MARKUS 12:18-27

MARKUS 12:18-27 Bybel vir almal (ABA)

'n Paar Sadduseërs het na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat gesterf het, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Hy het gesê: ‘ Wanneer 'n man sterf en sy vrou lewe nog, en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se nageslag wees.’ “Daar was sewe broers. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf, maar hy het nie kinders gehad nie. Die tweede broer het met die oudste broer se weduwee getrou, maar hy het ook gesterf en hulle het ook nie kinders gehad nie. Dieselfde het gebeur met die derde broer. Die sewe broers het almal met die vrou getrou, maar hulle het nie kinders gehad nie. Later het die vrou ook gesterf. Nou vra ons: Wie se vrou sal sy wees wanneer almal wat dood is, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle is heeltemal verkeerd. Dit is omdat julle nie die Ou Testament en die krag van God ken nie. Wanneer die mense weer lewe, dan sal hulle nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Hulle sal dan wees soos die engele in die hemel. Julle vra oor mense wat gesterf het, wat weer sal lewe. Maar het julle nie in die boeke van Moses gelees nie? Moses het geskryf oor die bos wat gebrand het, en daar het God vir Moses gesê: ‘ Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’ God is nie die God van dooie mense nie. Hy is die God van mense wat lewe. Julle is heeltemal verkeerd!”

MARKUS 12:18-27 Die Boodskap (DB)

Daar was ’n groep godsdienstige mense onder die Jode wat uit die ryk en belangrike families van Jerusalem gekom het. Hulle het hulleself Sadduseërs genoem. Hulle het gesê as ’n mens dood is, is jy dood. ’n Mens sal met ander woorde nie weer lewendig word nadat jy dood is nie. Hulle kom toe ook om Jesus uit te vra. “Ons sien jy leer die mense baie dinge oor God. Nou ja, Moses het vir ons geskryf dat as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, sy broer met sy weduwee moet trou. Hy moet dan ’n seun in sy broer se plek kry om te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Sê nou daar is sewe broers in ’n familie en die eerste een sterf voordat hy ’n kind kon kry. Volgens Moses se wet moet die tweede broer nou met die vrou trou. Sê nou hulle het ook nie kinders nie. So gaan dit met al sewe die broers. Uiteindelik is die vrou ook dood, sonder dat sy ’n kind gehad het. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, met watter man gaan hierdie vrou dan in die hemel getroud wees? Hier op aarde was sy mos met al sewe getroud.” Jesus sê toe: “Dit is nou ’n dom vraag. Julle ken nie julle eie Skrif nie en julle weet nog minder hoe sterk God regtig is. As die mense eendag uit die dood weer lewendig word, sal hulle nie meer trou nie. Hulle sal op dieselfde manier bestaan as die ander hemelse wesens wat natuurlik ook nie trou nie. Dit beantwoord nou julle vraag. Maar kom ons gesels ’n bietjie verder oor mense wat uit die dood gaan opstaan. Die Skrif vertel mos hoe Moses daar gestaan het by die bos wat so gebrand het en hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is nou nog die God van Abraham, ja, die God van Isak en die God van Jakob.’ God is nie ’n dooie God of die God van die dooies nie. Julle wil dit nie glo nie, maar glo My, julle maak ’n reusefout.”