Voor hierdie gebeure het Eljasib, die priester, wat oor die vertrekke van die huis van ons God aangestel is, 'n nabye familielid van Tobija, vir Tobija 'n groot vertrek ingerig waar die •graanoffers, die wierook en die tempeltoerusting voorheen opgeberg was, ook die tiendes van koring, •nuwe wyn en olie wat regtens die Leviete, die sangers en die poortwagte toegekom het, asook die •wydingsgeskenke vir die priesters.
Terwyl dit alles gebeur het, was ek nie in Jerusalem nie, want in die twee-en-dertigste regeringsjaar van Artasasta, die koning van Babilonië, het ek na die koning gegaan. Ná verloop van tyd het ek by die koning verlof gevra en na Jerusalem gegaan. Toe ek agterkom watter kwaad Eljasib ten gunste van Tobija aangerig het deur vir hom 'n vertrek in te rig in die voorhowe van die huis van God, het dit my erg ontstel. Ek het al die huisraad van Tobija wat in die vertrek was, buite uitgegooi en opdrag gegee dat die vertrekke gereinig moet word. Toe het ek die toerusting van die huis van God en die graanoffers en wierook weer daar teruggeplaas.
Ek het ook verneem dat die rantsoene van die Leviete nie gegee is nie, en dat hulle, die Leviete en die sangers wat moes diens doen, padgegee het, elkeen na sy grond. Ek het die gesagsdraers verwyt en gevra: “Waarom word die huis van God verwaarloos?” Toe het ek die Leviete byeengebring en hulle op hulle plekke laat aantree.
Die hele Juda het die tiendes van koring, nuwe wyn en olie na die stoorkamers gebring. Ek het Selemja, die priester, Sadok, die skrifgeleerde, en Pedaja, een van die Leviete, oor die stoorkamers aangestel, en Ganan, seun van Sakkur, seun van Mattanja, as hulle regterhand, omdat hulle betroubaar geag is. Dit was hulle taak om die rantsoene aan hulle ampsgenote uit te deel.
Dink hieroor aan my, my God, en moet tog nie my troue liefdesdiens uitwis wat ek in die huis van my God, en vir die diensbeurte daarvan, gedoen het nie.