaan sit vir kilometers aaneen, reg rondom die kamp. Die volk was die hele dag en die hele nag en die volgende dag besig om voëls te vang en bymekaar te maak. Nie een gesin het minder as 1 000 kilogram bymekaargemaak nie. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei om droog te word. Hulle was nog besig om van die vleis te eet, en daar was nog baie oor, toe die Here verskriklik kwaad vir hulle geword het. Hy het ’n siekte-epidemie onder hulle laat losbars wat baie mense doodgemaak het. Daarom het hulle die plek Kibrot-Taäwa, of begraafplaas van vleislus, genoem, want hulle het baie mense daar begrawe wat aan die epidemie dood is nadat hulle gulsig was oor vleis. Van daar af het die volk na Gaserot toe getrek waar hulle ’n ruk lank gebly het.

NUMERI 11:24-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses is toe uit na die volk toe om vir hulle te sê wat die HERE gesê het. Hy het 70 leiers bymekaargemaak en hulle reg rondom die tabernakel laat staan. Die HERE het in ’n wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het sy Gees wat in Moses was ook oor die 70 mans laat kom. Toe die Gees oor hulle gekom het, het hulle begin profeteer. Dit het net hierdie een keer met hulle gebeur. Twee mans, Eldad en Medad, was deel van die 70 mans. Hulle het in die kamp agtergebly. Hulle het nie saamgegaan na die tabernakel toe nie. Toe die Gees oor die mans gekom het, het hulle ook begin profeteer daar waar hulle in die kamp was. ’n Jong seun het gehardloop en vir Moses kom sê: “Eldad en Medad is besig om in die kamp te profeteer!” Josua, die seun van Nun, was van jongs af Moses se assistent. Hy het vir Moses gesê: “Meneer moet hulle stop!” Moses het hom geantwoord: “Is jy ter wille van my jaloers op hulle? Het die HERE tog maar van die hele volk profete gemaak! Het sy Gees maar oor hulle almal gekom!” Moses en die leiers is toe weer terug na die kamp toe. Die HERE het toe ’n wind laat waai. Dit het kwartels van die see af oor die kamp gewaai. Hulle het reg rondom die kamp geval, omtrent ’n dagreis ver in alle rigtings en omtrent ’n meter diep. Die volk het uitgegaan en daardie hele dag en nag en ook nog die volgende dag kwartels bymekaargemaak. Die minste wat enigeen bymekaargemaak het, was 50 houers. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei. Nog voor hulle die vleis klaar geëet het, het die HERE se woede teen die volk losgebars. Die HERE het ’n baie groot siekte onder hulle laat uitbreek. Daardie plek se naam het “Kibrot-Taäwa” geword. Daar is die mense begrawe wat so lus vir vleis geword het. Van daar af is die volk na Gaserot toe. Hulle het ’n tyd lank daar gebly.