MARKUS 14:1-9

MARKUS 14:1-9 AFR83

Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na 'n plan om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.” Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar 'n vrou gekom met 'n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid