Matteus 5:21-38

Matteus 5:21-38 DB

“Julle onthou mos dat die godsdienstige leiers aan julle ouers gesê het: ‘’n Mens mag nie moord pleeg nie. Alle moordenaars moet hof toe gesleep word en die doodstraf kry.’ “Maar Ek sê vir julle dat iemand wat vir sy medemens kwaad is al klaar ’n moordenaar is. So iemand behoort in die hof aangekla te word. Iemand wat sy medemens uitskel vir ’n gek moet selfs voor die hooggeregshof gedaag word. En iemand wat so ver gaan om sy medemens ’n idioot te noem moet in die vuur van die hel gaan brand. “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel: as jy na die tempel toe gaan om ’n offer aan God te bring en jy onthou skielik dat ’n vriend of ’n familielid van jou om die een of ander rede vir jou kwaad is, moet jy jou offer net daar laat staan. Gaan dadelik terug en maak reg wat verkeerd is tussen julle. Daarna kan jy terugkom en jou offer aan God bring. “Nog ’n voorbeeld: as iemand jou hof toe wil vat, moet jy gou-gou vrede gaan maak. Moenie eers wag totdat dinge handuit ruk en jy later in die hof moet verskyn, of totdat die polisie jou kom vang en jy in die tronk beland nie. Nee, gaan maak dinge tussen julle betyds reg. Anders moet jy dalk ’n lang tyd in die tronk gaan sit.” “Julle ken ook die volgende wet: ‘Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat slegte begeertes reeds in ’n mens se kop begin, nie in dit wat ’n mens doen nie. As jy byvoorbeeld op so ’n manier na ’n ander vrou kyk dat jy haar in jou gedagtes seksueel begeer, het jy eintlik al klaar by haar geslaap. En dan het jy God se voorskrif oortree. “Moenie dink dis maklik om te doen wat God vra nie. Nee, as jy wil doen wat Hy sê, is dit net so moeilik soos om een van jou ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou oog uitpluk as jy agterkom dat jy op ’n verkeerde manier na iemand anders kyk. Leef eerder met net een oog, al is dit hoe swaar. Al daardie verkeerde gedagtes gaan in elk geval net maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde oë jou daar? “Kap dadelik jou hand af as jy agterkom dat jy dinge doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer met net een hand, hoe moeilik dit ook al is, as om te doen wat jy wil. Onthou: sulke verkeerde dade gaan nog maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde hande jou in die hel?” “Nog een van die bevele wat julle voorouers gereeld moes hoor, is die volgende: ‘As jy van jou vrou wil skei, moet jy maar net sorg dat jy al die wetlike prosedures nakom. Sorg dat jy ’n wettige skeibrief aan haar gee.’ “Ek sê egter vandag vir julle: julle mag glad nie skei nie. Dis teen God se wil. Jy mag net van jou vrou skei as sy by iemand anders geslaap het. As jy oor enige ander rede van haar skei, maak jy dat jou vrou owerspel pleeg as sy later weer trou. Omdat haar eerste huwelik nog steeds in God se oë voortgaan, is sy en haar nuwe man dan skuldig aan egbreuk.” “Julle voorouers moes gereeld uitsprake aanhoor soos: ‘Jy mag nooit ’n belofte verbreek wat jy voor God gemaak het nie. Jy moet al jou beloftes wat jy aan die Here gemaak het, nakom.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop. Onthou: Hy is in die hemel, maar ook hier op die aarde. En Hy hoor elke woord wat julle sê; ook al daardie vinnige beloftes wat julle in sy Naam aflê om meer gesag aan julle eie woorde te gee. Hou dadelik op daarmee! “Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Dit kan tog niks aan julle omstandighede verander nie. Julle kan nie eens ’n enkele haar op julle kop se kleur verander deur hierdie soort beloftes nie. Sê net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. As julle enigiets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid, doen julle verkeerd. Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.” “Nog ’n bevel wat julle goed ken, is die volgende: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Oftewel: oortredings moet regverdig gestraf word.