MATTEUS 8:5-17
MATTEUS 8:5-17 Die Boodskap (DB)
Jesus was skaars in Kapernaum of ’n Romeinse soldaat met ’n hoë rang kom vinnig nader. Dringend, met ’n smekende stem, sê hy: “Here, ek het ’n seun by die huis. Hy het ernstige probleme. Hy kan nie eens loop nie. En, Here, dit is so seer dat hy lê en krul van die pyn. Asseblief tog, kom help hom net!” “Ek kom dadelik,” sê Jesus. “Maar, Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie; beslis nie iemand so belangrik soos U nie! Ag, sê sommer maar hier wat moet gebeur. Ek is seker my seun sal dan gesond word. Ek weet mos watter krag die woorde het van iemand wat gesag dra. Niemand hoef my iets daarvan te vertel nie, want ek is ’n soldaat en ek weet wat gesag is. Ja, elke liewe dag sê ek vir my soldate wat om te doen. En my woorde word hulle dade. As ek sê: ‘Kom!’ kom hulle en as ek sê: ‘Gaan!’ gaan hulle. Wat ek vir hulle sê om te doen, dit doen hulle.” Jesus was nogal verbaas en beïndruk oor wat die man gesê het. “Sowaar,” sê Hy vir die mense daar, “Ek het nog niemand onder die Israeliete raakgeloop wat so kinderlik glo soos hierdie man nie. By hom kan julle ’n belangrike les leer. God is nie maar net die God van die Israeliete nie. Nee, mense uit die hele wêreld gaan na Hom toe stroom. En Hy sal hulle met oop arms ontvang. Glo My, hierdie nie-Jode gaan almal in die hemel langs Abraham, Isak en Jakob aan die feestafel van God self aansit. “Dit is ’n ironiese les. Die mense wat weet dat hulle die hemelse Koning regtig moet dien, maar dit nie doen nie, sal uit God se feessaal weggejaag word. In die donker van die hel sal die pyn en smart van mense wat sonder God is hulle oorweldig.” Toe draai Jesus weer na die offisier toe. “Gaan maar huis toe. Wat jy so gelowig gevra het, het klaar gebeur.” Sy seun het dadelik gesond geword. Uiteindelik kom Jesus by Petrus se huis aan. Met die intrapslag kon Jesus sommer sien dat Petrus se skoonma glad nie lekker voel nie. Sy was vuurwarm van die koors en het net daar op haar bed gelê. Jesus stap toe nader en vat haar hand. Dadelik het haar koors gebreek en sy het beter begin voel. Om die waarheid te sê, sy het soveel beter gevoel dat sy dadelik opgestaan en vir Jesus kos gemaak het. Die mense wou Jesus nie met rus laat nie. Tot diep in daardie nag was Hy nog besig. Veral mense op wie bose geeste ’n houvas gekry het, het na Hom toe gekom. Jesus het dié mense gehelp deur bloot met ’n bevel daardie geeste uit hulle te jaag. Daar was ook baie ander mense wat met allerhande siektes gesukkel het. Een vir een het Jesus hulle gesond gemaak. Terwyl hulle Jesus so dophou, het hulle begin verstaan wat die groot profeet Jesaja bedoel het: “Waar ons so swak was dat ons nie verder kon nie, het Hy ons weer sterk gemaak. Toe ons platgeslaan was deur siektes, het Hy ons gesond gemaak.”
MATTEUS 8:5-17 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het na die stad Kapernaum gegaan. Toe Hy in die stad inkom, het 'n Romeinse offisier na Hom toe gekom. Hy het gesoebat dat Jesus hom moet help. Hy het vir Jesus gesê: “Here, my slaaf lê baie siek by die huis. Hy kan nie beweeg nie, hy is lam en hy het baie pyn.” Jesus sê toe vir hom: “Ek sal na jou huis kom en Ek sal hom gesond maak.” Maar die offisier sê vir Jesus: “ Nee, Here, ek is nie 'n Jood nie, ek is nie goed genoeg dat U in my huis kan inkom nie. U kan net sê die siekte moet weggaan, dan sal my slaaf gesond word. Ek is self 'n man wat moet doen wat 'n belangriker offisier vir my sê, en ek het soldate wat moet doen wat ek vir hulle sê. Wanneer ek vir een van hulle sê hy moet gaan, dan gaan hy. En wanneer ek vir 'n ander een sê hy moet kom, dan kom hy. Wanneer ek vir my slaaf sê hy moet iets doen, dan doen hy dit.” Toe Jesus hoor wat die offisier gesê het, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir al die mense wat saam met Hom loop: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek het nog nooit 'n Israeliet gesien wat so sterk glo soos hierdie man glo nie. Ek sê vir julle: Baie mense sal eendag kom van oral op die aarde. Hulle sal saam met Abraham, Isak en Jakob kom eet en feesvier in die hemel waar God die Koning is. Maar die mense wat dink net húlle is die kinders van Abraham, Isak en Jakob, en wat dink God is net húlle koning, God sal hulle uitgooi in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.” Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug na jou huis. Wat jy geglo het, sal gebeur.” En sy slaaf het presies op daardie tyd gesond geword. Jesus het na Petrus se huis gegaan. Hy het gesien Petrus se skoonma is siek in die bed en sy het 'n hoë koors. Jesus het aan haar hand geraak, en die koors het weggegaan. Sy het toe opgestaan en vir Hom kos gegee. Daardie aand het hulle baie mense na Jesus toe gebring, daar was duiwels in die mense. Jesus het met die onrein geeste gepraat en Hy het hulle uitgejaag. Hy het ook al die siek mense gesond gemaak. Jesus het dit gedoen, sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het
MATTEUS 8:5-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN nadat Jesus in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar 'n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne. Daarop sê Jesus vir hom: Ek sal kom en hom gesond maak. En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net 'n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook 'n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie. Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Toe sê Jesus vir die hoofman oor honderd: Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het. En sy kneg het gesond geword in daardie uur. EN toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors. En Hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien. En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met 'n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.
MATTEUS 8:5-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het 'n offisier by Hom hulp kom vra en gesê: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.” En Jesus antwoord hom: “Ek sal hom kom gesond maak.” Maar die offisier sê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. Ek is ook 'n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie. Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.” Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword. Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonmoeder siek lê met 'n hoë koors. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien. Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van bose geeste was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak. So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is
MATTEUS 8:5-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadat Hy in Kapernaum aangekom het, het 'n centurio Hom genader en smekend vir Hom gesê: “Here, my slaaf lê verlam by die huis en ly baie pyn.” Hy het vir hom gesê: “Ek sal gaan en hom genees.” Die centurio het geantwoord: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak kom nie, maar sê net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd, en Hy het vir diegene wat Hom volg, gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: By niemand in Israel het Ek so 'n groot geloof gevind nie. Ek sê nou vir julle dat baie uit die ooste en die weste sal kom en saam met Abraham en Isak en Jakob aanleun om te eet in die •koninkryk van die hemele, maar die kinders van die koninkryk sal na die duisternis daarbuite verban word. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ” Jesus het toe vir die centurio gesê: “Gaan! Dit sal gebeur net soos jy glo.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword. Toe Jesus •Petrus se huis binnegaan, het Hy Petrus se skoonmoeder siek van die koors sien lê. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en Hom bedien. Teen die aand het hulle baie mense wat deur demone besete was, na Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf, en almal wat siek was, gesond gemaak, sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons krankhede weggeneem, en ons siektes het Hy gedra.”
MATTEUS 8:5-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Jesus in Kapernaum ingegaan het, het 'n hoofman oor honderd na Hom gekom en Hom gesmeek: en gesê: Here, my dienskneg lê by die huis siek van die verlamde, swaar gepynig. En Jesus sê vir hom: Ek sal kom en hom genees. Die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net die woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is 'n man onder gesag en het soldate onder my; en ek sê vir hierdie man: Gaan, en hy gaan; en vir 'n ander: Kom, en hy kom; en aan my dienaar: Doen dit, en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, was Hy verwonderd en sê vir die wat gevolg het: Voorwaar Ek sê vir julle, so groot geloof het Ek nie gevind nie, ook nie in Israel nie. En Ek sê vir julle dat baie sal kom van die ooste en die weste en saam met Abraham en Isak en Jakob aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal in die buitenste duisternis uitgewerp word; daar sal geween wees en gekners van die tande. En Jesus sê vir die hoofman oor honderd: Gaan heen; en soos jy geglo het, laat dit aan jou gebeur. En sy dienaar is in dieselfde uur genees. En toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy vrou se moeder lê en siek aan koors. En hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien. Toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met sy woord uitgedryf en almal wat siek was, genees. Sodat vervul sou word wat gespreek is deur die profeet Jesaja, wat gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons krankhede gedra.
MATTEUS 8:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Hy in Kapernaum aankom, kom pleit daar ’n Romeinse offisier oor honderd by Hom: “Here, my slaaf lê verlam by my huis en hy verduur verskriklike pyn.” Jesus sê vir hom: “Ek sal hom kom gesond maak.” Maar die offisier antwoord Hom: “Here, ek is nie goed genoeg dat U onder my dak inkom nie. Spreek maar net die woord, en my slaaf sal gesond word. Ek staan self onder die gesag van senior offisiere, en ek het weer soldate wat onder my gesag staan. Ek sê vir hierdie een: ‘Gaan,’ en hy gaan, en vir die ander een: ‘Kom,’ en hy kom. En vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit,’ en hy maak so.” Toe Jesus dit hoor, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir die skare wat besig was om Hom te volg: “Ek verseker julle, só ’n sterk geloof het Ek nog nêrens in Israel teëgekom nie. Glo My, daar sal baie mense van oor die hele wêreld kom, en saam met Abraham, Isak en Jakob die feesmaaltyd in God se koninkryk geniet. Maar die Israeliete, die mense wat daardie koninkryk eintlik moes beërwe het, sal uitgegooi word in die donker daarbuite. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.” Daarop sê Jesus vir die Romeinse offisier: “Gaan huis toe. Soos jy geglo het, sal dit vir jou gebeur.” En op daardie presiese oomblik het sy slaaf gesond geword. Toe Jesus by Petrus se huis kom, sien Hy dat Petrus se skoonma met ’n hoë koors siek in die bed lê. Hy het haar hand aangeraak en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien. Teen die aand het hulle baie mense, deur bose geeste besete, na Hom toe gebring. Hy het daardie bose geeste uitgedryf deur hulle aan te spreek en Hy het almal wat siek was, gesond gemaak. So het die uitspraak van Jesaja waar geword wat lui: “Hy het ons kwale weggevat, en ons siektes het Hy weggedra.”