MARKUS 6:14-16
MARKUS 6:14-16 Bybel vir almal (ABA)
Al die mense het oor Jesus gepraat, daarom het koning Herodes ook van Hom gehoor. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.” Party mense het gesê: “Hy is Elia.” Ander mense het gesê: “Jesus is 'n profeet, soos een van die profete wat lank gelede gelewe het.” Toe koning Herodes van Jesus hoor, het hy gesê: “Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap, en nou lewe hy weer.”
MARKUS 6:14-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE koning Herodes dit hoor — want sy naam het bekend geword — het hy gesê: Johannes die Doper het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in Hom. Ander het gesê: Hy is Elía, en ander weer het gesê: Hy is 'n profeet of soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Johannes wat ek onthoof het, dit is hy; hy het uit die dode opgestaan.
MARKUS 6:14-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.” En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is 'n profeet soos een van die ou profete.” Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.”
MARKUS 6:14-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geword. Sommige het gesê dat Johannes die Doper uit die dood opgewek is, en dié kragte daarom in hom werk. Ander weer het gesê dit is Elia. Nog ander het gesê dat Hy 'n profeet is, soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, het hy gesê: “Johannes, wat ek laat onthoof het – dit is hy wat opgewek is.”
MARKUS 6:14-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En koning Herodes het van hom gehoor; (want sy naam is in die buiteland versprei) en hy het gesê: Johannes die Doper is uit die dode opgewek, en daarom word kragtige werke in hom openbaar. Ander het gesê: Dit is Elia. En ander het gesê: Dit is 'n profeet, of soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Dit is Johannes wat ek onthoof het; hy het uit die dode opgestaan.
MARKUS 6:14-16 Die Boodskap (DB)
Nuus oor al hierdie dinge het by koning Herodes uitgekom, want oral het mense oor Jesus gepraat. Hy was baie gewild. Party het selfs gesê: “Johannes die Doper is terug uit die dood en daarom het hy die krag om al hierdie wonderlike dinge te doen.” Ander het daarvan verskil. “Nee, hy is Elia,” het party gesê, terwyl ander gespekuleer het dat Hy soos een van God se predikers van ouds was. Toe Herodes dit alles hoor, was sy reaksie: “Johannes, die man wie se kop ek afgekap het, het sowaar uit die dood teruggekom!”
MARKUS 6:14-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Herodes Antipas, die koning, het ook van Jesus gehoor, want almal het van Hom gepraat. Party het gesê: “Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het. Dit verklaar waarom Hy sulke wonderwerke kan doen.” Ander het weer gesê dat Hy Elia is; nog ander dat Hy ’n profeet is en soos een van die groot profete uit die verlede optree. Toe Herodes egter daarvan hoor, het hy verklaar: “Johannes, die einste man wat ek onthoof het, het uit die dood teruggekom.”