MARKUS 14:1-9

MARKUS 14:1-9 Die Boodskap (DB)

Die groot fees van die Jode, die paasfees, en nog ’n ander fees, naamlik die fees van die ongesuurde brood, was om die draai. Dit was nog maar twee dae voor die feestelikhede met mening sou begin. Die godsdienstige leiers van die Jode in Jerusalem het aan allerhande agterbakse planne gedink om Jesus te vang en te laat doodmaak. “Ons kan dit nie doen terwyl die mense feesvier nie, want dan het ons ’n opstand onder die mense,” het hulle geredeneer. In daardie stadium was Jesus nog in Betanië. Hy het by Simon, wat melaats was, gaan eet. ’n Vrou kom toe die eetkamer in. By haar het sy ’n potjie baie duur parfuum gehad wat van nardus gemaak was. Sy het die potjie oopgemaak en alles op Jesus uitgegooi, veral op sy hare. Van die ander mense aan tafel was baie omgekrap. Hulle het eers so onderlangs gemompel en toe vir die vrou gesê: “Hou op, hoekom mors jy die parfuum so? Ons kon dit maklik gaan verkoop en amper ’n jaar se salaris daarvoor gekry het. Dink net hoeveel arm mense kon ons met daardie geld gehelp het.” Hulle het sommer lelik met haar geraas. Jesus sien toe wat aangaan. “Los haar! Waarom kraak julle haar so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Dit is so ’n mooi gebaar. Onthou een ding: julle kan later die arm mense help, want daar sal altyd van hulle wees. Julle sal meer as genoeg kans kry om dit te doen. Maar Ek gaan nie altyd so by julle wees nie. Sy het hierdie parfuum oor My uitgegooi terwyl sy nog kon. Hierdie liggaam van My gaan binnekort in ’n graf lê. Sy het egter die parfuum betyds oor My uitgegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Sowaar, waar mense in die toekoms oor My gaan praat, gaan hulle oor haar ook praat. Dit maak nie saak waar dit is nie, maar hulle sal haar onthou.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid