MIGA 2:1-5
MIGA 2:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Dit sal sleg gaan met die mense wat in die nag lê en dink watter verkeerde dinge hulle kan doen en dit die volgende oggend doen. Hulle dink hulle is sterk en hulle mag dit doen. Hulle wil ander mense se grond hê en hulle vat dit, hulle vat 'n man se huis en sy grond. Daarom sê die Here: “Julle is slegte mense. Ek sal julle straf, en niemand sal julle red nie. Julle sal nie meer so hoogmoedig wees nie. Julle sal baie swaar kry in daardie tyd.” Die mense sal daardie dag hoor julle praat oor julleself en julle treur. Julle sal sê: “Die Here het ons swaar gestraf, Hy gee ons goed vir ander mense. Hy vat ons grond en gee dit vir die mense wat ons verraai het.” Ja, wanneer hulle in die vergadering van die Here se volk lootjies trek om te kyk wie grond moet kry, dan sal niemand vir julle lootjies trek nie. Julle sal niks kry nie.
MIGA 2:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WEE die wat onreg uitdink en kwaad smee op hulle bedde; by die môrelig voer hulle dit uit, want dit is in die mag van hulle hand. Ja, hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit. So pleeg hulle dan geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel. Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek bedink onheil teen hierdie geslag, waar julle jul nekke nie sal kan uittrek nie, en waarby julle nie regop sal kan loop nie; want dit sal 'n tyd van onheil wees! In dié dag sal hulle 'n spotlied oor julle aanhef en 'n klaaglied sing: Dit is gedaan — sal hulle sê — ons is heeltemal verwoes; die eiendom van my volk laat Hy van besitter verander. Hoe neem Hy dit van my af! Aan die afvalliges deel Hy ons velde uit. Daarom sal daar vir jou niemand wees wat die meetsnoer werp in 'n erfdeel in die vergadering van die HERE nie.
MIGA 2:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ellende wag vir julle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer omdat hulle die mag in die hande het. Hulle begeer 'n stuk grond en vat dit, huise, en lê beslag daarop. Hulle kul 'n man uit sy huis uit, 'n mens uit sy besitting uit. Daarom, so sê die Here: Ek beplan 'n ramp teen hierdie mense, hulle sal dit nie kan ontwyk nie. Hulle sal nie meer regop kan loop nie, want dit sal 'n tyd van swaarkry wees. Daardie dag sal hulle 'n spotlied oor jou maak, hulle sal 'n klaaglied sing en sê: “Ons is geheel en al vernietig, my volk se besitting is opgedeel, dit is van ons afgevat, ons land is onder verraaiers verdeel.” Daarom sal jy nie meer iemand in die gemeente van die Here hê om jou land te verdeel nie.
MIGA 2:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wee hulle wat onreg bedink, wat kwaad beplan op hulle beddens! Teen dagbreek voer hulle dit uit, want die mag is in hulle hande. Hulle begeer stukke grond, en neem dit af, huise, en neem dit in besit. Hulle bedreig 'n man en sy gesin, 'n mens en sy erfdeel. Daarom, so sê die HERE: “Kyk, Ek beplan onheil teen hierdie geslag, 'n onheil waaruit julle nie julle nekke sal kan trek nie. Julle sal nie regop kan loop nie, omdat dit 'n tyd van onheil sal wees.” Op daardie dag sal iemand 'n spotlied oor julle laat opklink, 'n klaaglied sing: “Dit is verby met ons!” sal hy sê. “Ons is heeltemal vernietig! Hy vervreem die eiendom van my mense! Hoe ontneem Hy my dit! As vergelding verdeel Hy ons grond.” Daarom sal niemand julle verteenwoordig in die geloofsgemeenskap van die HERE wanneer die land deur loting verdeel word nie.
MIGA 2:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wee hulle wat ongeregtigheid uitdink en kwaad doen op hulle beddens! as die môre lig is, doen hulle dit, want dit is in die mag van hulle hand. En hulle begeer landerye en neem dit met geweld in; en huise en neem dit weg; so verdruk hulle 'n man en sy huis, 'n man en sy erfdeel. Daarom, so sê die HERE: Kyk, teen hierdie geslag bedink Ek 'n onheil waaruit julle julle nekke nie mag verwyder nie; en julle mag nie hoogmoedig gaan nie, want hierdie tyd is sleg. In dié dag sal 'n mens 'n gelykenis oor julle aanhef en met 'n klaaglied weeklaag en sê: Ons is heeltemal verwoes; Hy het die deel van my volk verander; hoe het Hy dit van my verwyder! Hy het ons veld afgeskei. Daarom sal jy niemand hê wat 'n tou deur die lot werp in die vergadering van die HERE nie.
MIGA 2:1-5 Die Boodskap (DB)
“Die Here beplan iets vreesliks teen die mense wat in die nag lê en planne maak om ander te kul. Hulle staan in die oggend op en begin doen wat hulle uitgedink het. Hulle sit in poste waar hulle mag het, wat dit vir hulle moontlik maak om hulle planne te laat werk. As hulle ’n stuk grond wil hê, vat hulle dit doodeenvoudig. Hulle doen dieselfde met mense se huise. Hulle dink nie twee keer om iemand te bedrieg om sy huis in die hande te kry nie. Nie eens ’n mens se familie- of erfgrond is veilig nie. Omdat hierdie mense so maak, sê die Here: ‘Ek beplan iets waarvan julle niks gaan hou nie. Daar is nie ’n kans dat julle dit sal kan ontduik nie. Dit gaan ’n baie slegte ervaring vir julle wees. Daar sal niks van julle trots oorbly nie. Dan sal mense met julle spot. Hulle sal ’n lied sing wat vertel hoe hopeloos dit met julle gaan. Dit klink so: Dit is verby met ons. Daar is niks van ons oor nie. Hy het ons land van ons af weggevat en vir ander mense gegee. Hy het ons grond verdeel onder mense wat ons verraai het.’ “Wanneer die tyd kom dat die land uitgedeel word, sal daar niemand by daardie vergadering wees wat na julle belange omsien nie.”
MIGA 2:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Verskriklike dinge lê in die vooruitsig vir julle wat snags op julle beddens lê en bose planne bedink. Vroegoggend staan julle op en voer dit uit omdat julle die mag het om dit te doen. As julle ’n stuk grond wil hê, lê julle beslag daarop. As julle iemand se huis wil hê, vat julle dit van hulle af. Nie eers iemand se familie of erfgrond is veilig nie! Maar die HERE sê: “Ek sal kwaad met kwaad vergeld. Daar is nie ’n kans dat julle sal ontsnap nie! Julle gaan ’n slegte tyd beleef, niks gaan oorbly van julle trots nie.” Daardie dag sal julle vyande met julle spot. Hulle sal ’n treurlied sing en sê: “Dit is verby met ons, ons is heeltemal geruïneer! God het ons land van ons af weggevat. Hy het dit verdeel onder die mense wat ons verraai het.” Wanneer die land verdeel word, sal die HERE se mense geen sê hê nie. Ander mense sal julle grense vasstel.