MATTEUS 4:12-17
MATTEUS 4:12-17 Bybel vir almal (ABA)
Koning Herodes het vir Johannes die Doper laat vang en hy het Johannes in die tronk toegesluit. Toe Jesus dit hoor, het Hy na die provinsie Galilea gegaan. Jesus het weggegaan van die stad Nasaret waar Hy eers gewoon het. Hy het gaan woon in die stad Kapernaum, by die See van Galilea. Kapernaum was in die deel van die land waar die stamme Sebulon en Naftali voorheen gewoon het. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het: “ Land van Sebulon en Naftali, langs die pad na die See van Galilea, naby die Jordaan-rivier, Galilea, land van mense wat nie Jode is nie. Julle is die volk wat in die donker lewe, maar julle het 'n groot lig gesien. Julle wat woon in die skaduwee van die dood, julle het gesien dit word lig.” Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Julle moet nou begin lewe soos God wil hê, want God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet.”
MATTEUS 4:12-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Jesus hoor dat Johannes in die gevangenis gesit was, het Hy na Galiléa teruggegaan. En Hy het Násaret verlaat en gaan woon in Kapérnaüm aan die see, in die gebied van Sébulon en Náftali, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene — die volk wat in duisternis sit, het 'n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het 'n lig opgegaan. Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
MATTEUS 4:12-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Jy, gebied van Sebulon en gebied van Naftali, aan die seekant en oorkant die Jordaan, Galilea waar die heidene woon! Die volk wat in duisternis woon, het 'n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan.” Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
MATTEUS 4:12-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Jesus hoor dat Johannes in hegtenis geneem is, het Hy na Galilea teruggekeer. Hy het Nasaret verlaat en in Kapernaum by die see gaan woon, in die gebied van Sebulon en Naftali, sodat die woorde vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Land van Sebulon en land van Naftali, die pad langs die see, oorkant die Jordaan, Galilea van die heidene: Die volk wat in duisternis woon het 'n groot lig gesien; vir hulle wat in die gebied en die skadu van die dood leef, het 'n lig opgegaan.” Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die •koninkryk van die hemele is op hande.”
MATTEUS 4:12-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Jesus hoor dat Johannes in die tronk gewerp is, het Hy na Galiléa vertrek; En toe hy Nasaret verlaat het, het hy gekom en gaan woon in Kapernaum, wat aan die seekus is, in die grense van Sabulon en Neftali. Sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gespreek is deur te sê: Die land Sabulon en die land van Nefthalim, langs die see, anderkant die Jordaan, Galilea van die heidene; Die volk wat in die duisternis gesit het, het groot lig gesien; en vir die wat in die streek en doodskaduwee sit, het lig opgegaan. Van toe af het Jesus begin preek en sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
MATTEUS 4:12-17 Die Boodskap (DB)
Later, nadat Jesus uit die woestyn teruggekeer het, het Hy gehoor dat Johannes die Doper in die tronk gegooi is. Hy het toe teruggegaan Galilea toe. Jesus het egter besluit om nie langer in Nasaret te bly nie. Sy nuwe woonplek was Kapernaum. Dit is by die See van Galilea, in die omgewing van Sebulon en Naftali. So het die profetiese woorde van Jesaja waar geword toe hy gesê het: “Sebulon en Naftali, wat op pad na die see toe lê, daar oorkant die Jordaan, daar by julle in Galilea bly baie volke. Maar hulle almal leef in die donker. Nou het hulle egter ’n groot lig gesien! Hulle bly in ’n land waar die dood se skaduwee oor almal val, maar nou het die son oor hulle opgekom.” Van toe af het Jesus ook begin preek. Hy het vir die mense gesê: “Julle moet julle lewe radikaal verander, want God se nuwe wêreld is hier!”
MATTEUS 4:12-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes gearresteer het, het Hy Judea verlaat en na Galilea teruggekeer. Hy het uit Nasaret weggetrek en gaan woon in Kapernaum aan die See van Galilea, in die gebied van Sebulon en Naftali. So is die woord van die profeet Jesaja vervul: “Die land van Sebulon en die land van Naftali langs die See van Galilea en die Transjordaan: Galilea waar so baie nie-Jode woon – die volk wat in die donker sit, het ’n helder lig gesien. En vir dié in die skemerland van die dood – vir hulle het ’n lig opgegaan.” Van toe af het Jesus begin om God se boodskap aan te kondig met die woorde: “Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!”