Matteus 5:38-48

Matteus 5:38-48 AFR20

“Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand’. Maar Ek sê vir julle dat julle nie 'n slegte mens moet teengaan nie. Nee, as iemand jou op jou regterwang klap, draai ook die ander een vir hom. En as iemand jou voor die hof wil daag en jou onderkleed wil vat, gee hom ook die bokleed. En as iemand een myl van jou afdwing, loop twee myl met hom saam. Gee aan wie van jou iets vra, en moet die een wat van jou wil leen, nie wegwys nie. “Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die •hemele kan wees. Hy laat immers sy son opkom oor slegte én goeie mense en Hy laat dit reën oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers. As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, verdien julle dan enige beloning? Maak die •tollenaars nie ook maar so nie? En as julle slegs julle broers groet, wat doen julle meer? Maak die heidene nie ook maar so nie? “Wees dus volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

Video for Matteus 5:38-48