MATTEUS 5:13-20

MATTEUS 5:13-20 Bybel vir almal (ABA)

“Julle is vir die aarde soos sout in kos. Maar as sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie. Daardie sout beteken niks. Mense gooi dit buite weg en hulle trap daarop. “Julle is vir die wêreld soos lig wat skyn. As 'n stad bo-op 'n berg lê, dan kan al die mense die stad sien. So steek 'n mens ook nie 'n lamp op en maak dit dan toe met 'n emmer nie. Nee, 'n mens sit 'n lamp op die lampstaander, en die lig skyn sodat almal in die huis kan sien. So moet die mense ook julle lig kan sien. Hulle moet sien julle lewe reg. Dan sal hulle ook julle Vader prys wat in die hemel is.” “Moenie dink Ek het gekom om te sê die Wette van Moses en die boeke van die profete is nie meer belangrik nie. Ek het nie gekom om te sê dit is nie belangrik nie, Ek het gekom om te wys wat Moses en die profete bedoel het. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die hemel en die aarde sal verdwyn, maar niks in die Wette van Moses sal verdwyn nie, nie die kleinste letter of letter-strepie nie. Alles wat daar geskryf is, moet eers gebeur. Iemand dink miskien dit is nie nodig om gehoorsaam te wees aan een van die onbelangrikste van hierdie wette nie, en hy leer vir ander mense ook so. Dan sal hy niks beteken nie by God, die Koning wat in die hemel is. Maar iemand wat gehoorsaam is aan die wette van God en wat vir ander mense ook so leer, sal belangrik wees by God, die Koning wat in die hemel is. Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle moet gehoorsaam wees en doen wat God wil hê, meer gehoorsaam as die skrifgeleerdes en die Fariseërs. As julle dit nie doen nie, dan sal julle nie by God kan kom nie, by God, die Koning wat in die hemel is.”

MATTEUS 5:13-20 Die Boodskap (DB)

“Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi. “Julle is ’n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo. “Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ’n stad wat hoog bo-op ’n berg gebou is. “Geen mens sit ’n lig aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Nee, ’n lig word in die middel van ’n vertrek neergesit sodat almal kan sien wat om hulle aangaan. Dit is presies wat julle ook moet doen. Moenie iewers in die donker gaan wegkruip nie. Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.” “Moenie dink Ek is hier om die wet van Moses en die profete af te skaf nie. Glad nie! Ek is juis hier sodat julle presies kan weet hoe julle die wet moet gehoorsaam. Ek sê weer: Ek kom nie om God se wet tot niet te maak nie. Dit sal altyd bly voortbestaan, tot aan die einde van die tyd; elke stukkie daarvan. So lank as wat hier nog mense op aarde is en daar nog sterre in die hemelruim is, sal die wet van God bly bestaan. So belangrik is dit. “As jy dit sou waag om een van die voorskrifte in die wet te ignoreer, hoe onbenullig dit ook al is, is jy in groot moeilikheid by God. Jy is nog dieper in die moeilikheid as jy ander mense leer om hierdie voorskrifte te ignoreer. As jy sulke dinge doen, moet jy nie dink dat daar vir jou ’n plek in God se nuwe wêreld sal wees nie. Aan die ander kant: as jy alles doen wat die wet sê en ook ander mense leer om presies dieselfde as jy te doen, sal jy definitief ’n plek kry in God se nuwe wêreld. “Maar nou moet julle baie mooi luister. Julle moenie die fout maak om die wet van God op dieselfde manier te probeer gehoorsaam as julle godsdienstige leiers nie. Nee, julle sal die wet nog baie strenger as hulle moet gehoorsaam as julle ’n plek wil hê in God se nuwe wêreld. Kom Ek gee julle ’n paar voorbeelde hoe julle dit moet doen.”

MATTEUS 5:13-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word. “Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie! ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis. “Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!” “Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ’n streep deur die wet of die profete te trek nie. Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is. “As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in sy koninkryk. “Want Ek sê vir julle, as julle nie die skrifkenners en die Fariseërs oortref in hoe julle God se wil uitleef nie, sal julle beslis nie toegelaat word in sy koninkryk nie.”

MATTEUS 5:13-20

MATTEUS 5:13-20 AFR83MATTEUS 5:13-20 AFR83MATTEUS 5:13-20 AFR83MATTEUS 5:13-20 AFR83MATTEUS 5:13-20 AFR83