NUMERI 11:1-15
NUMERI 11:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het 'n deel van die kamp verbrand. Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. Hulle het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het. Die mense van ander afkoms wat saam met die Israeliete getrek het, het 'n onweerstaanbare lus vir vleis gekry, en toe het die Israeliete self ook begin kla en gesê: “As ons tog net vleis gehad het om te eet! Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet, ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel. Maar nou wurg ons. Daar is niks behalwe hierdie manna voor ons nie!” Die manna was soos koljandersaad en het gelyk soos balsemgom. Die volk het die manna oral vandaan bymekaargemaak, dit op maalklippe gemaal of in vysels gestamp en dan in panne gebak of roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak. Die manna het snags saam met die dou by die kamp geval. Moses het die volk hoor kla, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here het hieroor baie kwaad geword, en dit was ook verkeerd in Moses se oë. Moses sê toe vir die Here: “Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos 'n oppasser met 'n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het’? Waar sal ek die vleis vandaan haal om aan hierdie hele volk te gee, hulle wat by my kla en sê: ‘Gee vir ons vleis dat ons kan eet!’ Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.”
NUMERI 11:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Eendag het die Israeliete gekla dat dit sleg gaan met hulle, en die Here het gehoor dat hulle kla. Hy het kwaad geword en Hy het vuur tussen hulle laat brand. Die buitenste deel van die kamp het verbrand. Die volk het gevra dat Moses hulle moet help, en Moses het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. Hulle het daardie plek “Die Brandplek” genoem, omdat die Here daar 'n vuur tussen hulle laat brand het. Eendag het 'n paar slegte mense wat tussen die Israeliete was, baie lus geword vir vleis. Die Israeliete het ook gehuil en gevra: “Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die vis wat ons in Egipte kon eet, ons het nie daarvoor betaal nie. En ons dink aan die komkommers, die spanspekke, die preie, die uie en die knoffel. Maar nou moet ons droë kos eet. Ons sien net manna, niks ander kos nie.” Die manna was soos koljander-saad en dit het geblink soos 'n boom se gom. Die mense het gegaan en hulle het die manna bymekaargemaak. Hulle het dit gemaal op maalklippe of dit fyngestamp in stampblokke, en dan het hulle dit gekook en koekies daarvan gemaak. Die koekies het gesmaak soos olyfolie-koekies. Wanneer die dou in die nag in die kamp geval het, dan het die manna saam met die dou geval. Moses het gehoor dat die mense huil, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here was baie kwaad, en Moses was bang en ontsteld daaroor. Moses het vir die Here gevra: “Hoekom laat U my swaarkry? Ek is u dienaar. Hoekom is U onvriendelik met my? U het gesê ek moet hierdie hele volk dra, en dit is 'n swaar vrag om te dra. Ek is nie hulle ma nie, maar U sê vir my ek moet hulle soos 'n kinder-oppasser teen my bors dra na die land wat U aan hulle voorvaders belowe het. Waar moet ek vleis kry vir al hierdie mense? Want hulle huil by my en hulle sê ek moet vir hulle vleis gee om te eet. Ek kan nie hierdie hele volk alleen dra nie, dit is te swaar vir my. As U my so swaar wil laat kry, dan sal dit beter wees as U my doodmaak, dit sal beter wees vir my. U moenie my so swaar laat kry nie.”
NUMERI 11:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. EN die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. Maar nou is ons siel dor; daar's glad niks nie: net die manna is voor ons oë. Die manna was soos koljandersaad, en dit het gelyk na balsemgom. Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeule gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in potte gekook en daarvan roosterkoeke gemaak. En die smaak daarvan was soos die smaak van oliekoeke. En as die dou snags op die laer val, het die manna ook daarop geval. Toe het Moses die volk, volgens hulle geslagte, elkeen by die deur van sy tent hoor ween; en die toorn van die HERE het grootliks ontvlam; ook was dit verkeerd in die oë van Moses. En Moses sê aan die HERE: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê? Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos 'n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met 'n eed beloof het? Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet. Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar. En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.
NUMERI 11:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die volk het erg begin kla in die ore van die HERE. Toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontbrand. Die vuur van die HERE het teen hulle ontbrand, en dit het die rand van die kamp verteer. Die volk het na Moses om hulp geroep; Moses het tot die HERE gebid, en die vuur het doodgegaan. Daardie plek is toe Tabera genoem, omdat die vuur van die HERE teen hulle ontbrand het. Die gepeupel wat tussen die Israeliete was, het baie gulsig geraak. Ook die Israeliete het weer gekerm en gesê: “As iemand ons tog maar net vleis sal gee om te eet! Ons onthou die vis wat ons in Egipte geëet het, verniet; ook die komkommers, waatlemoene, preie, uie en knoffel. Maar nou is ons kele droog; daar is absoluut niks behalwe hierdie manna waarteen ons moet vaskyk nie.” Die manna was soos koljandersaad en het die kleur van balsemhars gehad. Die volk het rondgegaan, dit bymekaargemaak en dan met maalklippe gemaal of in vysels fyngestamp. Hulle het dit in potte gekook en roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het gesmaak soos iets wat met olie gebak is. Wanneer die dou snags op die kamp afgekom het, het die manna daarmee saam afgekom. Moses het die volk hoor kerm, in hulle familiegroepe, elkeen by die ingang van sy tent. Die toorn van die HERE het hewig ontbrand. In die oë van Moses was dit verkeerd. Moses sê toe vir die HERE: “Waarom maak U dit moeilik vir u dienskneg? Waarom vind ek nie genade in u oë nie? Om darem die las van hierdie hele volk op my te plaas! Het ék dan swanger geraak met hierdie hele volk of het ék aan hulle geboorte gegee, dat U vir my sê, ‘Dra hulle teen jou bors soos 'n pleegouer 'n suigeling dra’ na die grond wat U aan hulle voorouers met 'n eed beloof het? Waar moet ek vleis kry om vir hierdie hele volk te gee? Want hulle kerm by my en sê, ‘Gee vir ons vleis, sodat ons kan eet!’ Alleen kan ek hierdie hele volk nie dra nie, want dit is te veeleisend vir my. As U so met my wil maak, maak my dan maar dadelik dood. As ek genade in u oë gevind het, laat my dan nie my ellende aanskou nie.”
NUMERI 11:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En as die volk gekla het, was dit verkeerd in die oë van die HERE, en die HERE het dit gehoor; en sy toorn het ontvlam; en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en die wat in die uithoeke van die laer was, verteer. En die volk het Moses aangeroep; en toe Moses tot die HERE gebid het, was die vuur geblus. En hy het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. En die menigte wat onder hulle was, het begeer geword, en die kinders van Israel het ook weer geween en gesê: Wie sal ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die vis wat ons verniet in Egipte geëet het; die komkommers en die spanspekke en die preie en die uie en die knoffel; Maar nou is ons siel verdroog: daar is niks buiten hierdie manna voor ons oë nie. En die manna was soos koljandersaad, en die kleur daarvan soos die kleur van bdellium. En die volk het rondgegaan en dit bymekaargemaak en in meule gemaal, of in 'n vysel geslaan en dit in panne gebak en koeke daarvan gemaak, en die smaak daarvan was soos die smaak van vars olie. En toe die dou in die nag op die laer geval het, het die manna daarop geval. Toe het Moses die volk hoor huil volgens hulle geslagte, elkeen by die ingang van sy tent; en die toorn van die HERE het baie ontvlam; Moses was ook ontevrede. Toe sê Moses vir die HERE: Waarom het U U kneg verdruk? en waarom het ek geen genade in U oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê? Het ek al hierdie volk ontvang? Het Ek hulle gegenereer, dat jy vir My sou sê: Dra hulle in jou boesem, soos 'n pleegvader die suigling baar, na die land wat U aan hulle vaders met 'n eed beloof het? Waar moet ek vlees hê om aan al hierdie volk te gee? want hulle ween My en sê: Gee ons vleis, dat ons kan eet. Ek is nie in staat om al hierdie volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. En as jy so met my handel, maak my tog dood as ek genade in jou oë gevind het; en laat my my ellende nie sien nie.
NUMERI 11:1-15 Die Boodskap (DB)
Dit was nie lank nie of die volk het by die Here oor alles begin kla. Toe Hy dit hoor, was Hy baie kwaad. In sy woede het Hy ’n deel van die kamp aan die brand laat slaan en dit tot op die grond laat afbrand. Die volk het by Moses hulp gaan soek en toe hy tot die Here bid, het die Here die vuur laat doodgaan. Hulle het die plek Tabera, plek van die brand, genoem, want daar het die Here ’n reusevuur onder hulle laat brand. Sommige van die mense van ander volke wat saam met die Israeliete getrek het, het so lus gekry vir vleis dat hulle net wou terugdraai Egipte toe. Dit het gemaak dat baie van die Israeliete self ook begin kla het. “As ons tog maar net ’n stukkie vleis gehad het om te eet,” het hulle gekerm. “Om nie eers te praat van die vis wat ons in Egipte verniet gekry het nie! En wat van die komkommers en waatlemoene, ja, selfs preie, uie en knoffel, net soveel as wat ons wou hê. Hier krepeer ons van die ellende en al wat ons het om te eet is manna, dagin en daguit!” Die manna was so groot soos koljandersaad met ’n geel kleur. Die manna het elke nag saam met dou om die kamp geval. Die volgende oggend het die mense dit oral gaan optel en dit op uitgeholde klippe met ’n ander klip fyngemaal, of in ’n bakkie met ’n ronde voorwerp fyngedruk. Hierdie fyngemaakte manna kon dan gekook word, of soos koek in panne gebak word. Die mannakoeke het net soos oliekoeke gesmaak. Moses het gehoor hoe die mense in groepies by hulle tente rondstaan en onder mekaar kla. Die Here was woedend hieroor. Moses self was ook baie ontsteld en het vir die Here gesê: “Waarom behandel U my so sleg? Wat het ek gedoen om so ’n las soos hierdie volk te verdien? Is hulle miskien my kinders wat ek in die wêreld gebring het? Moet ek nou soos ’n babaoppasser met hulle in my arms rondloop tot in die Beloofde Land? Hulle loop die hele dag lank en kerm oor vleis. Waar moet ek vir al hierdie mense vleis vandaan kry? Ek sien regtig nie kans om vir hierdie hele volk verantwoordelikheid te neem nie. Dit is net te veel gevra van een mens. As dit is hoe U my gaan behandel, doen my eerder ’n guns en laat my doodgaan. Ek kan nie so aangaan nie.”
NUMERI 11:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die volk het by die HERE begin kla oor hulle swaarkry. Toe Hy dit hoor, het die Here kwaad geword. Vuur wat van die HERE af kom, het onder hulle uitgebreek. Dit het tot op die kant van die kamp gebrand. Hulle het na Moses geroep om hulle te help. Hy het tot die HERE gebid en die vuur het bedaar. Die plek is toe Tabera genoem, want vuur wat van die HERE af kom, het daar onder hulle gebrand. ’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry. Die Israeliete het toe ook begin kerm: “Waar kan ons tog vleis kry? Ons onthou nog hoe ons net soveel vis kon eet soos ons wou in Egipte. Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel. Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!” Die manna was soos koljandersaad. Dit het ’n vaal kleur gehad. Die volk het uitgegaan en dit van die grond af opgetel. Hulle het dit dan tussen klippe gemaal of in ’n vysel stukkend gestamp. Daarna het hulle dit in ’n pot gekook en dan daarvan plaatkoeke gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak. Die manna het saam met die dou gedurende die nag geval. Moses het gehoor hoe die stamme van die volk by hulle tente se openinge staan en mor. Die HERE het baie kwaad geword. Dit was vir Moses ’n baie verkeerde ding. Moses vra toe vir die HERE: “Waarom het U hierdie moeilikheid oor u dienaar gebring? Waarom het U my met hierdie volk opgesaal? Is ek hierdie volk se pa? Het ek hulle gemaak dat U vir my sê: ‘Dra hulle in jou arms soos ’n oppasser ’n suigeling ronddra. Vat hulle na die land wat Ek vir hulle voorsate beloof het.’ Waar gaan ek vleis kry vir hierdie hele volk? Hulle kerm by my en hulle vra: ‘Gee vir ons vleis om te eet.’ “Ek kan nie alleen hierdie hele volk versorg nie. Hulle is te veel vir my. As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk.”