Daarna is Jesus teen die heuwel af saam met ’n klomp mense wat om Hom saamgedrom het. Hulle wou meer van Hom hoor en leer. Terwyl hulle so stap, gebeur daar iets merkwaardigs. ’n Melaatse man kom versigtig nader. (Mense met ’n lelike velsiekte was volgens die Joodse wet onrein. Hulle is verbied om in die tempel in die teenwoordigheid van God te kom. Daarom wou die mense nie eintlik iets met hulle te doen gehad het nie.) Hierdie man val toe op sy knieë voor Jesus neer en buig sy kop tot laag op die grond. Daar voor almal begin hy Jesus hardop prys.
Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees en ’n gewone lewe kan lei - ek sal weer vriende kan hê en in die tempel gaan aanbid. Ek weet U kan as U wil!”
Jesus sit toe sy hand op die man en sê: “Ek wil dit graag doen. Jy het dit gevra. Toe, hoekom wag jy nog?” Die man kyk toe na homself en sien die wonder: sy vel was glad en skoon. Hy was gesond! “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie,” vra Jesus hom toe. “Gaan liewer reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy sê dat jou vel weer skoon is en jy weer ’n normale lewe kan lei, gaan bring dan ’n offer soos Moses dit voorgeskryf het. Mense sal dan self besef wat presies met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as jou woorde.”
Jesus was skaars in Kapernaum of ’n Romeinse soldaat met ’n hoë rang kom vinnig nader. Dringend, met ’n smekende stem, sê hy: “Here, ek het ’n seun by die huis. Hy het ernstige probleme. Hy kan nie eens loop nie. En, Here, dit is so seer dat hy lê en krul van die pyn. Asseblief tog, kom help hom net!”
“Ek kom dadelik,” sê Jesus.
“Maar, Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie; beslis nie iemand so belangrik soos U nie! Ag, sê sommer maar hier wat moet gebeur. Ek is seker my seun sal dan gesond word. Ek weet mos watter krag die woorde het van iemand wat gesag dra. Niemand hoef my iets daarvan te vertel nie, want ek is ’n soldaat en ek weet wat gesag is. Ja, elke liewe dag sê ek vir my soldate wat om te doen. En my woorde word hulle dade. As ek sê: ‘Kom!’ kom hulle en as ek sê: ‘Gaan!’ gaan hulle. Wat ek vir hulle sê om te doen, dit doen hulle.”
Jesus was nogal verbaas en beïndruk oor wat die man gesê het. “Sowaar,” sê Hy vir die mense daar, “Ek het nog niemand onder die Israeliete raakgeloop wat so kinderlik glo soos hierdie man nie. By hom kan julle ’n belangrike les leer. God is nie maar net die God van die Israeliete nie. Nee, mense uit die hele wêreld gaan na Hom toe stroom. En Hy sal hulle met oop arms ontvang. Glo My, hierdie nie-Jode gaan almal in die hemel langs Abraham, Isak en Jakob aan die feestafel van God self aansit.
“Dit is ’n ironiese les. Die mense wat weet dat hulle die hemelse Koning regtig moet dien, maar dit nie doen nie, sal uit God se feessaal weggejaag word. In die donker van die hel sal die pyn en smart van mense wat sonder God is hulle oorweldig.”
Toe draai Jesus weer na die offisier toe. “Gaan maar huis toe. Wat jy so gelowig gevra het, het klaar gebeur.” Sy seun het dadelik gesond geword.
Uiteindelik kom Jesus by Petrus se huis aan. Met die intrapslag kon Jesus sommer sien dat Petrus se skoonma glad nie lekker voel nie. Sy was vuurwarm van die koors en het net daar op haar bed gelê. Jesus stap toe nader en vat haar hand. Dadelik het haar koors gebreek en sy het beter begin voel. Om die waarheid te sê, sy het soveel beter gevoel dat sy dadelik opgestaan en vir Jesus kos gemaak het.
Die mense wou Jesus nie met rus laat nie. Tot diep in daardie nag was Hy nog besig. Veral mense op wie bose geeste ’n houvas gekry het, het na Hom toe gekom. Jesus het dié mense gehelp deur bloot met ’n bevel daardie geeste uit hulle te jaag. Daar was ook baie ander mense wat met allerhande siektes gesukkel het. Een vir een het Jesus hulle gesond gemaak.
Terwyl hulle Jesus so dophou, het hulle begin verstaan wat die groot profeet Jesaja bedoel het:
“Waar ons so swak was dat ons nie verder kon nie, het Hy ons weer sterk gemaak. Toe ons platgeslaan was deur siektes, het Hy ons gesond gemaak.”
Jesus het gesien dat Petrus se huis nou te klein word vir al die mense. Dit het Hom laat besluit om van daar af na ’n plekkie aan die oorkant van die meer te gaan. Toe hulle begin regmaak om te gaan staan ’n geleerde Israeliet nader, ’n kenner van die Joodse Bybel. Hy sê vir Jesus: “Ek sien U is ’n geleerde man. Mag ek asseblief saam met U gaan? Ek wil so graag meer van U leer. Dit maak nie saak waarheen U gaan nie, ek sal daar wees!”
“Wel,” sê Jesus, “jy moet goed nadink. Soos jy weet, moet selfs diere ’n blyplek hê. Kyk, voëls bly in neste en jakkalse in gate. Maar dit moet jy besef: daar gaan tye kom dat dit so swaar met My sal gaan dat Ek nie eens ’n plek sal hê om te slaap nie. Sê My, sal jy dan nog by My wil wees?”
Een van Jesus se getroue volgelinge sê toe: “Here, verskoon my ’n rukkie, asseblief. Ek moet eers gou teruggaan huis toe om te gaan help met die reëlings vir my pa se begrafnis. U kan maar solank vooruitgaan. Ek kom later.”
Jesus het nie doekies omgedraai nie: “Jou pad na die ware lewe toe loop agter My aan. Loop daardie pad voluit! Moenie allerhande afdraaipaadjies soek nie. Daar is genoeg ander mense wat nie hierdie pad wil loop nie. Laat hulle hulle ophou met dinge soos begrafnisse.”
Uiteindelik kom Jesus by die boot. Hy en sy getrouste volgelinge klim toe in en vaar na die ander kant toe. Op pad oorkant toe het daar skielik ’n verskriklike storm op die meer losgebars. Die golwe was so hoog dat ’n mens nie eens meer die boot behoorlik kon sien nie. Tog het Jesus gelê en slaap. Hy het mos die vorige nag deurgewerk. Sy dissipels kon dit later nie meer hou nie en maak Hom wakker: “Here, help! Ons is besig om onder te gaan!”
“Het julle geen vertroue in My nie?” vra Jesus. “Sê My, as julle regtig in My glo, waarvoor is julle dan so bang? Dink julle julle sal ooit kan ondergaan as Ek by julle is?” Hy staan toe op en beveel die wind met gesag in sy stem om te gaan lê en die see om stil te word. Skielik, asof iemand ’n kombers van kalmte oor die meer getrek het, was alles stil.
Die mense was uit die veld geslaan en het uit pure verbasing vir mekaar gevra: “Het julle gesien? Die wind en die see luister na Hom! Wie is Hy? Waar kom Hy vandaan?”
Kort daarna het Jesus-hulle in die gebied van die Gadareners aangekom. Hulle het skaars daar geland of twee woeste, wreedaardige mans het uit die begraafplaas na hulle toe aangehardloop gekom. Hierdie mans was totaal in die mag van demone. Hulle was baie gevaarlik. Om die waarheid te sê, die mense was so bang vir daardie mans dat hulle glad nie eens meer met dié pad langs wou loop nie. Die twee mans storm toe op Jesus af en gil hard: “Haai, Seun van God, wat kom soek U hier? U het niks hier te doen nie. Of is U dalk hier om ons voor die tyd te kom bestraf?”
Die demone het egter geweet wat op hulle wag. Hulle sien toe daar ver teen die skuinste ’n groot trop varke loop en smeek Jesus: “Asseblief, ons vra mooi: as U ons uit hierdie mans verwilder, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.”
“Nou maar goed; sorg net dat julle hier wegkom!” sê Jesus.
Die demone is daarna uit die mans uit, reguit in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, reguit die see in. Daar het die laaste een van hulle versuip.
Die varkoppassers het so groot geskrik dat hulle in ’n stofstreep reguit dorp toe is. Daar het hulle die hele storie gaan vertel. Hulle het presies beskryf wat met die twee mans en met die varke gebeur het. Hewig ontsteld oor die varke, het die dorpsmense Jesus soos een man gaan soek. Toe hulle Hom kry, jaag hulle Hom sowaar daar weg.