MATTEUS 5:21-38

MATTEUS 5:21-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Julle het gehoor dat daar aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. “En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe. “Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. •Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie. “Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna gegooi word. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna beland. “Daar is gesê, ‘Wie van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. “Verder het julle gehoor dat daar vir die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie 'n eed verbreek nie, maar jy moet jou geloftes aan die Here nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet hoegenaamd nie sweer nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank vir sy voete is; nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot Koning is. Jy moet ook nie by jou eie kop sweer nie, want jy kan nie een van jou hare wit of swart maak nie. Laat die woord ‘ja’ by julle werklik ‘ja’ wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose. “Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand’.

MATTEUS 5:21-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Julle het gehoor dat vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie. As jy moord pleeg, sal jy voor die regbank rekenskap moet gee.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat vir sy medemens kwaad bly, sal al klaar voor die regbank moet verantwoording doen. As jy vir iemand sê ‘jou gek’, sal jy jou voor die hoogste regbank moet verantwoord. En as jy vir iemand sê ‘jou onnosel’, sal jy jou in die hel moet verantwoord. “As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer. “Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom; anders gaan daardie persoon jou aan die regter oorhandig, en die regter oorhandig jou aan die hofbeampte en jy word in die tronk gegooi. “Ek verseker jou, jy gaan beslis nie daar uitkom voordat jy elke sent afbetaal het nie.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ’n wellustige oog na ’n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg. En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig. Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig.” “Daar is gesê: ‘Al wat ’n man nodig het om van sy vrou te skei is om aan haar ’n skeisertifikaat te oorhandig.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor huweliksontrou, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg. En elkeen wat met so ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” “Verder het julle gehoor dat daar vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie ’n vals eed aflê nie. Jy moet ’n eed wat jy voor die Here gesweer het, nakom.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet glad nie sweer nie. “As jy sê: ‘Ek sweer by die hemel,’ dan is dit nog steeds ’n heilige eed omdat die hemel God se troon is. As jy sê ‘by die aarde’, is dit heilig omdat die aarde ’n rusplek vir God se voet is. En as jy sê ‘by Jerusalem’, is dit heilig omdat Jerusalem die stad van God, die groot Koning, is. Moet selfs nie sê: ‘Ek sweer by my kop’ nie, want jy kan nie eers een haar daarvan wit of swart maak nie. “Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee. Enigiets meer as dit is uit die bose.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’

MATTEUS 5:21-38 Bybel vir almal (ABA)

“Julle weet die wette sê: ‘ Jy mag nie iemand vermoor nie. As jy iemand vermoor, dan sal die hof jou straf.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad word, moet dit weet: Die hof sal hom straf. En elkeen wat vir sy broer sê: Jy is 'n domkop, die Joodse Raad sal hom straf. En elkeen wat vir iemand sê: Jy is 'n dwaas, hy sal brand in die vuur van die hel. Wanneer jy jou offer na die altaar bring, en jy onthou daar dat jou broer kwaad is vir jou, moenie dan offer nie. Los jou offer daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer. Kom dan terug en bring jou offer vir God. Wanneer iemand jou hof toe wil vat, dan moet jy met hom vrede maak voordat julle by die hof kom. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou na die hof bring, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit. Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.” “Julle weet die wette sê: ‘ Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n ander vrou kyk en lus kry om by haar te slaap, het klaar in sy hart sonde gedoen en egbreuk gepleeg. As jou regter-oog jou laat sonde doen, ruk dit uit en gooi dit weg, want dan verloor jy net 'n oog en jou hele liggaam gaan nie hel toe nie. As jou regter-hand jou laat sonde doen, kap dit af en gooi dit weg, want dan verloor jy net 'n hand en dan sal jou hele liggaam nie hel toe gaan nie.” “Julle weet die wette sê: ‘ Elkeen wat van sy vrou skei, moet vir haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Wanneer iemand van sy vrou skei, en die vrou trou weer, dan pleeg sy egbreuk, en dan is dit die man se skuld. En elke man wat met 'n geskeide vrou trou, pleeg egbreuk. 'n Man mag net van sy vrou skei as sy seks gehad het met 'n ander man.” “Julle weet ook die wette sê: ‘ Jy moenie iets belowe wat jy nie wil doen nie,’ en ‘as jy vir die Here iets belowe het, dan moet jy dit doen.’ Maar Ek sê vir julle: Jy moet nooit iets belowe en sê die Here is die getuie nie. Julle moenie iets belowe en sê die hemel is die getuie nie, want die hemel is die troon van God. Julle moenie iets belowe en sê die aarde is die getuie nie, want die aarde is die plek waar God se voete rus. Julle moenie iets belowe en sê Jerusalem is die getuie nie, want Jerusalem is die stad van God, die Groot Koning. Jy moenie iets belowe en sê jy is self die getuie nie, want jy kan nie self een haar op jou kop wit of swart maak nie, jy kan nie die kleur verander nie. “Sê ‘ja’ wanneer julle ‘ja’ wil sê, en sê ‘nee’ wanneer julle ‘nee’ wil sê. Dit is die duiwel wat vir julle meer as dit laat sê.” “Julle weet die wette sê: ‘ As jy iemand se oog uitslaan, dan moet hy jou oog ook uitslaan. As jy iemand se tand uitslaan, dan moet hy jou tand ook uitslaan.’

MATTEUS 5:21-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur. As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie. Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste oortjie betaal het nie. Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar 'n skeibrief gee. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk. Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou. Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie — nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning; ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie. Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose. Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand.

MATTEUS 5:21-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur. “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe. “As iemand 'n regsaak teen jou begin, kom betyds tot 'n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.” “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand.’

MATTEUS 5:21-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Julle het gehoor dat daar van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie; en elkeen wat doodslaan, is in gevaar van die oordeel. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat sonder oorsaak vir sy broer kwaad is, in gevaar is vir die oordeel; en elkeen wat vir sy broer sê: Raka, sal in gevaar wees van die Raad; maar elkeen wat sê: Jou dwaas! sal in gevaar wees van hel vuur. Daarom, as jy jou gawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het; Laat jou gawe daar voor die altaar staan en gaan heen; word eers met jou broer versoen, en kom dan en offer jou gawe. Kom gou met jou teëstander saam, terwyl jy met hom op die pad is; dat die teëstander jou nie ooit aan die regter oorgee en die regter jou aan die offisier oorgee en jy in die gevangenis gewerp word nie. Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal sekerlik nie daarvandaan uitkom voordat jy die uiterste vergelding betaal het nie. Julle het gehoor dat daar van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. En as jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou weg; want dit is vir jou nuttig dat een van jou lede vergaan en nie dat jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou af weg; want dit is vir jou nuttig dat een van jou lede vergaan en nie dat jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. Daar is gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet vir haar 'n skeibrief gee. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe vir die oorsaak van hoerery, haar laat egbreuk pleeg; en elkeen wat met haar geskei is, pleeg egbreuk. Weereens, julle het gehoor dat daar deur hulle van ouds gesê is: Jy mag jouself nie sweer nie, maar jy moet jou eed aan die Here nakom. Maar Ek sê vir julle: Sweer glad nie; ook nie by die hemel nie; want dit is God se troon: Ook nie by die aarde nie; want dit is sy voetbank; ook nie by Jerusalem nie; want dit is die stad van die groot Koning. Jy mag ook nie by jou hoof sweer nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Maar laat julle kommunikasie wees: Ja, ja; Nee, nee, want alles wat meer is as dit, kom uit die kwaad. Julle het gehoor dat daar gesê is: 'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand.

MATTEUS 5:21-38 Die Boodskap (DB)

“Julle onthou mos dat die godsdienstige leiers aan julle ouers gesê het: ‘’n Mens mag nie moord pleeg nie. Alle moordenaars moet hof toe gesleep word en die doodstraf kry.’ “Maar Ek sê vir julle dat iemand wat vir sy medemens kwaad is al klaar ’n moordenaar is. So iemand behoort in die hof aangekla te word. Iemand wat sy medemens uitskel vir ’n gek moet selfs voor die hooggeregshof gedaag word. En iemand wat so ver gaan om sy medemens ’n idioot te noem moet in die vuur van die hel gaan brand. “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel: as jy na die tempel toe gaan om ’n offer aan God te bring en jy onthou skielik dat ’n vriend of ’n familielid van jou om die een of ander rede vir jou kwaad is, moet jy jou offer net daar laat staan. Gaan dadelik terug en maak reg wat verkeerd is tussen julle. Daarna kan jy terugkom en jou offer aan God bring. “Nog ’n voorbeeld: as iemand jou hof toe wil vat, moet jy gou-gou vrede gaan maak. Moenie eers wag totdat dinge handuit ruk en jy later in die hof moet verskyn, of totdat die polisie jou kom vang en jy in die tronk beland nie. Nee, gaan maak dinge tussen julle betyds reg. Anders moet jy dalk ’n lang tyd in die tronk gaan sit.” “Julle ken ook die volgende wet: ‘Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat slegte begeertes reeds in ’n mens se kop begin, nie in dit wat ’n mens doen nie. As jy byvoorbeeld op so ’n manier na ’n ander vrou kyk dat jy haar in jou gedagtes seksueel begeer, het jy eintlik al klaar by haar geslaap. En dan het jy God se voorskrif oortree. “Moenie dink dis maklik om te doen wat God vra nie. Nee, as jy wil doen wat Hy sê, is dit net so moeilik soos om een van jou ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou oog uitpluk as jy agterkom dat jy op ’n verkeerde manier na iemand anders kyk. Leef eerder met net een oog, al is dit hoe swaar. Al daardie verkeerde gedagtes gaan in elk geval net maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde oë jou daar? “Kap dadelik jou hand af as jy agterkom dat jy dinge doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer met net een hand, hoe moeilik dit ook al is, as om te doen wat jy wil. Onthou: sulke verkeerde dade gaan nog maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde hande jou in die hel?” “Nog een van die bevele wat julle voorouers gereeld moes hoor, is die volgende: ‘As jy van jou vrou wil skei, moet jy maar net sorg dat jy al die wetlike prosedures nakom. Sorg dat jy ’n wettige skeibrief aan haar gee.’ “Ek sê egter vandag vir julle: julle mag glad nie skei nie. Dis teen God se wil. Jy mag net van jou vrou skei as sy by iemand anders geslaap het. As jy oor enige ander rede van haar skei, maak jy dat jou vrou owerspel pleeg as sy later weer trou. Omdat haar eerste huwelik nog steeds in God se oë voortgaan, is sy en haar nuwe man dan skuldig aan egbreuk.” “Julle voorouers moes gereeld uitsprake aanhoor soos: ‘Jy mag nooit ’n belofte verbreek wat jy voor God gemaak het nie. Jy moet al jou beloftes wat jy aan die Here gemaak het, nakom.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop. Onthou: Hy is in die hemel, maar ook hier op die aarde. En Hy hoor elke woord wat julle sê; ook al daardie vinnige beloftes wat julle in sy Naam aflê om meer gesag aan julle eie woorde te gee. Hou dadelik op daarmee! “Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Dit kan tog niks aan julle omstandighede verander nie. Julle kan nie eens ’n enkele haar op julle kop se kleur verander deur hierdie soort beloftes nie. Sê net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. As julle enigiets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid, doen julle verkeerd. Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.” “Nog ’n bevel wat julle goed ken, is die volgende: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Oftewel: oortredings moet regverdig gestraf word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid