MARKUS 7:1-8

MARKUS 7:1-8 Die Boodskap (DB)

’n Klomp baie belangrike Jode uit Jerusalem kom toe na Jesus toe. Party van hulle was deel van die streng godsdienstige groep van die Fariseërs en daar was ook ’n paar wie se werk dit was om te sê hoe ’n mens die Skrif en veral die wet moes verstaan. Hulle het Jesus en sy volgelinge fyn dopgehou. Hulle sien toe dat ’n paar van sy volgelinge kos eet sonder om hulle hande te was, wat ingedruis het teen die wet van die Jode. (Daar was baie streng Joodse wette wat ’n mens moes volg om jouself rein en reg te kry om te eet. Die Jode sou nie eet voor hulle eers hulle hande gewas het nie. Hulle het dit van die ou tyd af so gedoen. Byvoorbeeld, as hulle van die winkel af kom, sal hulle niks eet voordat hulle eers hulle hande op ’n spesifieke manier gewas het nie. En dit is nie al nie. Daar is hope sulke gebruike, soos om jou koppies, bekers, panne en selfs stoele op die voorgeskrewe manier te was.) Juis daarom vra die besoekers uit Jerusalem toe vir Jesus: “Vir wat doen jou volgelinge nie wat ons mense nog al die jare doen nie? Hoekom was hulle nie hulle hande voor hulle eet nie? Nou eet hulle met hande wat nie voor God skoon is nie.” Jesus sê toe: “Jesaja was reg toe hy gesê het wat God van ’n klomp skynheilige mense soos julle dink. Daar staan geskryf: ‘God sê: Hierdie mense sê al die regte dinge voor God, maar hulle dien Hom nie uit hulle hart nie. Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde asof dit God is wat so sê, maar dit is ’n klomp reëls wat hulle sommer self uitgedink het.’ “Julle steur julle nie meer aan wat God van julle vra nie. Julle stel net belang in wat julle tradisies en voorouers sê.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid