NEHEMIA 10:1-39

NEHEMIA 10:1-39 Bybel vir almal (ABA)

Hierdie persone se name was op die seëls: Die goewerneur Nehemia seun van Gakalja, die priesters Seraja, Asarja, Jeremia, Pasgur, Amarja, Malkija, Gattus, Sebanja, Malluk, Garim, Meremot, Obadja, Daniël, Ginneton, Baruk, Mesullam, Abija, Mijamin, Maäsja, Bilgai en Semaja, die Leviete Jesua seun van Asanja, Binnuï, Genadad, Kadmiël, en die ander Leviete Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan, Mika, Regob, Gasabja, Sakkur, Serebja, Sebanja, Hidija, Bani en Beninu, die leiers van die volk: Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani, Bunni, Asgad, Bebai, Adonija, Bigwai, Adin, Ater, Hiskia, Assur, Hodija, Gasum, Besai, Garif, Anatot, Nobai, Magpias, Mesullam, Gesir, Mesesabel, Sadok, Jaddua, Pelatja, Ganan, Anaja, Hosea, Gananja, Gassub, Loges, Pilga, Sobek, Regum, Gasabna, Maäseja, Agija, Ganan, Anan, Malluk, Garim en Baäna. Die ander mense het saam met mekaar en saam met hulle leiers belowe dat hulle sal doen wat die wette van God sê, die wette wat Moses, die dienaar van God, vir die volk gegee het. Hulle het gesê dat God hulle kan doodmaak as hulle nie gehoorsaam is aan al die gebooie van die Here, ons Here, nie, as hulle nie gehoorsaam is aan alles wat Hy besluit het en gesê het nie. Hierdie mense was die priesters, die Leviete, die poortwagte, die mense wat moes sing, die tempel-slawe, almal wat apart gegaan het, weg van die ander volke in die land. Hulle het weggegaan sodat hulle kan doen wat die wette van God sê. Hulle vroue, hulle kinders en almal wat kon verstaan, het ook saam met hulle gegaan. Hulle het gesê: “Ons sal ons kinders nie laat trou met die kinders van die ander mense in die land nie. “Wanneer die ander mense op die Sabbatdag goed of koring bring om te verkoop, dan sal ons dit nie van hulle koop nie, nie op die Sabbatdag of op 'n ander gewyde dag nie. “In die sewende jaar sal ons nie ons lande ploeg of saai nie en ons sal sê mense moenie betaal wat hulle vir ons skuld nie. “Ons besluit dat elkeen van ons elke jaar een derde van 'n sikkel goud sal gee vir die werk in die tempel van ons God. Hierdie geld is om te betaal vir die offer-brood, die koring-offer en die brand-offer elke dag, vir die offers op die Sabbatdag, die Nuwemaan-feeste en die ander feeste, en vir die gewyde presente en die sonde-offers. Die priesters moet daarmee versoening doen vir die volk. Hulle sal al die ander werk in die tempel van ons God ook met daardie geld betaal. “Ons priesters, ons Leviete en die ander mense het lootjies getrek om te sien watter familie elke jaar op die regte tyd die hout moet bring om op die altaar van ons God die Here aan die brand te steek. Hulle moet dit doen soos die wette sê. “Ons sal elke jaar die eerste koring en gars wat ons afsny, na die tempel bring, en ook die eerste vrugte wat ons pluk. “Ons sal ons oudste seuns en die eerste kalwers en lammers van ons diere, van ons beeste, ons skape en ons bokke, na die priesters toe bring wat in die tempel werk. Ons sal dit doen soos die wette sê. “Ons sal die eerste deeg wat ons knie nadat ons die koring afgesny het, na die priesters toe bring, en ook ons presente en vrugte van elke boom, en wyn en olyf-olie. Ons sal dit bring na die kamers by die tempel van ons God, en ons sal die tiende van al ons koring vir die Leviete gee. Die Leviete sal die tiendes bymekaarmaak in al die stede waar ons werk. Die priester uit die nageslag van Aäron sal saam met die Leviete gaan wanneer hulle die tiendes bymekaarmaak. Die Leviete sal een tiende van die tiendes na die tempel van ons God bring. Hulle sal dit in die stoorkamers sit. “Ja, die Israeliete en die Leviete sal presente na die stoorkamers bring. Die presente is koring, wyn en olyf-olie. Die priesters bêre die gereedskap vir die tempel daar, want hulle werk daar en die poortwagte en die mense wat moet sing, is ook daar. “Ons sal alles doen wat nodig is vir die tempel van ons God.”

NEHEMIA 10:1-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op die verseëlde stukke het geteken: Nehemía, die goewerneur, die seun van Hagálja, en Sedekía, Serája, Asárja, Jeremia, Pasgur, Amárja, Malkía, Hattus, Sebánja, Mallug, Harim, Méremot, Obádja, Daniël, Gínneton, Barug, Mesúllam, Abía, Míjamin, Maäsja, Bílgai, Semája; dit was die priesters. En die Leviete: Jésua, die seun van Asánja, Bínnuï van die seuns van Hénadad, Kádmiël, en hulle broers: Sebánja, Hodía, Kelíta, Pelája, Hanan, Miga, Rehob, Hasábja, Sakkur, Serébja, Sebánja, Hodía, Bani, Beninu. Die hoofde van die volk: Parhos, Pahat-Moab, Elam, Sattu, Bani, Bunni, Asgad, Bébai, Adónia, Bigwai, Adin, Ater, Hiskía, Assur, Hodía, Hasum, Bésai, Harif, Ánatot, Nobai, Magpías, Mesúllam, Hesir, Mesesábeël, Sadok, Jaddúa, Pelátja, Hanan, Anánja, Hoséa, Hanánja, Hassub, Hallóhes, Pilha, Sobek, Rehum, Hasábna, Maäséja, en Ahía, Hanan, Anan, Mallug, Harim, Baäna. En die res van die volk, die priesters, die Leviete, die poortwagters, die sangers, die tempelbediendes en almal wat hulle afgesonder het van die volke van die lande tot die wet van God, hulle vroue, hulle seuns en hulle dogters, almal wat enigsins kon verstaan, het by hulle broers, die vername manne onder hulle, aangesluit, en hulle het onder eed en met beswering hulleself verplig om te wandel in die wet van God, wat deur die diens van Moses, die kneg van God, gegee is, en om te hou en te doen al die gebooie van die HERE onse Here, en sy verordeninge en sy insettinge; verder dat ons ons dogters nie sou gee aan die volke van die land, en hulle dogters nie sou neem vir ons seuns nie; en as die volke van die land koopware en allerhande soorte koring bring om op die sabbatdag te verkoop, dat ons niks van hulle sou neem op die sabbat of op 'n heilige dag nie; en dat ons in die sewende jaar die land braak sou laat lê en van elke skuldvordering afsien. En ons het vir ons die verpligting aangegaan om ons 'n derde van 'n sikkel in die jaar op te lê vir die diens van die huis van onse God — vir die toonbrode en die voortdurende spysoffer en die voortdurende brandoffer, die offers van die sabbatte, van die nuwemane, vir die feestye en vir wygawes en vir sondoffers om vir Israel versoening te doen, en vir enige dienswerk in die huis van onse God. En ons, die priesters, die Leviete en die volk het die lot gewerp oor die lewering van hout, om dit volgens ons families op vasgestelde tye jaar vir jaar te bring na die huis van onse God om vuur te maak op die altaar van die HERE onse God soos geskrywe staan in die wet; en om die eerstelinge van ons grond en die eerstelinge van allerhande vrugtebome jaar vir jaar in die huis van die HERE te bring; en om die eersgeborenes van ons seuns en ons vee, soos geskrywe staan in die wet, en die eersgeborenes van ons grootvee en ons kleinvee te bring in die huis van onse God vir die priesters wat diens doen in die huis van onse God; en dat ons die eerstelinge van ons growwe meel en van ons offergawes en van die vrugte van allerhande bome, van mos en olie, sou bring vir die priesters in die kamers van die huis van onse God en die tiendes van ons grond vir die Leviete, terwyl hulle, die Leviete, die tiendes sou invorder in al ons landboustede. En die priester, die seun van Aäron, moet by die Leviete wees as die Leviete die tiendes invorder, en die Leviete moet 'n tiende van die tiendes na die huis van onse God bring, in die kamers van die skathuis. Want in die kamers moet die kinders van Israel en die kinders van Levi die offergawe van koring, mos en olie bring, omdat die gereedskappe van die heiligdom en die diensdoende priesters en die poortwagters en die sangers daar is; want ons wou die huis van onse God nie laat verwaarloos nie.

NEHEMIA 10:1-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op die verseëlde dokument staan: Die goewerneur Nehemia seun van Gakalja en die priesters Sedekia, Seraja, Asarja, Jeremia, Pasgur, Amarja, Malkija, Gattus, Sebanja, Malluk, Garim, Meremot, Obadja, Daniël, Ginneton, Baruk, Mesullam, Abia, Mijamin, Maäsja, Bilga en Semaja. Die Leviete was Jesua seun van Asanja, Binnuï uit die Genadadgroep, en Kadmiël, met hulle ampsgenote, Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan, Miga, Regob, Gasabja, Sakkur, Serebja, Sebanja, Hodija, Bani en Beninu. Die leiers van die volk was Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani, Bunni, Asgad, Bebai, Adonia, Bigwai, Adin, Ater, Hiskia, Assur, Hodija, Gasum, Besai, Garif, Anatot, Nebai, Magpias, Mesullam, Gesir, Mesesabel, Sadok, Jaddua, Pelatja, Ganan, Anaja, Hosea, Gananja, Gassub, Loges, Pilga, Sobek, Regum, Gasabna, Maäseja, Agija, Ganan, Anan, Malluk, Garim en Baäna. Die res van die gemeente, priesters, Leviete, poortwagte, sangers, tempelslawe en al die ander wat hulle van die heidenvolke afgeskei het met die oog op die wet van God, vrouens, seuns, dogters, almal wat reeds die nodige begrip gehad het, het hulle aangesluit by hulle ampsgenote en leiers. Hulle het 'n dure eed afgelê om te leef volgens die wet van God wat deur Moses, die dienaar van God, aan die volk gegee is, en om gehoorsaam te wees aan al die gebooie van die Here, ons Here, en aan sy bepalings en voorskrifte. Verder het hulle onderneem: “Ons sal ons dogters nie met die heidenvolke laat trou nie en hulle dogters nie met ons seuns nie. “Wanneer die heidene handelsware of graan op die sabbatdag bring om te verkoop, sal ons dit nie op die sabbat of op enige gewyde dag van hulle koop nie. “Ons sal die grond al om die sewende jaar onbewerk laat lê en alle skulde vryskeld. “Ons aanvaar die verpligting om elkeen elke jaar vier gram goud by te dra vir die dienswerk in die huis van ons God: vir die offerbrood, die gereelde graanoffer, die gereelde brandoffer, die offers op sabbatte, nuwemane, vasgestelde feestye en besondere gewyde dae, vir die sondeoffer om vir Israel versoening te doen, en vir al die werk in die huis van ons God. “Ons, priesters, Leviete sowel as die ander mense, het geloot om te bepaal wanneer dit elke familie se beurt is om, op die vasgestelde tyd elke jaar, die heffing van brandhout vir die altaar van die Here ons God na die huis van ons God toe te bring soos dit in die wet voorgeskryf is. “Ons sal die eerstelinge van ons gesaaides en die eerstelinge van al die vrugtebome elke jaar na die huis van die Here toe bring. “Soos dit in die wet voorgeskryf is, sal ons ons eersgebore seuns en die eersgeborenes van ons vee, van ons beeste sowel as van ons kleinvee, na die priesters toe bring wat in die huis van ons God diens doen. “Ons sal die eerste deeg ná die oes, ons offergawes en die eerstelinge van alles wat ons bome oplewer, van ons wyn en olie, na die opslagplekke van die huis van ons God bring vir die priesters, en die tiendes van ons gesaaides vir die Leviete. “Die Leviete sal tiendes insamel in al die stede waar ons werk. 'n Priester uit die nageslag van Aäron sal die Leviete vergesel wanneer hulle tiendes insamel. Die Leviete sal een tiende van die ingesamelde tiendes na die huis van ons God toe bring, na die opslagplekke by die voorraadkamer toe. “Die Israeliete en die Leviete sal die offergawes van koring, wyn en olie na die opslagplekke toe bring. Daar word die gereedskap vir die heiligdom gebêre, en daar is die diensdoende priesters, die poortwagte en die sangers. “Ons sal die huis van ons God nie verwaarloos nie.”

NEHEMIA 10:1-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op die verseëlde geskrif was die volgende name: Nehemia, die administrateur, seun van Gagalja, en Sedekia, Seraja, Asarja, Jeremia, Pasgur, Amarja, Malkija, Gattus, Sebanja, Mallug, Garim, Meremot, Obadja, Daniël, Ginneton, Barug, Mesullam, Abia, Mijamin; Maäsja, Bilgai en Semaja. Dit was die priesters. Die Leviete was: Jesua, seun van Asanja, Binnuï uit die nageslag van Genadad, Kadmiël. Hulle stamgenote was: Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan, Miga, Regob, Gasabja, Sakkur, Serebja, Sebanja, Hodija, Bani, Beninu. Die hoofde van die volk was: Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani, Bunni, Asgad, Bebai, Adonia, Bigwai, Adin, Ater, Hiskia, Assur, Hodija, Gasum, Besai, Garif, Anatot, Nebai, Magpias, Mesullam, Gesir, Mesesabel, Sadok, Jaddua, Pelatja, Ganan, Anaja, Hosea, Gananja, Gassub, Halloges, Pilga, Sobek, Regum, Gasabna, Maäseja, Agija, Ganan, Anan, Mallug, Garim, Baäna. Die res van die volk, die priesters, die Leviete, die poortwagte, die sangers, die tempeldienaars, en almal wat hulle van die volke van ander lande afgesonder het in navolging van die wet van God, met hulle vroue, seuns en dogters – elkeen wat kon verstaan – het aangesluit by hulle eie volksgenote, die vernames onder hulle, en hulleself met 'n vervloeking en eedswering daaraan verbind: “om die wet van God te volg wat by monde van Moses, die dienskneg van God, gegee is, om dit na te kom en om al die gebooie van die HERE, ons Heer, sy beslissings en vaste voorskrifte, uit te voer, en dat ons nie ons dogters aan die volke van die land sal gee nie, en hulle dogters nie vir ons seuns sal neem nie. En die volke van die land wat hulle handelsware of enige graan op die Sabbatdag bring om te verkoop – ons sal dit nie van hulle aanvaar op die Sabbat of op 'n heilige dag nie. En ons sal die sewende jaar die grond onbewerk laat lê en van alle skuldinvordering afsien. Ons lê onsself die verpligting op om jaarliks 'n derde van 'n sikkel af te staan vir die diens in die huis van ons God: vir die brood, gerangskik in rye, vir die gereelde •graanoffer en •brandoffer op die Sabbatte, op die nuwemaansfeeste en op die vaste feestye, vir die •heilige gawes en die •reinigingsoffers om versoening te doen vir Israel, en vir al die take in die huis van ons God. Ons, die priesters, die Leviete en die volk het die lot gewerp oor die lewering van hout, om dit volgens families, na die huis van ons God te bring, jaar ná jaar, op vasgestelde tye, sodat dit op die altaar van die HERE, ons God, kan brand, soos geskryf staan in die Wet. Ons onderneem om, jaar ná jaar, die eerste vrugte van ons grond en die eerste vrugte van elke boom, te bring na die huis van die HERE; en, soos geskryf staan in die Wet, om die eersgeborenes van ons seuns en ons vee, die eersgeborenes van ons beeste en ons kleinvee, te bring na die huis van ons God, vir die priesters wat diens doen in die huis van ons God; en ons eerste baksel, ons •wydingsgeskenke en die vrug van elke boom wat •nuwe wyn en olie lewer, sal ons na die vertrekke, by die huis van ons God bring vir die priesters. En die tiendes van ons grond is vir die Leviete. Dit is hulle, die Leviete, wat die tiendes sal insamel in al die dorpe waar ons werk. 'n Priester, die nakomeling van Aäron, sal by die Leviete teenwoordig wees wanneer hulle die tiendes insamel. En die Leviete moet 'n tiende van die tiendes opneem na die huis van ons God, na die vertrekke van die stoorplek. Ja, na daardie vertrekke sal die Israeliete en die nageslag van Levi die wydingsgeskenke van koring, nuwe wyn en olie neem. Die gereedskap van die heiligdom is daar, en ook die priesters wat diens doen, die poortwagte en die sangers. Ons sal nie die huis van ons God verwaarloos nie.”

NEHEMIA 10:1-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die verseëldes was: Nehemia, die Tirsatha, die seun van Hagalja, en Sidkija, Seraja, Asarja, Jeremia, Pashur, Amarja, Malkia, Hattus, Sebanja, Mallug, Harim, Meremot, Obadja, Daniël, Ginnethon, Barug, Mesullam, Abia, Mijamin, Maäsia, Bilgai, Semaja: dit was die priesters. En die Leviete: altwee Jesua, die seun van Asanja, Binnui uit die seuns van Henadad, Kadmiël; En hulle broers: Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Hanan, Miga, Rehob, Hasabja, Sakkur, Serebja, Sebanja, Hodijah, Bani, Beninu. Die hoof van die volk; Parosh, Pahathmoab, Elam, Zathu, Bani, Bunni, Azgad, Bebai, Adonia, Bigvai, Adin, Ater, Hizkia, Azzur, Hodija, Hasum, Bezai, Hariph, Anatot, Nebai, Magpias, Mesullam, Hesir, Mesezabeël, Sadok, Jaddua, Pelatja, Hanan, Anaja, Hoséa, Hanánja, Hassub, Hallohesh, Pileha, Shobek, Rehum, Hasabna, Maäseja, En Ahía, Hanan, Anan, Malluk, Harim, Baäna. En die res van die volk, die priesters, die Leviete, die poortwagters, die sangers, die tempelbediendes en almal wat hulle afgesonder het van die mense van die lande volgens die wet van God, hulle vroue, hulle seuns en hulle dogters, elkeen wat kennis en insig het; Hulle het by hulle broers, hulle edeles, aankleef en in die vloek en in 'n eed gekom om te wandel in die wet van God wat gegee is deur Moses, die kneg van God, en om al die gebooie van die HERE onse HERE te onderhou en te doen, en sy verordeninge en sy insettinge; En dat ons nie ons dogters aan die mense van die land sou gee en hulle dogters nie vir ons seuns sou neem nie. En as die mense van die land op die sabbatdag ware of enige lewensmiddele bring om te verkoop, dat ons dit nie op die sabbat of op die heilige dag van hulle sou koop nie; en dat ons die sewende jaar sou verlaat en die dwang elke skuld. Ons het ook vir ons insettinge gemaak om vir ons jaarliks 'n derde van 'n sikkel te betaal vir die diens van die huis van onse God; Vir die toonbrode en vir die voortdurende spysoffer en vir die voortdurende brandoffer, van die sabbatte, van die nuwemane, vir die feestye en vir die heilige dinge en vir die sondoffers om vir Israel versoening te doen, en vir al die werk van die huis van onse God. En ons het die lot onder die priesters, die Leviete en die volk gewerp vir die houtoffer, om dit in die huis van onse God te bring, volgens die huise van ons vaders, op tye wat jaar na jaar vasgestel is, om dit op die altaar te verbrand van die HERE onse God, soos geskrywe is in die wet: en om jaar na jaar die eerstelinge van ons grond en die eerstelinge van al die vrugte van al die bome in die huis van die HERE te bring. Ook die eersgeborenes van ons seuns en van ons vee, soos geskrywe is in die wet, en die eersgeborenes van ons beeste en van ons kleinvee, om na die huis van onse God te bring, na die priesters wat in die huis van ons dien God: En dat ons die eerstelinge van ons deeg en ons offergawes en die vrugte van allerhande bome, wyn en olie, na die priesters, na die kamers van die huis van ons God, moet bring; en die tiendes van ons grond aan die Leviete, sodat dieselfde Leviete die tiendes in al die stede van ons bewerking kan hê. En die priester, die seun van Aäron, moet by die Leviete wees as die Leviete tiendes neem; Want die kinders van Israel en die kinders van Levi moet die offer van die koring, van die mos en die olie na die kamers bring, waar die voorwerpe van die heiligdom en die priesters wat dien, en die poortwagters, en die sangers, en ons sal die huis van onse God nie verlaat nie.

NEHEMIA 10:1-39 Die Boodskap (DB)

Die volgende name staan op die verseëlde dokument: die goewerneur Nehemia die seun van Gakalja en die priesters Sedekia, Seraja, Asarja, Jeremia, Pasgur, Amarja, Malkija, Gattus, Sebanja, Malluk, Garim, Meremot, Obadja, Daniël, Ginneton, Baruk, Mesullam, Abia, Mijamin, Maäsja, Bilga en Semaja. Die Leviete wat geteken het, was Jesua seun van Asanja, Binnuï uit die Genadadgroep, en Kadmiël, ook hulle ampsgenote Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan, Miga, Regob, Gasabja, Sakkur, Serebja, Sebanja, Hodija, Bani en Beninu. Die leiers van die volk wat geteken het, was Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani, Bunni, Asgad, Bebai, Adonia, Bigwai, Adin, Ater, Hiskia, Assur, Hodija, Gasum, Besai, Garif, Anatot, Nebai, Magpias, Mesullam, Gesir, Mesesabel, Sadok, Jaddua, Pelatja, Ganan, Anaja, Hosea, Gananja, Gassub, Loges, Pilga, Sobek, Regum, Gasabna, Maäseja, Agija, Ganan, Anan, Malluk, Garim en Baäna. Die res van die volk, die priesters, Leviete, tempelwagte, sangers en die ander tempelwerkers en al die ander mense wat hulle bande met die heidenvolke verbreek het om God te dien, asook hulle vroue en kinders, almal wat oud genoeg was om self ’n besluit te kon neem, het hulle leiers se voorbeeld gevolg. Hulle het ’n eed afgelê om volgens die Here se wil te leef soos Hy dit deur sy dienaar Moses bekendgemaak het. Verder het hulle ook belowe om al die Here ons God se voorskrifte te gehoorsaam. Dit is wat hulle belowe het: “Ons sal nie ons kinders toelaat om met die kinders van die mense van hierdie land wat U nie ken nie, te trou nie. “Wanneer die ongelowiges hulle handelsware of koring op ’n sabbat of enige ander dag wat spesiaal aan die Here gewy word na ons toe bring, sal ons dit nie koop nie. “Ons sal ook elke sewende jaar nie ons landbougrond bewerk nie en ons sal almal se skuld kanselleer. “Verder sal ons almal jaarliks vier gram silwer bydra vir die uitgawes om die woonplek van God in stand te hou. Dit is nou vir die offerbrood, die gereelde graanoffer, die gereelde brandoffer van ’n lam in die oggend en ’n lam in die aand, ook vir die offers op die sabbat, nuwemaansfeeste en die ander jaarlikse feeste; vir die spesiaal afgesonderde dae wat aan die Here gewy word en vir die offers vir Israel se sondes om hulle verhouding met die Here in orde te kry; en ook vir al die ander werk in God se woning in Jerusalem. “Ons sal op ’n rotasiebasis sorg dat die priesters, die Leviete en die volk volgens hulle families verantwoordelikheid neem om hout te voorsien vir die offers wat op die altaar van die Here ons God gebring word. Ons sal al die voorskrifte hieroor nakom. “Ons sal elke jaar van die eerste graan wat ons oes en van die eerste vrugte wat ons van die vrugtebome afpluk tempel toe vat as ’n offer om vir die Here dankie te sê. “Ons sal volgens die voorskrif van die Here se woord ons oudste seuns na die tempel toe vat en hulle daar aan die Here toewy deur die vasgestelde prys aan die tempel oor te betaal. Ons sal dieselfde doen met die eerstelinge van ons vee, ons beeste, sowel as ons kleinvee. Ons sal hulle vir die priesters bring wat in die tempel van ons God diens doen sodat hulle daarvan kan leef. “Ons sal die eerste deeg wat na die koringoes gemaak word vir die priesters by die tempel vat. Ook die beste van ons ander graanprodukte, ons vrugte, ons wyn en ons olyfolie. Hier kan dit in die voorraadkamers van die tempel gebêre word. Ons sal ’n tiende van ons gesaaides vir die Leviete gee. Hulle sal dit in al die gebiede waar daar gesaai word, kom insamel. “’n Priester uit die geslag van Aäron moet saam met die Leviete kom wanneer hulle die tiendes kom haal. Hiervan moet die Leviete dan een tiende in die voorraadkamer van die tempel gaan bêre. “Die Israeliete en die Leviete moet die offers van graan, wyn en olie na die tempel se voorraadkamers toe bring. Dit is daar waar die gereedskap gebêre word wat in die tempel gebruik word, en waar die priesters bly wat diens doen, asook die tempelwagte en die lede van die tempelkoor. “Ons belowe om nie God se woonplek in Jerusalem af te skeep nie.”

NEHEMIA 10:1-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die volgende name was in die geseëlde dokument: Die goewerneur Nehemia seun van Gakalja. Verder ook die priesters Sedekia, Seraja, Asarja, Jeremia, Pasgur, Amarja, Malkija, Gattus, Sebanja, Malluk, Garim, Meremot, Obadja, Daniël, Ginneton, Baruk, Mesullam, Abia, Mijamin, Maäsja, Bilga en Semaja. Die Leviete was Jesua seun van Asanja, Binnuï uit die Genadadgroep en Kadmiël, met hulle ampsgenote, Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan, Miga, Regob, Gasabja, Sakkur, Serebja, Sebanja, Hodija, Bani en Beninu. Die leiers van die volk was Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani, Bunni, Asgad, Bebai, Adonia, Bigwai, Adin, Ater, Hiskia, Assur, Hodija, Gasum, Besai, Garif, Anatot, Nebai, Magpias, Mesullam, Gesir, Mesesabel, Sadok, Jaddua, Pelatja, Ganan, Anaja, Hosea, Gananja, Gassub, Loges, Pilga, Sobek, Regum, Gasabna, Maäseja, Agija, Ganan, Anan, Malluk, Garim en Baäna. Die res van die volk wie se name op die geseëlde dokument was, was die priesters, Leviete, poortwagte, sangers en die tempelwerkers. Verder ook al die ander mense wat hulle van die heidenvolke afgeskei het om die wet van God te gehoorsaam. Hierdie groep wat bestaan het uit die vroue en seuns en dogters wat reeds kon verstaan waaroor dit gaan, het hulle leiers se voorbeeld gevolg. Hulle het ’n plegtige belofte afgelê om te leef volgens die wet van God wat Moses, die dienaar van God, aan die volk gegee het. Hulle het ook beloof om gehoorsaam te wees aan al die gebooie van die HERE ons God en aan sy reëls en voorskrifte. Hulle het onderneem: “Ons sal nie ons dogters met die heidense mense van die land laat trou nie. Ons sal ook nie ons seuns toelaat om met hulle dogters te trou nie. Verder, as die mense van die land handelsware of koring bring om op die Sabbat of op ’n dag wat aan die Here gewy is, te verkoop, sal ons weier om dit te koop. Ons sal ook elke sewende jaar nie die grond bewerk nie en alle skuld kanselleer. “Ons onderneem ook om jaarliks die belasting van vier gram goud vir die onderhoud van ons God se tempel te betaal. Dit sal voorsiening maak vir die offerbrood, die gereelde graanoffers en brandoffers, offers op die Sabbat, Nuwemaanfeeste en die jaarlikse feeste. Verder ook vir spesiale gewyde dae, offers om Israel se sondes te versoen en vir ander werk by ons God se tempel. “Daar was ook hout nodig wat volgens die wet op die altaar by die tempel van die HERE ons God moes brand. Ons het lootjies getrek om te besluit wanneer die families van die priesters, die Leviete en die gewone mense volgens vasgestelde beurte die hout moes bring. “Ons sal ook elke jaar die eerste graan wat ons oes of die eerste vrugte van al die bome na die HERE se tempel toe bring. Soos die wet vereis, sal ons ons oudste seuns en die eerste kalf en lammetjie na die tempel van God bring. Ons sal hulle bring na die priesters wat by die tempel van ons God diens doen. Ons sal ons beste meel en koring, ons beste vrugte, nuwe wyn en olyfolie bring. Ons sal dit opgaar in die stoorkamers van ons God se tempel. Ons sal ook vir die Leviete ’n tiende bring van alles wat ons land oplewer. Hulle versamel mos die tiendes in al die dorpies waar ons werk. Daar sal ’n priester uit Aäron se familie by die Leviete wees as hulle die tiendes ontvang. Die Leviete sal ’n tiende van alle tiendes wat hulle insamel na die tempel toe bring en in die stoorkamers wegbêre. Die mense van Israel en die Leviete moet al hierdie graanoffers, die nuwe wyn en die olyfolie na die stoorkamers by die tempel bring. Dit is waar hulle die tempelgereedskap bêre, en waar die priesters wat diens doen asook die tempelwagte en sangers bly. “Ons sal die tempel van ons God nie verwaarloos nie.”