MATTEUS 5:38-48

MATTEUS 5:38-48 Bybel vir almal (ABA)

“Julle weet die wette sê: ‘ As jy iemand se oog uitslaan, dan moet hy jou oog ook uitslaan. As jy iemand se tand uitslaan, dan moet hy jou tand ook uitslaan.’ Maar Ek sê vir julle: Moenie keer wanneer iemand slegte dinge doen aan jou nie. As hy jou op jou regter-wang klap, draai dan die ander wang na hom toe, sodat hy jou daar ook kan klap. As hy jou hof toe wil vat omdat hy jou onderkleed wil hê, gee dan ook jou bo-kleed vir hom. As 'n soldaat sê jy moet sy goed een myl ver dra, dan moet jy dit twee myl ver dra. As iemand iets vir jou vra, gee dit vir hom. As iemand iets by jou wil leen, moenie vir hom ‘nee’ sê nie.” “Julle weet die wette sê: ‘ Jy moet lief wees vir jou naaste en jy moet jou vyand haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet lief wees vir julle vyande en julle moet bid vir die mense wat slegte dinge doen aan julle. Dan sal die mense weet julle is kinders van julle Vader in die hemel. Want julle Vader laat die son skyn oor slegte en oor goeie mense en Hy laat die reën val op mense wat goed doen en ook op mense wat verkeerd doen. As julle lief is net vir mense wat ook lief is vir julle, dan sal God nie daaroor goed wees vir julle nie. Die tollenaars doen presies dieselfde. En as julle vriendelik is net met julle vriende, dan doen julle wat ander mense ook doen, julle doen niks beter as hulle nie. Die mense wat God nie ken nie, doen presies dieselfde. Julle Vader in die hemel is lief vir al die mense, dit maak nie saak wie hulle is nie. So moet julle ook lief wees vir al die ander mense.”

MATTEUS 5:38-48 Die Boodskap (DB)

“Nog ’n bevel wat julle goed ken, is die volgende: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Oftewel: oortredings moet regverdig gestraf word. “Ek sê egter vandag vir julle: julle moenie mense wat julle sleg behandel probeer terugkry nie. As iemand jou deur die gesig klap om jou te verneder moet jy dit maar vat. Moenie terugslaan nie. En as iemand jou hof toe wil vat oor iets wat jy hom skuld, gee dit dadelik vir hom terug. Sluit ook sommer ’n groot geskenk daarby in om die vrede te bewaar. “As ’n soldaat na jou toe kom en jou beveel om sy rugsak ’n kilometer ver te dra, moet jy sommer uit jou eie aanbied om dit twee kilometer ver te dra. “Julle moet vrygewig wees. Deel julle besittings met mense wat julle vra om hulle te help. Moenie mense wegjaag as hulle iets by julle wil leen nie.” “Julle ken ook die ou opvatting: ‘Wees lief vir jou naaste. Haat jou vyand.’ “Wel, dit is nie waar nie. Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê. Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg. Dan leef julle regtig soos kinders van God. Want Hy doen goeie dinge vir almal. Hy laat die son skyn oor goeie mense en oor slegte mense. Hy laat dit ook reën oor goeie mense se grond en oor slegte mense se grond. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom, moet julle nie verwag om daarvoor ’n medalje vir goeie diens by God te kry nie. Almal doen dit tog, ook slegte mense wat nie in God glo nie. As julle net julle familie en vriende groet, het julle nog niks spesiaals gedoen nie. Selfs die grootste sondaars groet ook hulle vriende. “Julle moet soos julle hemelse Vader wees. Hy het almal hier op die aarde lief. As julle ook vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, doen julle presies wat die wet van julle vra. Dan stap julle in julle hemelse Vader se voetspore. Dan is julle net soos Hy!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid