Numeri 11:24-35

Numeri 11:24-35 ABA

Moses het uitgegaan en hy het vir die volk gesê wat die Here gesê het. Toe het hy 70 van die leiers van Israel laat bymekaarkom en hy het gesê hulle moet rondom die tent staan. Daarna het die Here in 'n wolk afgekom en Hy het met Moses gepraat. Die Here het van die gees geneem wat in Moses was, en Hy het dit in die 70 leiers gesit. En toe die gees in die 70 manne kom, het hulle soos profete gepraat. Maar hulle het dit net daardie een maal gedoen. Twee manne, Eldad en Medad, het nie uitgegaan na die tent nie, hulle het in die kamp gebly. Hulle name was ook by die name van die 70 leiers. Toe die gees in hulle kom, het hulle daar in die kamp soos profete begin praat. 'n Jongman het gehardloop en hy het vir Moses gaan sê dat Eldad en Medad besig is om in die kamp soos profete te praat. Josua seun van Nun het vir Moses gewerk vandat hy klein was. Hy het gesê: “Meneer Moses, jy moet hulle stop.” Maar Moses het gesê: “Is jy bekommerd oor my? Ek wens die Here gee vir sy hele volk van sy Gees, sodat hulle almal profete kan wees.” Moses en die leiers van Israel het toe teruggegaan na die kamp. Die Here het toe 'n wind gestuur, en die wind het van die see af kwartels gebring en by die kamp laat val. Die kwartels het omtrent twee el diep op die grond gelê, omtrent so ver soos 'n mens in een dag kan loop langs al die kante van die kamp. Die mense het begin en hulle het daardie hele dag en die hele nag en die hele dag daarna kwartels bymekaargemaak. Die minste wat een persoon bymekaargemaak het, was tien gomer. Hulle het die kwartels rondom die kamp gegooi om droog te word. Die mense het begin eet, maar hulle het nog nie die vleis in hulle monde begin kou nie, toe laat die Here baie van hulle sterf, want Hy was kwaad vir hulle. Hulle het die mense daar begrawe, die mense wat so lus was vir vleis, en hulle het die plek genoem “Lus-grafte.” Die volk het van Lus-grafte verder gegaan, en hulle het gekom by die stad Gaserot.