MATTEUS 8:1-34

MATTEUS 8:1-34 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het afgekom van die berg, en baie mense het saam met Hom gegaan. Daar kom toe 'n melaatse man na Jesus toe en hy kniel voor Hom. Hy het vir Jesus gesê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.” Die man het dadelik gesond geword. Hy was nie meer melaats nie. Jesus het vir die man gesê: “Jy mag vir niemand vertel Ek het jou gesond gemaak nie. Maar gaan wys vir die priester jy is gesond, en bring dan die offer, soos Moses in die wette geskryf het. Dan sal die priesters weet jy het rein geword.” Jesus het na die stad Kapernaum gegaan. Toe Hy in die stad inkom, het 'n Romeinse offisier na Hom toe gekom. Hy het gesoebat dat Jesus hom moet help. Hy het vir Jesus gesê: “Here, my slaaf lê baie siek by die huis. Hy kan nie beweeg nie, hy is lam en hy het baie pyn.” Jesus sê toe vir hom: “Ek sal na jou huis kom en Ek sal hom gesond maak.” Maar die offisier sê vir Jesus: “ Nee, Here, ek is nie 'n Jood nie, ek is nie goed genoeg dat U in my huis kan inkom nie. U kan net sê die siekte moet weggaan, dan sal my slaaf gesond word. Ek is self 'n man wat moet doen wat 'n belangriker offisier vir my sê, en ek het soldate wat moet doen wat ek vir hulle sê. Wanneer ek vir een van hulle sê hy moet gaan, dan gaan hy. En wanneer ek vir 'n ander een sê hy moet kom, dan kom hy. Wanneer ek vir my slaaf sê hy moet iets doen, dan doen hy dit.” Toe Jesus hoor wat die offisier gesê het, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir al die mense wat saam met Hom loop: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek het nog nooit 'n Israeliet gesien wat so sterk glo soos hierdie man glo nie. Ek sê vir julle: Baie mense sal eendag kom van oral op die aarde. Hulle sal saam met Abraham, Isak en Jakob kom eet en feesvier in die hemel waar God die Koning is. Maar die mense wat dink net húlle is die kinders van Abraham, Isak en Jakob, en wat dink God is net húlle koning, God sal hulle uitgooi in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.” Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug na jou huis. Wat jy geglo het, sal gebeur.” En sy slaaf het presies op daardie tyd gesond geword. Jesus het na Petrus se huis gegaan. Hy het gesien Petrus se skoonma is siek in die bed en sy het 'n hoë koors. Jesus het aan haar hand geraak, en die koors het weggegaan. Sy het toe opgestaan en vir Hom kos gegee. Daardie aand het hulle baie mense na Jesus toe gebring, daar was duiwels in die mense. Jesus het met die onrein geeste gepraat en Hy het hulle uitgejaag. Hy het ook al die siek mense gesond gemaak. Jesus het dit gedoen, sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het: “ Hy het self ons pyn gedra en Hy het ons siektes weggeneem.” Jesus het gesien daar is baie mense by Hom. Toe sê Hy vir sy dissipels hulle moet saam met Hom gaan na die ander kant van die See van Galilea. Daar het 'n skrifgeleerde na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Meneer, ek sal saam met U gaan, oral waar U gaan.” Jesus sê toe vir hom: “Jakkalse woon in gate, en voëls woon in neste. Maar Ek, die Seun van die mens, het nie 'n plek waar Ek kan woon nie.” Een van die ander mense sê toe vir Hom: “Here, ek moet eers wag tot my pa dood is en ek hom begrawe het, dan sal ek saam met U gaan.” Maar Jesus antwoord hom: “Kom nou saam met My. Dit is belangriker om My te volg as om te wag totdat jy jou pa begrawe het.” Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het saam met Hom gegaan. Daar het 'n baie groot storm op die see gekom en die branders het bo-oor die boot geslaan. Maar Jesus het vas geslaap. Die dissipels het na Jesus toe gegaan en hulle het Hom wakker gemaak. Hulle sê toe vir Hom: “Here, help ons! Ons sal verdrink!” Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Hoekom is julle geloof so min?” Jesus het opgestaan en Hy het kwaai gepraat met die wind en die see. Die see het stil en kalm geword. Die dissipels was baie verbaas en hulle het gesê: “Hy is nie 'n gewone mens nie, ook die wind en die see luister na Hom.” Jesus het gekom in die land van die Gadareners anderkant die See van Galilea. Twee mense het na Hom toe gekom. Hulle het duiwels in hulle gehad en hulle het tussen die grafte uitgekom. Hierdie mense was baie gevaarlik, niemand kon op daardie pad loop nie. Skielik het hulle vir Jesus begin skree: “Wat wil U met ons doen, Seun van God? Het U hiernatoe gekom om ons voor die tyd te straf en seer te maak?” 'n Groot klomp varke het daar naby geloop en wei. Die duiwels het aangehou om vir Jesus te soebat en te vra: “As U ons uitjaag uit hierdie twee mense, stuur ons dan asseblief in die klomp varke in.” Jesus sê toe vir hulle: “Ja, gaan!” Die duiwels het uitgegaan uit die twee mense en hulle het in die varke ingegaan. Al die varke het dadelik teen die berg afgehardloop tot binne-in die water en hulle het verdrink. Die wagters wat die varke opgepas het, het weggehardloop. Hulle het na die stad gegaan en vir die mense alles vertel wat gebeur het. Hulle het ook vertel wat gebeur het met die twee mense wat die duiwels in hulle gehad het. Al die mense van die stad het na Jesus toe gegaan om Hom te ontmoet. Toe hulle vir Jesus sien, het hulle vir Hom gesoebat om weg te gaan van hulle plek.

MATTEUS 8:1-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Hy van die berg afkom, het groot menigtes Hom gevolg; en daar het 'n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig. En Jesus sê vir hom: Pas op dat jy dit aan niemand vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer die gawe wat Moses voorgeskrywe het, tot 'n getuienis vir hulle. EN nadat Jesus in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar 'n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne. Daarop sê Jesus vir hom: Ek sal kom en hom gesond maak. En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net 'n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook 'n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie. Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Toe sê Jesus vir die hoofman oor honderd: Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het. En sy kneg het gesond geword in daardie uur. EN toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors. En Hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien. En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met 'n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra. EN toe Jesus groot menigtes rondom Hom sien, het Hy bevel gegee om te vertrek na die oorkant. En 'n sekere skrifgeleerde het gekom en vir Hom gesê: Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan. En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie. En 'n ander een van sy dissipels het vir Hom gesê: Here, laat my toe om eers te gaan en my vader te begrawe. Maar Jesus sê vir hom: Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe. EN toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. En daar het 'n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap. Daarop kom sy dissipels en maak Hom wakker en sê: Here, red ons, ons vergaan! En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het 'n groot stilte gekom. En die manne het hulle verwonder en gesê: Wat vir 'n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is? EN toe Hy aan die oorkant kom, in die land van die Gergeséners, het twee duiwelbesetenes Hom ontmoet, wat uit die grafte uitgekom het en baie kwaai was, sodat niemand met daardie pad kon verbygaan nie. En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig? En ver van hulle af het 'n groot trop varke gewei. En die duiwels het Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke te vaar. En Hy sê vir hulle: Gaan! Toe gaan hulle uit en vaar in die trop varke in; en daar storm die hele trop varke van die krans af die see in en kom in die water om. En die wagters het gevlug; en toe hulle in die stad kom, het hulle alles vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. En kyk, die hele stad het uitgekom, Jesus tegemoet; en toe hulle Hom sien, smeek hulle dat Hy uit hulle gebied moet weggaan.

MATTEUS 8:1-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het afgekom van die berg af, en 'n groot menigte mense het saam met Hom gegaan. 'n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg. Jesus sê toe vir hom: “Jy moet dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.” Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het 'n offisier by Hom hulp kom vra en gesê: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.” En Jesus antwoord hom: “Ek sal hom kom gesond maak.” Maar die offisier sê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. Ek is ook 'n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie. Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.” Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword. Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonmoeder siek lê met 'n hoë koors. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien. Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van bose geeste was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak. So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” Toe Jesus die menigte mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee om na die oorkant toe te vertrek. 'n Skrifgeleerde kom toe nader en sê vir Hom: “Meneer, ek sal u volg waar u ook al gaan.” Jesus sê vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.” Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.” Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. Skielik het daar 'n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap. Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!” Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?” Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. Die mense het hulle verwonder en gesê: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?” Toe Jesus aan die oorkant in die land van die Gadareners kom, het twee mense wat in die mag van bose geeste was, Hom van die grafte af tegemoet gekom. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand dit langs daardie pad kon waag nie. Skielik het hulle begin skreeu: “Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?” 'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke geloop. Die bose geeste het Hom gesoebat: “As U ons uitdryf, stuur ons tog in die trop varke in.” “Gaan!” het Hy vir hulle gesê. Hulle is toe uit die mense uit en het in die varke ingevaar. Die hele trop het meteens op loop gesit teen die hang af, die see in, en het in die water versuip. Die wagters het weggehardloop dorp toe en alles daar gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. Die hele dorp het Jesus tegemoet gegaan, en toe hulle Hom sien, het hulle Hom ernstig versoek om hulle gebied te verlaat.

MATTEUS 8:1-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Jesus van die berg afgekom het, het 'n groot skare Hom gevolg. En kyk, 'n melaatse het na Hom gekom, voor Hom gekniel en gesê: “Here, as U wil, kan U my rein maak.” Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil – word rein!” En hy is onmiddellik van sy melaatsheid gereinig. Jesus het vir hom gesê: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester en bring die offergawe wat Moses voorgeskryf het, as getuienis vir hulle. ” Nadat Hy in Kapernaum aangekom het, het 'n centurio Hom genader en smekend vir Hom gesê: “Here, my slaaf lê verlam by die huis en ly baie pyn.” Hy het vir hom gesê: “Ek sal gaan en hom genees.” Die centurio het geantwoord: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak kom nie, maar sê net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd, en Hy het vir diegene wat Hom volg, gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: By niemand in Israel het Ek so 'n groot geloof gevind nie. Ek sê nou vir julle dat baie uit die ooste en die weste sal kom en saam met Abraham en Isak en Jakob aanleun om te eet in die •koninkryk van die hemele, maar die kinders van die koninkryk sal na die duisternis daarbuite verban word. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ” Jesus het toe vir die centurio gesê: “Gaan! Dit sal gebeur net soos jy glo.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword. Toe Jesus •Petrus se huis binnegaan, het Hy Petrus se skoonmoeder siek van die koors sien lê. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en Hom bedien. Teen die aand het hulle baie mense wat deur demone besete was, na Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf, en almal wat siek was, gesond gemaak, sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons krankhede weggeneem, en ons siektes het Hy gedra.” Toe Jesus die skare rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die oorkant vertrek. 'n Sekere skrifkenner het toe nader gekom en vir Hom gesê: “Meester, ek sal U volg waar U ook al gaan.” Maar Jesus antwoord hom: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die •Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie. ” Iemand anders, een van sy dissipels, het vir Hom gesê: “Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. ” Maar Jesus sê vir hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.” Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Skielik bars daar 'n hewige storm op die see los, sodat die golwe die boot oorspoel het. Maar Hy het geslaap. Hulle het Hom gaan wakker maak en uitgeroep: “Here, red ons! Ons vergaan!” Maar Hy het vir hulle gesê: “Hoekom is julle bang, kleingelowiges?” Toe staan Hy op en bestraf die wind en die see. En alles het baie kalm geword. Die mense was verwonderd en het gesê: “Watter soort mens is dit dié dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” Toe Hy aan die oorkant kom, in die gebied van die Gadareners, het twee manne, deur demone besete, uit die rotsgrafte gekom en Hom tegemoet gegaan. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand met daardie pad langs verby kon reis nie. Skielik het hulle begin skreeu: “Los ons uit, •Seun van God! Het U voortydig hierheen gekom om ons te pynig?” 'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke gewei. Die demone het Hom gesmeek: “As U ons uitdryf, stuur ons in die trop varke in!” En Hy het vir hulle gesê: “Gaan!” Hulle het toe uitgevaar en weggegaan in die varke in. En kyk, die hele trop het op loop gesit teen die helling af, die see in, en versuip. Die wagters het op die vlug geslaan, en in die dorp alles gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. En kyk, die hele dorp het uitgegaan om Jesus te ontmoet; en toe hulle Hom sien, het hulle Hom gesmeek om uit hulle gebied weg te gaan.

MATTEUS 8:1-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe Hy van die berg afgekom het, het groot menigtes Hom gevolg. En kyk, daar kom 'n melaatse en het Hom aanbid en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. En Jesus het sy hand uitgesteek en hom aangeraak en gesê: Ek wil; wees jy rein. En dadelik is sy melaatsheid gereinig. En Jesus sê vir hom: Kyk, jy vertel dit aan niemand nie; maar gaan heen, vertoon jou aan die priester en offer die gawe wat Moses beveel het, as 'n getuienis vir hulle. En toe Jesus in Kapernaum ingegaan het, het 'n hoofman oor honderd na Hom gekom en Hom gesmeek: en gesê: Here, my dienskneg lê by die huis siek van die verlamde, swaar gepynig. En Jesus sê vir hom: Ek sal kom en hom genees. Die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net die woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is 'n man onder gesag en het soldate onder my; en ek sê vir hierdie man: Gaan, en hy gaan; en vir 'n ander: Kom, en hy kom; en aan my dienaar: Doen dit, en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, was Hy verwonderd en sê vir die wat gevolg het: Voorwaar Ek sê vir julle, so groot geloof het Ek nie gevind nie, ook nie in Israel nie. En Ek sê vir julle dat baie sal kom van die ooste en die weste en saam met Abraham en Isak en Jakob aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal in die buitenste duisternis uitgewerp word; daar sal geween wees en gekners van die tande. En Jesus sê vir die hoofman oor honderd: Gaan heen; en soos jy geglo het, laat dit aan jou gebeur. En sy dienaar is in dieselfde uur genees. En toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy vrou se moeder lê en siek aan koors. En hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien. Toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met sy woord uitgedryf en almal wat siek was, genees. Sodat vervul sou word wat gespreek is deur die profeet Jesaja, wat gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons krankhede gedra. En toe Jesus groot menigtes rondom Hom sien, het Hy bevel gegee om na die ander kant toe te gaan. En 'n sekere skrifgeleerde het gekom en vir Hom gesê: Meester, ek sal U volg waar U ook al gaan. En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate, en die voëls van die hemel neste; maar die Seun van die mens het geen plek om sy hoof neer te lê nie. En 'n ander van sy dissipels sê vir Hom: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. Maar Jesus sê vir hom: Volg My; en laat die dooies hulle dooies begrawe. En toe Hy in 'n skip geklim het, het sy dissipels Hom gevolg. En kyk, daar het 'n groot storm in die see gekom, sodat die skip met die golwe bedek was, maar hy het geslaap. En sy dissipels het na Hom gekom en Hom wakker gemaak en gesê: Here, red ons, ons vergaan. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bevrees, kleingelowiges? Toe het hy opgestaan en die winde en die see bestraf; en daar was 'n groot kalmte. Maar die manne was verwonderd en het gesê: Wat is hierdie mens, dat selfs die winde en die see hom gehoorsaam is! En toe Hy aan die oorkant in die land van die Gergesene gekom het, het twee van die duiwels besete Hom tegemoet gekom wat uit die grafte uitgekom het, baie wreed, sodat niemand op daardie pad sou verbygaan nie. En kyk, hulle het uitgeroep en gesê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? kom jy hierheen om ons voor die tyd te pynig? En daar was 'n lang entjie van hulle af 'n trop baie varke wat gewei het. Toe het die duiwels Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke in te gaan. En hy sê vir hulle: Gaan. En toe hulle uitkom, het hulle in die trop varke ingegaan, en kyk, die hele trop varke hardloop met geweld van 'n steilte af die see in en vergaan in die water. En die wat hulle bewaar het, het gevlug en die stad ingegaan en alles vertel en wat met die besetene van die duiwels gebeur het. En kyk, die hele stad het uitgegaan Jesus tegemoet; en toe hulle Hom sien, het hulle Hom gesmeek dat Hy van hulle grondgebied af moes vertrek.

MATTEUS 8:1-34 Die Boodskap (DB)

Daarna is Jesus teen die heuwel af saam met ’n klomp mense wat om Hom saamgedrom het. Hulle wou meer van Hom hoor en leer. Terwyl hulle so stap, gebeur daar iets merkwaardigs. ’n Melaatse man kom versigtig nader. (Mense met ’n lelike velsiekte was volgens die Joodse wet onrein. Hulle is verbied om in die tempel in die teenwoordigheid van God te kom. Daarom wou die mense nie eintlik iets met hulle te doen gehad het nie.) Hierdie man val toe op sy knieë voor Jesus neer en buig sy kop tot laag op die grond. Daar voor almal begin hy Jesus hardop prys. Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees en ’n gewone lewe kan lei - ek sal weer vriende kan hê en in die tempel gaan aanbid. Ek weet U kan as U wil!” Jesus sit toe sy hand op die man en sê: “Ek wil dit graag doen. Jy het dit gevra. Toe, hoekom wag jy nog?” Die man kyk toe na homself en sien die wonder: sy vel was glad en skoon. Hy was gesond! “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie,” vra Jesus hom toe. “Gaan liewer reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy sê dat jou vel weer skoon is en jy weer ’n normale lewe kan lei, gaan bring dan ’n offer soos Moses dit voorgeskryf het. Mense sal dan self besef wat presies met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as jou woorde.” Jesus was skaars in Kapernaum of ’n Romeinse soldaat met ’n hoë rang kom vinnig nader. Dringend, met ’n smekende stem, sê hy: “Here, ek het ’n seun by die huis. Hy het ernstige probleme. Hy kan nie eens loop nie. En, Here, dit is so seer dat hy lê en krul van die pyn. Asseblief tog, kom help hom net!” “Ek kom dadelik,” sê Jesus. “Maar, Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie; beslis nie iemand so belangrik soos U nie! Ag, sê sommer maar hier wat moet gebeur. Ek is seker my seun sal dan gesond word. Ek weet mos watter krag die woorde het van iemand wat gesag dra. Niemand hoef my iets daarvan te vertel nie, want ek is ’n soldaat en ek weet wat gesag is. Ja, elke liewe dag sê ek vir my soldate wat om te doen. En my woorde word hulle dade. As ek sê: ‘Kom!’ kom hulle en as ek sê: ‘Gaan!’ gaan hulle. Wat ek vir hulle sê om te doen, dit doen hulle.” Jesus was nogal verbaas en beïndruk oor wat die man gesê het. “Sowaar,” sê Hy vir die mense daar, “Ek het nog niemand onder die Israeliete raakgeloop wat so kinderlik glo soos hierdie man nie. By hom kan julle ’n belangrike les leer. God is nie maar net die God van die Israeliete nie. Nee, mense uit die hele wêreld gaan na Hom toe stroom. En Hy sal hulle met oop arms ontvang. Glo My, hierdie nie-Jode gaan almal in die hemel langs Abraham, Isak en Jakob aan die feestafel van God self aansit. “Dit is ’n ironiese les. Die mense wat weet dat hulle die hemelse Koning regtig moet dien, maar dit nie doen nie, sal uit God se feessaal weggejaag word. In die donker van die hel sal die pyn en smart van mense wat sonder God is hulle oorweldig.” Toe draai Jesus weer na die offisier toe. “Gaan maar huis toe. Wat jy so gelowig gevra het, het klaar gebeur.” Sy seun het dadelik gesond geword. Uiteindelik kom Jesus by Petrus se huis aan. Met die intrapslag kon Jesus sommer sien dat Petrus se skoonma glad nie lekker voel nie. Sy was vuurwarm van die koors en het net daar op haar bed gelê. Jesus stap toe nader en vat haar hand. Dadelik het haar koors gebreek en sy het beter begin voel. Om die waarheid te sê, sy het soveel beter gevoel dat sy dadelik opgestaan en vir Jesus kos gemaak het. Die mense wou Jesus nie met rus laat nie. Tot diep in daardie nag was Hy nog besig. Veral mense op wie bose geeste ’n houvas gekry het, het na Hom toe gekom. Jesus het dié mense gehelp deur bloot met ’n bevel daardie geeste uit hulle te jaag. Daar was ook baie ander mense wat met allerhande siektes gesukkel het. Een vir een het Jesus hulle gesond gemaak. Terwyl hulle Jesus so dophou, het hulle begin verstaan wat die groot profeet Jesaja bedoel het: “Waar ons so swak was dat ons nie verder kon nie, het Hy ons weer sterk gemaak. Toe ons platgeslaan was deur siektes, het Hy ons gesond gemaak.” Jesus het gesien dat Petrus se huis nou te klein word vir al die mense. Dit het Hom laat besluit om van daar af na ’n plekkie aan die oorkant van die meer te gaan. Toe hulle begin regmaak om te gaan staan ’n geleerde Israeliet nader, ’n kenner van die Joodse Bybel. Hy sê vir Jesus: “Ek sien U is ’n geleerde man. Mag ek asseblief saam met U gaan? Ek wil so graag meer van U leer. Dit maak nie saak waarheen U gaan nie, ek sal daar wees!” “Wel,” sê Jesus, “jy moet goed nadink. Soos jy weet, moet selfs diere ’n blyplek hê. Kyk, voëls bly in neste en jakkalse in gate. Maar dit moet jy besef: daar gaan tye kom dat dit so swaar met My sal gaan dat Ek nie eens ’n plek sal hê om te slaap nie. Sê My, sal jy dan nog by My wil wees?” Een van Jesus se getroue volgelinge sê toe: “Here, verskoon my ’n rukkie, asseblief. Ek moet eers gou teruggaan huis toe om te gaan help met die reëlings vir my pa se begrafnis. U kan maar solank vooruitgaan. Ek kom later.” Jesus het nie doekies omgedraai nie: “Jou pad na die ware lewe toe loop agter My aan. Loop daardie pad voluit! Moenie allerhande afdraaipaadjies soek nie. Daar is genoeg ander mense wat nie hierdie pad wil loop nie. Laat hulle hulle ophou met dinge soos begrafnisse.” Uiteindelik kom Jesus by die boot. Hy en sy getrouste volgelinge klim toe in en vaar na die ander kant toe. Op pad oorkant toe het daar skielik ’n verskriklike storm op die meer losgebars. Die golwe was so hoog dat ’n mens nie eens meer die boot behoorlik kon sien nie. Tog het Jesus gelê en slaap. Hy het mos die vorige nag deurgewerk. Sy dissipels kon dit later nie meer hou nie en maak Hom wakker: “Here, help! Ons is besig om onder te gaan!” “Het julle geen vertroue in My nie?” vra Jesus. “Sê My, as julle regtig in My glo, waarvoor is julle dan so bang? Dink julle julle sal ooit kan ondergaan as Ek by julle is?” Hy staan toe op en beveel die wind met gesag in sy stem om te gaan lê en die see om stil te word. Skielik, asof iemand ’n kombers van kalmte oor die meer getrek het, was alles stil. Die mense was uit die veld geslaan en het uit pure verbasing vir mekaar gevra: “Het julle gesien? Die wind en die see luister na Hom! Wie is Hy? Waar kom Hy vandaan?” Kort daarna het Jesus-hulle in die gebied van die Gadareners aangekom. Hulle het skaars daar geland of twee woeste, wreedaardige mans het uit die begraafplaas na hulle toe aangehardloop gekom. Hierdie mans was totaal in die mag van demone. Hulle was baie gevaarlik. Om die waarheid te sê, die mense was so bang vir daardie mans dat hulle glad nie eens meer met dié pad langs wou loop nie. Die twee mans storm toe op Jesus af en gil hard: “Haai, Seun van God, wat kom soek U hier? U het niks hier te doen nie. Of is U dalk hier om ons voor die tyd te kom bestraf?” Die demone het egter geweet wat op hulle wag. Hulle sien toe daar ver teen die skuinste ’n groot trop varke loop en smeek Jesus: “Asseblief, ons vra mooi: as U ons uit hierdie mans verwilder, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.” “Nou maar goed; sorg net dat julle hier wegkom!” sê Jesus. Die demone is daarna uit die mans uit, reguit in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, reguit die see in. Daar het die laaste een van hulle versuip. Die varkoppassers het so groot geskrik dat hulle in ’n stofstreep reguit dorp toe is. Daar het hulle die hele storie gaan vertel. Hulle het presies beskryf wat met die twee mans en met die varke gebeur het. Hewig ontsteld oor die varke, het die dorpsmense Jesus soos een man gaan soek. Toe hulle Hom kry, jaag hulle Hom sowaar daar weg.

MATTEUS 8:1-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Jesus van die berg af kom, het ’n groot skare Hom gevolg. Daar kom toe onverwags ’n man met ’n ernstige velsiekte nader en val voor Jesus neer met die woorde: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!” En dadelik het sy velsiekte verdwyn. Jesus sê toe vir hom: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie. Maar gaan wys vir die priester dat jy gesond is, en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. “So sal jy vir almal duidelik bevestig dat jy gesond geword het.” Toe Hy in Kapernaum aankom, kom pleit daar ’n Romeinse offisier oor honderd by Hom: “Here, my slaaf lê verlam by my huis en hy verduur verskriklike pyn.” Jesus sê vir hom: “Ek sal hom kom gesond maak.” Maar die offisier antwoord Hom: “Here, ek is nie goed genoeg dat U onder my dak inkom nie. Spreek maar net die woord, en my slaaf sal gesond word. Ek staan self onder die gesag van senior offisiere, en ek het weer soldate wat onder my gesag staan. Ek sê vir hierdie een: ‘Gaan,’ en hy gaan, en vir die ander een: ‘Kom,’ en hy kom. En vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit,’ en hy maak so.” Toe Jesus dit hoor, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir die skare wat besig was om Hom te volg: “Ek verseker julle, só ’n sterk geloof het Ek nog nêrens in Israel teëgekom nie. Glo My, daar sal baie mense van oor die hele wêreld kom, en saam met Abraham, Isak en Jakob die feesmaaltyd in God se koninkryk geniet. Maar die Israeliete, die mense wat daardie koninkryk eintlik moes beërwe het, sal uitgegooi word in die donker daarbuite. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.” Daarop sê Jesus vir die Romeinse offisier: “Gaan huis toe. Soos jy geglo het, sal dit vir jou gebeur.” En op daardie presiese oomblik het sy slaaf gesond geword. Toe Jesus by Petrus se huis kom, sien Hy dat Petrus se skoonma met ’n hoë koors siek in die bed lê. Hy het haar hand aangeraak en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien. Teen die aand het hulle baie mense, deur bose geeste besete, na Hom toe gebring. Hy het daardie bose geeste uitgedryf deur hulle aan te spreek en Hy het almal wat siek was, gesond gemaak. So het die uitspraak van Jesaja waar geword wat lui: “Hy het ons kwale weggevat, en ons siektes het Hy weggedra.” Toe Jesus die baie mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die oorkant van die see moes vertrek. ’n Skrifkenner kom toe na Hom toe en sê vir Hom: “Leermeester, ek sal U volg, maak nie saak waarheen U gaan nie!” Maar Jesus het vir hom gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het geen tuiste waar Ek my kop kan neerlê nie.” Een van sy ander dissipels het vir Hom gesê: “Here, U sal my moet toelaat om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, jy moet My nóú volg. Laat die geestelik dooies maar na mekaar omsien.” Jesus het toe in die skuit geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Skielik het daar ’n hewige storm oor die see opgekom sodat reuse golwe oor die boot gebreek het. Maar Jesus het gelê en slaap. Hulle gaan maak Hom toe wakker en sê: “Here, red ons! Dis klaar met ons!” Maar Jesus sê vir hulle: “Waarom is julle so verskrik? Is julle geloof dan regtig so klein?” Daarna het Hy opgestaan, die winde en die see streng aangespreek en daar het ’n groot kalmte gekom. Die dissipels was oorweldig. “Watter soort mens is Hy dat selfs die winde en die see na Hom luister?” Toe Jesus oorkant die see in die land van die Gadareners aankom, kom twee mense, deur bose geeste besete, uit die begraafplaas Hom tegemoet. Hulle was sulke woestaards dat niemand dit kon waag om daarlangs verby te gaan nie. Meteens begin hulle hard uitskreeu: “Los ons uit, Seun van God! Het U hiernatoe gekom om ons voor die tyd te pynig?” ’n Hele ent daarvandaan was daar ’n groot trop varke aan die wei. Die bose geeste het Jesus aangehou smeek: “As U ons wil uitdryf, stuur ons dan in die trop varke in.” Hy het vir hulle gesê: “Maak dan dat julle wegkom!” Hulle het toe uit die twee mense gegaan en in die varke ingevaar. Meteens het die hele trop teen die skuinste af die see ingestorm en in die golwe versuip. Hulle oppassers het weggehardloop dorp toe en alles gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. Daarop het die hele dorp Jesus tegemoetgegaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom gesoebat om uit hulle gebied weg te gaan.