Markus 12:18-27

Markus 12:18-27 DB

Daar was ’n groep godsdienstige mense onder die Jode wat uit die ryk en belangrike families van Jerusalem gekom het. Hulle het hulleself Sadduseërs genoem. Hulle het gesê as ’n mens dood is, is jy dood. ’n Mens sal met ander woorde nie weer lewendig word nadat jy dood is nie. Hulle kom toe ook om Jesus uit te vra. “Ons sien jy leer die mense baie dinge oor God. Nou ja, Moses het vir ons geskryf dat as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, sy broer met sy weduwee moet trou. Hy moet dan ’n seun in sy broer se plek kry om te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Sê nou daar is sewe broers in ’n familie en die eerste een sterf voordat hy ’n kind kon kry. Volgens Moses se wet moet die tweede broer nou met die vrou trou. Sê nou hulle het ook nie kinders nie. So gaan dit met al sewe die broers. Uiteindelik is die vrou ook dood, sonder dat sy ’n kind gehad het. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, met watter man gaan hierdie vrou dan in die hemel getroud wees? Hier op aarde was sy mos met al sewe getroud.” Jesus sê toe: “Dit is nou ’n dom vraag. Julle ken nie julle eie Skrif nie en julle weet nog minder hoe sterk God regtig is. As die mense eendag uit die dood weer lewendig word, sal hulle nie meer trou nie. Hulle sal op dieselfde manier bestaan as die ander hemelse wesens wat natuurlik ook nie trou nie. Dit beantwoord nou julle vraag. Maar kom ons gesels ’n bietjie verder oor mense wat uit die dood gaan opstaan. Die Skrif vertel mos hoe Moses daar gestaan het by die bos wat so gebrand het en hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is nou nog die God van Abraham, ja, die God van Isak en die God van Jakob.’ God is nie ’n dooie God of die God van die dooies nie. Julle wil dit nie glo nie, maar glo My, julle maak ’n reusefout.”