NEHEMIA 13:4-14

NEHEMIA 13:4-14 Bybel vir almal (ABA)

Die priester Eljasib moes kyk dat alles reg is in die kamers by die tempel van ons God. Hy was familie van Tobija, en hy het voorheen vir Tobija 'n groot kamer gegee om in te woon. Dit was die kamer waarin hulle voorheen die koring vir die koring-offer gebêre het en ook die wierook en die gereedskap en die tiendes van koring, wyn en olyf-olie. Die Leviete en die mense wat moes sing en die poortwagte moes die tiendes kry, en die priesters moes hulle eie deel van die tiendes kry. Ek was in daardie tyd nie in Jerusalem nie, want ek het teruggegaan na koning Artasasta van Babel. Dit was in die 32ste jaar nadat Artasasta koning geword het. Maar ná 'n tyd het ek vir die koning gevra of ek na Jerusalem mag gaan. Toe ek in Jerusalem kom, het ek gehoor dat Eljasib 'n verkeerde ding gedoen het. Eljasib het vir Tobija 'n kamer gegee langs die oop stuk grond by die tempel. Ek het gedink dit is baie verkeerd. Ek het Tobija se goed uit die kamer gegooi en ek het gesê die priesters moet die kamers reinig. Daarna het ek die tempel-gereedskap daar teruggesit en ook die koring en die wierook. Ek het gehoor dat die Leviete nie kos gekry het nie, en dat hulle teruggegaan het na hulle grond om daar te werk. Die Leviete en die mense wat gesing het, moes die werk by die tempel doen. Ek het met die leiers geraas en vir hulle gesê: “Hoekom het julle nie die tempel netjies gehou en reggemaak nie?” Ek het die Leviete laat terugkom en ek het hulle weer daar laat werk. Al die mense van Juda het toe weer die tiendes van koring, wyn en olyf-olie na die stoorkamers gebring. Ek het mense gekies en aangestel oor die stoorkamers. Hulle moes die tiendes verdeel tussen die Leviete. Dit was die priester Selemja en die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja. Ganan seun van Sakkur seun van Mattanja moes hulle help. Ek het geweet hulle sal die werk goed doen. Ek het gebid en gesê: “My God, U moet onthou wat ek gedoen het. Ek het gedoen wat ek moes doen vir die tempel van my God en vir die werk daar, U moenie dit vergeet nie.”

NEHEMIA 13:4-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar tevore het Éljasib, die priester wat oor die kamers van die huis van onse God aangestel was, 'n verwant van Tobía, vir hom 'n groot kamer ingerig waar hulle vroeër die spysoffer, die wierook en die gereedskappe en die tiendes van koring, mos en olie, die wettige aandeel van die Leviete en die sangers en die poortwagters, en die offergawe aan die priesters neergesit het. Maar gedurende dit alles was ek nie in Jerusalem nie; want in die twee-en-dertigste jaar van Artasásta, die koning van Babel, het ek by die koning gekom; en ná verloop van tyd het ek verlof gevra van die koning en na Jerusalem gekom. Toe het ek die kwaad opgemerk wat Éljasib gedoen het deur vir Tobía 'n kamer in die voorhowe van die huis van God in te rig. En ek was erg ontstemd, sodat ek al die huisraad van Tobía uit die kamer buitentoe gegooi het, met die bevel dat hulle die kamers moes reinig; en ek het die gereedskappe van die huis van God, die spysoffer en die wierook daarin teruggebring. Ook het ek verneem dat die aandele van die Leviete nie gegee is nie, sodat die Leviete en die sangers wat die dienswerk moes verrig, elkeen na sy grond gevlug het. En ek het met die leiers getwis en gesê: Waarom is die huis van God in verwaarlosing? En ek het hulle bymekaar laat kom en hulle weer op hulle pos aangestel. En die hele Juda het die tiendes van koring en mos en olie na die voorraadkamers gebring. En oor die voorraadkamers het ek Selémja, die priester, en Sadok, die skrywer, en Pedája, uit die Leviete, as skatmeesters aangestel; en as hulp vir hulle: Hanan, die seun van Sakkur, die seun van Mattánja, omdat hulle vertroubaar geag is; en hulle moes aan hulle broers uitdeel. Dink hierom aan my, my God, en delg tog my liefdediens nie uit wat ek aan die huis van my God en aan die instellinge daarvan bewys het nie.

NEHEMIA 13:4-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Tevore het die priester Eljasib, wat in beheer was van die opslagplek by die huis van ons God en familie van Tobija was, vir Tobija 'n groot kamer ingerig wat tevore gebruik was vir die graanoffer, die wierook, die offergereedskap, die tiendes van koring, wyn en olie, die aandeel van die Leviete, die sangers en die poortwagte, en die offergawe vir die priesters. Ek was nie in Jerusalem toe dit alles gebeur het nie, want in die twee en dertigste regeringsjaar van koning Artasasta van Babel is ek terug na die koning toe. Ek kon eers met verloop van tyd van die koning verlof vra en na Jerusalem toe kom. Toe ek uitvind watter verkeerde ding Eljasib gedoen het deur vir Tobija 'n kamer in die voorhof van die tempel in te rig, was ek baie kwaad. Ek het al Tobija se huisraad uit die kamer gegooi en opdrag gegee dat die kamer gereinig moet word. Daarna het ek die goed wat in die tempel gebruik is, en die graanoffer en die wierook daar teruggesit. Verder het ek uitgevind dat die Leviete nie hulle aandeel aan onderhoud ontvang het nie, en dat hulle en die sangers wat dienswerk moes doen, weg is, elkeen na sy eie grond toe. Ek het die ampsdraers sterk aangespreek en gesê: “Waarom is die tempel verwaarloos?” Daarna het ek die Leviete weer bymekaargemaak en in hulle poste teruggeplaas. Die hele Juda het daarna die tiendes van koring, wyn en olie ingebring na die voorraadkamers toe. Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die voorraadkamers geplaas, en hulle is bygestaan deur Ganan seun van Sakkur, seun van Mattanja. Hulle is as betroubaar beskou, en dit was hulle taak om die uitdeling aan hulle ampsgenote te doen. Onthou tog wat ek gedoen het, my God! Moet tog nie dat my liefdesdade wat ek vir die huis van my God en vir sy diens gedoen het, vergeet raak nie.

NEHEMIA 13:4-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Voor hierdie gebeure het Eljasib, die priester, wat oor die vertrekke van die huis van ons God aangestel is, 'n nabye familielid van Tobija, vir Tobija 'n groot vertrek ingerig waar die •graanoffers, die wierook en die tempeltoerusting voorheen opgeberg was, ook die tiendes van koring, •nuwe wyn en olie wat regtens die Leviete, die sangers en die poortwagte toegekom het, asook die •wydingsgeskenke vir die priesters. Terwyl dit alles gebeur het, was ek nie in Jerusalem nie, want in die twee-en-dertigste regeringsjaar van Artasasta, die koning van Babilonië, het ek na die koning gegaan. Ná verloop van tyd het ek by die koning verlof gevra en na Jerusalem gegaan. Toe ek agterkom watter kwaad Eljasib ten gunste van Tobija aangerig het deur vir hom 'n vertrek in te rig in die voorhowe van die huis van God, het dit my erg ontstel. Ek het al die huisraad van Tobija wat in die vertrek was, buite uitgegooi en opdrag gegee dat die vertrekke gereinig moet word. Toe het ek die toerusting van die huis van God en die graanoffers en wierook weer daar teruggeplaas. Ek het ook verneem dat die rantsoene van die Leviete nie gegee is nie, en dat hulle, die Leviete en die sangers wat moes diens doen, padgegee het, elkeen na sy grond. Ek het die gesagsdraers verwyt en gevra: “Waarom word die huis van God verwaarloos?” Toe het ek die Leviete byeengebring en hulle op hulle plekke laat aantree. Die hele Juda het die tiendes van koring, nuwe wyn en olie na die stoorkamers gebring. Ek het Selemja, die priester, Sadok, die skrifgeleerde, en Pedaja, een van die Leviete, oor die stoorkamers aangestel, en Ganan, seun van Sakkur, seun van Mattanja, as hulle regterhand, omdat hulle betroubaar geag is. Dit was hulle taak om die rantsoene aan hulle ampsgenote uit te deel. Dink hieroor aan my, my God, en moet tog nie my troue liefdesdiens uitwis wat ek in die huis van my God, en vir die diensbeurte daarvan, gedoen het nie.

NEHEMIA 13:4-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En daarvoor was die priester Eljasib, wat toesig gehad het oor die kamer van die huis van onse God, 'n bondgenoot van Tobía. En hy het vir hom 'n groot kamer berei, waar hulle tevore die spysoffers, die wierook en die voorwerpe en die tiendes van die koring, die mos en die olie, wat beveel is om aan die Leviete gegee te word, neergelê het, en die sangers en die poortwagters; en die offergawes van die priesters. Maar in al hierdie tyd was ek nie in Jerusalem nie, want in die twee-en-dertigste jaar van Artasasta, die koning van Babel, het ek na die koning gekom, en ná sekere dae het ek verlof van die koning verkry. En ek het in Jerusalem gekom en verstaan van die onheil wat Eljasib vir Tobía gedoen het deur vir hom 'n kamer in die voorhowe van die huis van God in te rig. En dit het my baie hartseer gemaak: daarom het ek al die huisraad van Tobía uit die kamer gegooi. Toe het ek bevel gegee, en hulle het die kamers gereinig; en ek het die voorwerpe van die huis van God, met die spysoffer en die wierook, daarheen teruggebring. En ek het bemerk dat die gedeeltes van die Leviete nie aan hulle gegee is nie; want die Leviete en die sangers wat die werk gedoen het, is gevlug, elkeen na sy land toe. Toe het ek met die owerstes getwis en gesê: Waarom is die huis van God verlaat? En ek het hulle bymekaargemaak en hulle op hulle plek gestel. Toe het die hele Juda die tiende van die koring en die mos en die olie na die skatkamers gebring. En ek het skatmeesters oor die skatkamers aangestel: Selemja, die priester, en Sadok, die skrywer, en van die Leviete, Pedaja; en naas hulle was Hanan, die seun van Sakkur, die seun van Mattanja; want hulle is getrou geag en hulle amp was aan hulle broers uit te deel. Dink aan my, o my God, hieroor, en wis nie my goeie dade uit wat ek vir die huis van my God en vir die ampte daarvan gedoen het nie.

NEHEMIA 13:4-14 Die Boodskap (DB)

Die priester Eljasib, wat die opsigter van die tempelstoorkamers was, en Tobija was lank reeds goeie vriende. Daarom het hy Tobija toegelaat om in ’n ruim kamer in te trek. Hierdie kamer was eintlik bedoel as stoorplek vir die koring, wierook en gereedskap wat hulle in die tempel gebruik het, asook vir die tiendes van die koring, wyn en olyfolie wat vir die Leviete, die tempelmusikante en die tempelwagte bedoel was. Die priesters se deel van die offers is ook daar gebêre. Ek was nie in Jerusalem toe hierdie dinge gebeur het nie, aangesien ek in die 32ste regeringsjaar van Artasasta, die koning van Babel, na die koning toe terug is om aan hom te gaan rapporteer hoe alles afgeloop het. Na ’n ruk het ek sy toestemming gekry om terug te gaan. In Jerusalem aangekom, was ek geskok om uit te vind dat Eljasib vir Tobija toegelaat het om in ’n kamer op die tempelterrein te bly. Ek was so kwaad dat ek al Tobija se goed uit die kamer op straat gegooi het. Daarna het ek opdrag gegee dat die kamer opnuut vir die Here skoongemaak moet word en dat die toerusting wat in die tempel gebruik word, asook die graan wat vir die offers gebring is en die wierook, in die kamer teruggesit moes word. Ek het ook gehoor dat die Leviete nie hulle deel van die offers gekry het nie. Daarom is die meeste van hulle en die tempelmusikante elkeen terug na sy eie plaas toe. Ek het met die leiers geraas omdat hulle toegelaat het dat die tempel verwaarloos word. Daarna het ek die Leviete en die tempelmusikante gaan haal sodat hulle weer hulle werk vir die Here kon doen. Hierna het die mense van Juda weer hulle tiendes van koring, wyn en olyfolie na die tempelstoorkamer toe gebring. Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die stoorkamers geplaas. Ek het ook vir Ganan die seun van Sakkur en kleinseun van Mattanja, aangestel as hulle assistent. Die mense het geweet dat hulle eerlike en opregte mense is. Daarom het hulle hulle vertrou om die voorraad regverdig te verdeel. My God, onthou tog hierdie goeie daad. Moenie al die mooi dinge wat ek so getrou vir u woonplek gedoen het, vir ’n enkele oomblik vergeet nie.

NEHEMIA 13:4-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Net voordat dit gebeur het, het die priester Eljasib vir Tobija, ’n familielid van hom, ’n groot vertrek by die tempel reggemaak. Eljasib was aangestel as toesighouer oor die stoorkamers van die tempel. Hierdie vertrek was voorheen gebruik om die graanoffers, wierook, tempelgereedskap, tiende porsies van die koring, nuwe wyn en olyfolie in te stoor. Hierdie offers was bedoel vir die Leviete, die sangers, die hekwagte en die priesters. Ek was in hierdie stadium nie in Jerusalem nie. Ek het toe reeds na koning Artasasta van Babel teruggekeer. Dit was in sy 32ste jaar as koning. Ek het mettertyd by die koning toestemming gevra om na Jerusalem toe terug te gaan. Met my terugkoms in Jerusalem het ek gehoor van die wandaad dat Eljasib vir Tobija ’n vertrek in die binneterrein van die tempel voorberei het. Dit het my baie kwaad gemaak. Ek het al Tobija se besittings uit die vertrek uitgegooi. Toe het ek opdrag gegee dat hulle die vertrekke moes reinig. Ek het die gereedskap van God se tempel, die graanoffers en die wierook daarheen teruggebring. Ek het ook ontdek dat die Leviete nie hulle deel van die graanoffers gekry het nie. Hulle en die sangers wat diens gedoen het, het daarom na hulle eie grond toe teruggegaan. Ek het onmiddellik die leiers voor stok gekry en gevra: “Waarom het julle die tempel van God verwaarloos?” Ek het ook die Leviete laat terugkom om hulle pligte te hervat. Daarna het die mense van Juda weer hulle tiendes van koring, nuwe wyn en olyfolie na die stoorkamers by die tempel begin bring. Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die stoorkamers geplaas. Ek het ook Ganan die seun van Sakkur en kleinkind van Mattanja aangestel om hulle te help. Hulle was baie betroubaar en moes toesien dat hulle medewerkers hulle regmatige dele ontvang. Onthou wat ek gedoen het, my God. Moenie al die mooi dinge wat ek getrou vir u tempel gedoen het, vergeet nie.