MATTEUS 8:5-17

MATTEUS 8:5-17 NLV

Toe Hy in Kapernaum aankom, kom pleit daar ’n Romeinse offisier oor honderd by Hom: “Here, my slaaf lê verlam by my huis en hy verduur verskriklike pyn.” Jesus sê vir hom: “Ek sal hom kom gesond maak.” Maar die offisier antwoord Hom: “Here, ek is nie goed genoeg dat U onder my dak inkom nie. Spreek maar net die woord, en my slaaf sal gesond word. Ek staan self onder die gesag van senior offisiere, en ek het weer soldate wat onder my gesag staan. Ek sê vir hierdie een: ‘Gaan,’ en hy gaan, en vir die ander een: ‘Kom,’ en hy kom. En vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit,’ en hy maak so.” Toe Jesus dit hoor, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir die skare wat besig was om Hom te volg: “Ek verseker julle, só ’n sterk geloof het Ek nog nêrens in Israel teëgekom nie. Glo My, daar sal baie mense van oor die hele wêreld kom, en saam met Abraham, Isak en Jakob die feesmaaltyd in God se koninkryk geniet. Maar die Israeliete, die mense wat daardie koninkryk eintlik moes beërwe het, sal uitgegooi word in die donker daarbuite. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.” Daarop sê Jesus vir die Romeinse offisier: “Gaan huis toe. Soos jy geglo het, sal dit vir jou gebeur.” En op daardie presiese oomblik het sy slaaf gesond geword. Toe Jesus by Petrus se huis kom, sien Hy dat Petrus se skoonma met ’n hoë koors siek in die bed lê. Hy het haar hand aangeraak en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien. Teen die aand het hulle baie mense, deur bose geeste besete, na Hom toe gebring. Hy het daardie bose geeste uitgedryf deur hulle aan te spreek en Hy het almal wat siek was, gesond gemaak. So het die uitspraak van Jesaja waar geword wat lui: “Hy het ons kwale weggevat, en ons siektes het Hy weggedra.”